Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Plet-bedrywe loop deur onder inbrake tydens oproer

22 sakeondernemings in Plettenbergbaai se nywerheidsgebied in die Suid-Kaap het blykbaar onder inbrekers en plunderaars deurgeloop tydens verlede week se oproer in die dorp.

Die oproer het verlede Dinsdagaand in die omgewing van die N2 uitgebreek. Die N2 was tot verlede Saterdagoggend gesluit.

Na verneem word het minstens 22 private ondernemings in die nywerheidsgebied onder vandale en inbrekers deurgeloop. Kantore is heeltemal verwoes en rekenaars is onder meer gesteel. Sommige ondernemings het veiligheidsdienste van elders gehuur om hul persele op te pas.

Van die ondernemings wat deurgeloop het sluit in die Spotlight Nightclub, ’n gewilde kuierplek in die nywerheidsgebied, wat verlede Donderdag geplunder is, het die Bitou-munisipaliteit vroeër in ’n verklaring gesê.

Munisipale infrastruktuur is ook beskadig, maar daar is nog nie ’n finale berekening van die skade nie, sê James Sijama van die Bitou-munisipaliteit se kommunikasie-afdeling by navraag. “Ons wag nog vir terugvoering, maar dit beloop waarskynlik miljoene rande.”

Roger Davis van die dierewelsynsorganisasie Plettenberg Bay Animal Welfare Society (Paws) se liefdadigheidswinkel in die nywerheidsgebied sê by navraag daar is verlede Saterdag by die winkel ingebreek.

Hy het om 03:15 ’n oproep van die veiligheidsmaatskappy gekry oor verskeie alarms wat by die winkel afgaan. Niks kon egter gedoen word nie omdat niemand toegelaat is om die gebied binne te gaan nie.

Hy sê die winkel het verliese van tussen R15 000 en R20 000 gely. Hulle moet ook nog kyk hoe hulle vandeesmaand se huur gaan betaal. Onder die items wat gesteel is, is die winkel se kasregister. “Ons was nog gelukkig. Daar is ander ondernemings wat heeltemal leeggedra is.”

Hy sê hy het 6 000 ure van sy tyd en kundigheid aan die winkel bestee. “Dis ’n hartseer situasie. Ons wil die gemeenskap en natuurlik die diere help. Die winkel is afhanklik van mense wat ons vanuit die dorpsgebied besoek, maar nou is hulle te bang om die nywerheidsgebied binne te kom.”

Volgens Davis sal hulle graag ’n perseel in die dorpsgebied wil bekom “maar ons kan dit nie bekostig nie”.

Betogers verskyn in hof

33 mense wat in verband met die gewelddadige betogings in hegtenis geneem is, het Maandag in drie verskillende sake in die plaaslike landdroshof verskyn, het die polisie vandeesweek bekend gemaak.

Sewe van die beskuldigdes, wat op aanklagte van openbare geweld en huisbraak teregstaan, bly tot hul volgende verskyning op 2 Augustus in aanhouding wanneer hulle om borgtog sal aansoek doen.

Altesaam 19 ander wat op aanklagte van openbare geweld teregstaan, is reeds op borgtog van R1 000 elk vrygelaat. Hulle sal weer op 24 Julie verskyn.

Nog sewe, wat in Kwanokuthula op klagte van huisbraak en diefstal in hegtenis geneem is, is op waarskuwing vrygelaat en sal weer op 14 Augustus in die landdroshof in Plettenbergbaai verskyn.

Die polisie het vroeër gesê dat 81 mense aanvanklik gedurende die oproer in hegtenis geneem is. Baie van die verdagtes is vrygelaat weens ’n gebrek aan getuienis in dié stadium, maar kan weer later in hegtenis geneem word.

Meer oor:  Oproer  |  Plettenbergbaai
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.