Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Familie van 2 jong mense ‘flenters’ ná hul skietdood

Gebroke. Flenters.

Dit is die naaste beskrywing van die familie van Johanco Fleischman (19) en Jessica Kuhn (23) nadat die twee jong mense Sondag vermoor is toe hul bakkie sonder brandstof gaan staan het.

Jessica KuhnFoto: Verskaf

Dave Fleischman, Johanco se oom, onthou dat die man wat vir die twee diesel gevat het, hom nog gebel het om te sê hy is binne vyf minute by die “kinders”, hy soek net omdraaiplek.

“En toe bel Johan en sê hulle is geskiet. Hy het op die toneel afgekom. Hy het gesê die meisietjie is dood. Johanco leef nog.

“Minute later bel hy weer, terwyl ek soontoe jaag, en sê Johanco is ook weg.”

Johan Vosloo werk al jare saam met die Fleischman-familie.

Hy het Johanco leer bestuur, wat in ’n “uitstekende vragmotorbestuurder” geword het.

Vosloo en Dave is vermoedelik die laaste twee mense met wie Johanco en Kuhn kontak gehad het, voordat drie mans hulle doodgeskiet het.

Veertien patroondoppies is op die toneel op die Putfontein-pad naby Benoni, net van die N12 af, opgetel.

Familielede sê Johanco se ma woon op ’n hoewe aangrensend tot sy oom s’n in Petit, naby Benoni.

Hy was soos ’n eie seun in sy oom Dave se huis.

Kuhn het vroeër as kassiere by Johanco se oupa Willie se slaghuis gewerk.

Sy het onlangs die geleentheid gekry om verder te studeer en by ’n kleuterskool te werk.

Minute later bel hy weer, terwyl ek soontoe jaag, en sê Johanco is ook weg.
Dave Fleischman

Dis by die slaghuis waar Johanco haar ontmoet het.

Wat begin het as ’n subtiele “loer-loer” na mekaar, het in Februarie ’n amptelike verhouding geword.

Sondag was Johanco weer by Dave. Toe ry hy en Kuhn na die plaas in Kendal, duskant Delmas, om twee werkers op te laai en na die slaghuis in Kemptonpark te neem.

Net voor Benoni het die bakkie sonder diesel gaan staan.

“Die bakkie se brandstofmeter werk nie. Dit staan nou nog op kwart. Maar die diesel wás klaar.

“Johanco het Johan gebel om diesel te bring. Toe bel hy my en sê hulle gaan ’n bietjie laat wees, want hulle staan sonder diesel,” vertel Dave.

Vosloo moes eers dieseldromme kry.

Hy het gedink die twee staan óp die N12 self. Hy het twee maal verbygery, onwetend dat hulle bo-op die brug op die Putfontein-pad staan.

Een van die werkers het afgeloop na die grootpad en vir Vosloo beduie waar hulle gestrand staan, toe dié weer verbyry.

“Johan het my gebel en gesê hy het hulle gekry, hy gaan net omdraaiplek soek.

“En . . . tien minute later is alles verby. Johanco het nog geleef. Hy het nie gepraat nie, maar hy het vir Johan gekyk. Daardie man (Vosloo) is stukkend. Stukkend.

“Ons is almal gebroke,” sê Dave.

Hy glimlag egter as hy Johanco beskryf.

“Jis, daai kind was so happy-go-lucky. Hy smile net die heeltyd. As dinge ’n bietjie erg raak, klim hy in die bakkie en gaan vang vis. Hy was net nooit kwaad nie.

Jis, daai kind was so happy-go-lucky. Hy smile net die heeltyd. As dinge ’n bietjie erg raak, klim hy in die bakkie en gaan vang vis. Hy was net nooit kwaad nie.
Dave Fleischman

“Hy het soveel vriende van alle rasse gehad. Hy sou van ’n trok afklim en saam met die werkers sit en eet,” vertel sy oom.

Albei “kinders”, sê hy, was so ordentlik en hardwerkend.

Kuhn se oom, Quentin Vorster, beskryf haar as ’n “baie reguit, spontane en lawwe mens wat ’n ding sou sê soos dit is”.

Haar liefde was vir kinders.

“Sy sou altyd afbuig na hul hoogte voordat sy met hulle praat. Haar kleuterskoolkinders was baie lief vir haar en huil verskriklik oor haar (dood),” vertel hy.

Sy was die enigste dogter en middelkind tussen twee broers.

* Johanco se begrafnis is Vrydag om 12:00 uit die NG kerk Kemptonpark-Oos op die hoek van High- en Eurekastraat.

Kuhn se diens is Saterdag om 13:00 uit die Ou Apostoliese Kerk in Farrarmere, Benoni.

Die families het Overvaal Stereo 96.1 bedank vir hul hulp met die begrafnisreëlings wat tussendeur hul trauma gemaak moes word.

* Mense met inligting kan hul naaste polisiekantoor, die privaat speurder Mike Bolhuis by 082 447 6116 of Vince Harris, wat deel is van die ondersoekspan, by 082 673 1830 bel.

Meer oor:  Jessica Kuhn  |  Johanco Fleischman  |  Benoni  |  Skietery  |  Skiet  |  N12
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.