Drie gewapende rowers is elk tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis nadat die vasgebinde werknemers van ’n drankwinkel in Kimberley in April 2018 ’n veiligheidsmaatskappy ontbied en die skurke op heterdaad betrap is.
Intussen is die polisie op soek na vier mans wat op 11 Maart vanjaar ’n winkel in Groblershoop in die Noord-Kaap beroof het.

Die polisie is op soek na dié man wat moontlik inligting het oor ’n rooftog by ’n winkel in Groblershoop in die Noord-Kaap.
In die 2018-saak is Busi Dlamini, Joseph Kgantsile Molapo en Bethuel Mhlang vroeër vandeesmaand gevonnis nadat hulle aan sakeroof skuldig bevind is.
Die voorval het op 11 April 2018 omstreeks 19:00 in Du Toitspanweg, een van Kimberley se besigste strate, gebeur.
Kapt. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê die drie was besig om die Madeira-drankwinkel te beroof toe hulle betrap is.
“Hulle het die winkel ingekom en die twee vrouewerknemers vasgebind. Hulle het by die agterdeur met hul buit, wat uit ’n aansienlike bedrag geld, sigarette en duur alkohol bestaan het, probeer vlug.
“Die vasgebinde werknemers egter daarin geslaag om Top Security Services (TSS) te ontbied, wat op sy beurt die polisie in kennis gestel het.
“Die blitspatrollie en misdaadvoorkomingseenheid het die veiligheidsbeamptes gehelp om die verdagtes in die winkel in hegtenis te neem.
“ ’n Swart sak met die buit is in hul besit gevind, asook ’n panga waarmee die werknemers gedreig is.”
Die polisiebestuur het konst. Billy Frans met sy deeglike ondersoek gelukgewens.
Kock sê die polisie soek intussen na inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van vier mans wat ’n winkel in Groblershoop beroof het.
“Die gewapende mans het die winkel twee weke gelede op 11 Maart omstreeks 22:30 binnegekom. Die eienaars is gedreig, waarna die rowers met kontant uit die winkel in ’n wit Corolla Toyota-voertuig gevlug het.”
Die polisie het ’n foto van ’n man uitgereik wat hulle moontlik met die ondersoek kan bystaan. Volgens Kock versoek die polisie die publiek se hulp oor die man se bewegings.
- Enigeen met inligting moet lt.kol. Doggie Magugu by 082 469 0578 bel.