Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Voormalige taakspanlid het 3 weke om bewyse te lewer

Alicia Beeming, voormalige lid van die gespesialiseerde bende-taakspan in Port Elizabeth wat aan regsverydeling skuldig bevind is nadat sy ’n liefdesverhouding met ’n gesoekte bendelid aangeknoop het, is ’n laaste drie weke gegee om bewyse ter versagting van vonnis aan die hof te gee.

Landdros Onke Myataza het Woensdag gesê hy beoog om die saak, wat nou al langer as twee jaar in die hof draai, op 27 Februarie af te handel.

Alicia Beeming, voormalige lid van die polisie se gespesialiseer bende-taakspan in Port Elizabeth. Foto: Argief

Beeming het reeds in Augustus 2017 skuld op ’n aanklag van regsverydeling beken, maar die vonnisverrigtinge sloer sedertdien.

Terwyl Hennie Bence, Beeming se prokureur, Woensdag bewyse ter versagting vir sy kliënt sou lewer, het die hof egter gehoor hy onttrek hom aan die saak. Bence het aan Myataza gesê hy kry nie samewerking óf instruksies van Beeming nie.

Bence sê in opdrag van Beeming was hy veronderstel om sekere bewerings wat deur lt.kol. Mike Grobler, voormalige bevelvoerder van die eenheid, gemaak is, te ondersoek.

Grobler het namens die staat ter verswaring van getuienis getuig en gesê Beeming se optrede het daartoe gelei dat verskeie hofsake teen vermeende bendelede laat vaar moes word en dat die gemeenskap se vertroue in die polisie geskend is.

Beeming het aan die hof gesê sy het weens “omstandighede” weens haar gesondheid nie haar samewerking aan Bence gegee nie.

Hoewel Myataza vir Bence gevra het om die saak met Beeming deur te sien, het Bence gesê hy kan nie, aangesien daar ’n breuk in hul vertrouensverhouding ontstaan het.

As lid van die eenheid het Beeming geweet Jordaan word in verband met ’n saak van poging tot moord gesoek, maar sy het deurgaans versuim om die bevelvoerder van die eenheid, Grobler, van Jordaan se bewegings in te lig.

Bence het na “misleidende vertoë” verwys wat hy van Beeming ontvang het en gesê hul verhouding het ’n punt bereik waar dit vir hom om etiese redes nie meer moontlik is om haar verder te verdedig nie.

Bence het egter nie verder hieroor uitgebrei nie.

Myataza het hierna Bence se versoek aanvaar, maar Beeming gewaarsku hy stel die saak vir die laaste keer uit.

Beeming is aangesê om Woensdag reeds ’n nuwe prokureur aan te stel en sodra die regsverteenwoordiger die hofrekord deurgelees het, moet hulle met Myataza vergader sodat die saak met haar volgende hofverskyning afgehandel kan word.

Beeming, wat tussen April 2014 en Maart 2015 ’n lid van die bende-taakspan was, is in hegtenis geneem nadat haar verhouding met Hans Jordaan, ’n vermeende bendelid, tydens sy borgtogaansoek op die lappe gekom het.

As lid van die eenheid het Beeming geweet Jordaan word in verband met ’n saak van poging tot moord gesoek, maar sy het deurgaans versuim om die bevelvoerder van die eenheid, Grobler, van Jordaan se bewegings in te lig.

Meer oor:  Alicia Beeming  |  Port Elizabeth  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.