Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Pastoor glo voorbok in ‘boendoehof-moord’

’n Pastoor was glo een van die voorbokke toe gemeenskaplede in Bloemfontein ’n bendelid in ’n sogenaamde boendoehof-aanval lewend verbrand het.

Paseka “Mpopo” Mokoena (20), ’n lid van die Born to Kill-bende (BTK), het Woensdag voor streeklanddros Marina Voges getuig hoe bang hy die aand van 23 Augustus verlede jaar was. Hy was vreesbevange toe ontstoke inwoners van die woonbuurte Caleb Motshabi en JB Mafora op sy bende toegesak het.

Ongeveer 100 mense het hom en sy groep vriende dié aand in sy ouerhuis in JB Mafora omsingel.

Sy pastoor, Petrus Tsholo (64), en vriende van sy ouers, onder wie Mohance Lekhoeneha (42), Michael Mogosi (58) en Ralentswe Hlopo (46), was onder die dreigende groep mense.

Selfs Thabang Ruiters (21), wat saam met sy broer op skool was, was een van hulle.

Dié vyf aangeklaagdes ontken enige betrokkenheid by dié voorval.

Mokoena het getuig pastoor Tsholo is die een wat gesê het die gemeenskap moet hom aan die brand steek. “Hy het gesê ek is ’n dief en ’n inbreker.”

Mokoena het gesê hy en twee ander bendelede kon daarin slaag om weg te kom, maar sy vriend Thabang Sello (19) was nie so gelukkig nie.

Die inwoners het Sello gevang en erg aangerand. Hulle het hom toe in ’n oop stuk veld aan die brand gesteek.

Toe hy hoor dat Sello doodgemaak is, het hy na Botshabelo gevlug.

In kruisondervraging deur Matieho Tsiloane, namens die vyf, het Mokoena erken dat hy tans op ’n aanklag van moord verhoorafwagtend en in aanhouding is.

Tsiloane: “Jy is in aanhouding omdat jy iemand met die naam Tshepo, wat by die aanval op julle betrokke was, die volgende dag uit wraak vermoor het.”

Mokoena het gesê met sy inhegtenisneming het hy eers van dié moord bewus geword.

Die verhoor is tot Julie uitgestel.

Danie van den Heever kla aan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.