Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vermoorde konstabel 'verdien meer respek', sê weduwee

Niks sal ooit haar man terugbring nie, maar hy verdien meer respek vir alles wat hy as polisielid vir die gemeenskap van Polokwane gedoen het.

Konst. Pieter de Lange en sy vrou, Nelmarié. Foto: Facebook

So sê Nelmarie de Lange, weduwee van konst. Pieter de Lange (30) wat in November verlede jaar in Polokwane koelbloedig doodgeskiet is terwyl hy vermeende dwelmhandelaars in hegtenis geneem het.

“Hy het gelewe vir sy werk en altyd die ekstra myl gestap om verdagtes in hegtenis te neem. Nou voel dit asof niemand meer vir hom omgee nie,” sê Nelmarie.

Sy is net soos haar skoonpa, oudkol. Hannes de Lange, kwaad omdat die polisie Maandag en Dinsdag nie die familie ondersteun het toe Pieter se drie vermeende moordenaars in die landdroshof in Polokwane om borgtog aansoek gedoen het nie.

“Hulle wil borgtog hê sodat hulle na hul kinders kan omsien, maar ons kinders het nie meer ’n pa om na hulle om te sien nie. Jou kant van die bed is elke aand leeg en niemand gee om nie,” sê Nelmarié.

Pieter is in Bulawayostraat in Ladanna doodgeskiet.

Nelmarié sê haar en Pieter se drie kinders, JJ (11), Christiaan (9) en Mieke (7), kry swaar sonder hul pa.

“My kinders het die een mens verloor wat hulle liewer as die lewe self gehad het.”

Konst. Pieter de Lange (30) is in November in Polokwane doodgeskiet.

Oudkol. De Lange was 41 jaar lank ’n polisielid en bevelvoerder van die polisie se speurtak in Polokwane. Hy is ontsteld omdat lt.genl. Nneke Ledwaba, polisiehoof in Limpopo, Maandag nie die borgtogaansoek van sy seun se drie vermeende moordenaars bygewoon het nie, al was hy in die landdroshof in Polokwane.

Konst. Pieter de Lange, sy vrou Nelmarié en hul drie kinders, Christiaan, Mieke en JJ. Foto: FACEBOOK

Phuti William Mehlape (31) is in Januarie deur die Valke in ’n huis in Seshego buite Polokwane in hegtenis geneem. Peter Mswazi (30) en Nzamo Ndlandhla (29) is kort daarna in Soshanguve buite Pretoria in hegtenis geneem.

Al drie het in hul borgtogaansoek gesê hulle is die enigste broodwinners en moet na hul minderjarige kinders omsien.

Mehlape het ’n hangende saak van ’n rooftog en ’n moord teen hom in Mankweng, sowat 30 km buite Polokwane.

Mswazi en Ndlandhla het elk verskeie hangende sake teen hulle, wat gewapende roof, die onwettige besit van ’n vuurwapen, die onwettige besit van ammunisie, motorkapings en moord (in Soshanguve) insluit.

Ndlandhla is in 2009 skuldig bevind aan poging tot moord. Hy het vier jaar tronkstraf uitgedien en is in 2013 vrygelaat.

Landdros Plakkies Maharaj het die borgtogaansoek tot 25 Maart uitgestel sodat die ondersoekbeampte kan getuig. Die staat staan borgtog teen.

Meer oor:  Polokwane  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.