Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisie wil nie sê waar tieners is ná moord

Die polisie in Polokwane wil nie sê of die tieners wat weens die moord op Thoriso Themane (28) aangekla is in ’n plek van veiligheid aangehou word of in die toesig van hul ouers vrygelaat is nie.

Makoma Makhurupetje, LUR vir veiligheid in Limpopo, het Donderdag buite die landdroshof in Polokwane gesê sy “is nie bereid om dit bekend te maak nie”.

Dít kom ná dreigemente van die gemeenskap van Flora Park dat die minderjariges nie veilig sal wees as hulle in die sorg van hul ouers vrygelaat word nie.

Thoriso Themane is Saterdag in 'n park in Polokwane vermoor. Foto: FACEBOOK

Die polisie het Donderdagoggend ’n sesde verdagte in hegtenis geneem, maar Mashudu Malabi-Dzhangi, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), sê dié tiener is nie aangekla nie en vrygelaat.

Die vyf tieners wat teregstaan op Themane se moord is almal tussen 14 en 16 jaar oud.

Een van die leerlinge se pa is ’n afgetrede polisielid. Die kind is Maandag by die Capricorn High School in hegtenis geneem. Hy het in sy skoolklere verskyn in ’n video waarin hy sê “ek weet my pa is onaantasbaar”.

Dit was nadat iemand vir hom gevra het of hy tevrede voel omdat hy “ ’n man doodgemaak het”.

Nog ’n leerling van die Capricorn High School is Dinsdag in hegtenis geneem, asook ’n leerling van die Flora Park Comprehensive School, een van die Hoër Tegniese Skool (HTS) Tom Naudé en een wat by die Polokwane Technology Institute studeer.

Die vyf tieners het Donderdag agter geslote deure in die landdroshof in Polokwane verskyn omdat hulle minderjarig is. Die media is nie eens in die hofgebou toegelaat nie.

’n Leë medisynebottel in die park in Polokwane waar Thoriso Themane vermoor is. Foto: RUDZANI TSHIKORORO

Malabi-Dzhangi sê een van die tieners het ’n prokureur. Die res sal Maandag, wanneer hulle weer in die hof verskyn, om regshulp aansoek doen.

Makhurupetje het gesê Bheki Cele, minister van polisie, het opdrag gegee dat geen steen onaangeroerd gelaat moet word om al die skuldiges vas te trek nie.

Sowat 150 mense het van vroegoggend af buite die hof in Landdros Maré-straat saamgedrom en betoog dat geregtigheid moet geskied.

Van die mense was in T-hemde van die DA, EFF en die ANC. Jacques Smalle, DA-leier in Limpopo, en Jossey Buthane, provinsiale sekretaris van die EFF, het saam betoog.

Die DA het Donderdag buite die landdroshof in Polokwane betoog. Foto: MARIETIE LOUW-CARSTENS
Betogers Donderdagoggend buite die landdroshof in Polokwane. Foto: MARIETIE LOUW-CARSTENS

Buthane het ná die hofverskyning gesê daar moet teen die tieners se ouers opgetree word.

“Die kinders is ná die voorval terug na hul huise toe. Hoe kon die ouers nie geweet het nie? As dit nie vir die volgehoue druk van die publiek was nie, is hulle nooit in hegtenis geneem nie.”

Inwoners van Flora Park kla oor skoolkinders wat in parke saamdrom en alkohol drink. Leë medisynebottels van hoesstroop en stroop vir kinders om pyn en koors teen te werk, lê saam met gebreekte bierbottels in die park op die hoek van Rheebok- en Impala-straat waar Themane oorval is.

Hy was Saterdagaand op pad huis toe nadat hy saam met ’n musiekgroep by die Full Gospel Church in Flora Park geoefen het toe hy oorval is. ’n Video wys hoe hy herhaaldelik in sy gesig en teen sy kop geskop word terwyl hy reeds bloeiend op die grond lê.

Themane is Sondag om 09:50 deur ’n verbyganger op die hoek van Erasmus-straat en Cestrum-laan gesien. Hy is na ’n hospitaal in die stad gebring waar hy dood verklaar is.

Meer oor:  Capricorn High School  |  Thoriso Themane  |  Polokwane  |  Moord  |  Polisie  |  Tieners  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.