Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Senekal hou asem op oor dié ‘halfweghuis’
Die huis in Senekal wat vroeër as ’n halfweghuis gebruik is, staan nou leeg tot die proses om dit te hersoneer, afgehandel is. Foto: André Damons

Bloemfonteiners moet nie te gou bly raak omdat die halfweghuis vir gevangenes in Universitas gesneuwel het nie, waarsku ’n inwoner van Senekal wat ook onlangs deur ’n soortgelyke proses gegaan het.

Inwoners van Universitas was vroeër vandeesmaand geskok en woedend toe hulle hoor ’n halfweghuis vir gevangenes wat op parool vrygelaat gaan word, gaan in Scholtzstraat 17B gevestig word.

Inwoners, insluitende studente van die Universiteit van die Vrystaat (UV), is nie vooraf ingelig oor dié planne nie. Die projek is gestaak “omdat die gemeenskap dit nie ondersteun het nie”.

Mike Odendaal, voorsitter van die Senekal-buurtwag en die dorp se AfriForum-tak, sê dieselfde ding het in 2017 in dié dorp gebeur.

“Ons het ook net een oggend wakker geword en toe bly hier gevangenes tussen ons. Net soos in Bloemfontein het niemand vooraf geweet die mense gaan hier intrek nie,” sê hy.

Die inwoners moes hof toe gaan om die projek te keer en die ses huisbewoners is verskuif. Die huis in Van Deventerstraat behoort aan ene John Motseki Mabizela van Qwaqwa en staan nou leeg.

Die departement van korrektiewe dienste (DKD) het glo ook nie die regte stappe in Senekal gevolg nie en die huis is nie geskik om as ’n halfweghuis ingerig te word nie. Volgens Odendaal het die DKD aansoek gedoen vir die huis om gehersoneer te word sodat dit van “spesiale woon” in ’n “algemene sakeonderneming” omskep kan word en sodoende as ’n losieshuis gebruik kan word.

Mike Odendaal voor die huis in Van Deventerstraat wat as halfweghuis gebruik is. Foto: André Damons

’n Kennisgewing wat mense inlig daar is aansoek gedoen by die Setsoto-munisipaliteit vir die “opheffing van beperkte titelvoorwaardes en hersonering van die Restant van erf 477 Senekal Uitbreiding 2” is teen die heining voor die huis aangebring.

“Hulle moet nie te gou bly word nie. Ons sukkel nou al langer as ’n jaar met die halfweghuis.“Ons weet nie wat ons gaan doen as die aansoek slaag nie. Ons kan nie baklei teen ’n algemene besigheid, wat ’n losieshuis is nie. Dan moet ons al die gastehuise in Senekal toemaak,” sê Odendaal.

Die kennisgewing wat mense inlig dat daar aansoek gedoen is by die Setsoto-munisipaliteit vir die opheffing van beperkte titelvoorwaardes en hersonering van die Restant van erf 477 Senekal Uitbreiding 2. Foto: André Damons
Die halfweghuis in Senekal is ook “tydelik gestop” omdat inwoners gekla het dat hulle nie vooraf daarvan in kennis gestel is nie. Foto: André Damons

Hulle wag nog op die Setsoto-munisipaliteit se besluit oor die hersonering van die huis.

Kenneth Mthomeni, adjunkstreekkommissaris van die DKD, het ontken dat hulle ’n halfweghuis in Senekal het. Daar was planne vir so ’n huis, maar dit het nie “verwesenlik”, sê hy.

“In die geskiedenis van die departement het ons nog nooit ’n halfweghuis in Senekal gehad nie.”

Volksblad het egter in Oktober 2017 berig daaroor, ’n maand nadat die halfweghuis geopen het.

Woedende inwoners het beweer die DKD sou maandeliks R38 000 aan die huis bestee.

Thakane Molatedi, toe adjunkstreekkommissaris van die DKD vir die Vrystaat en Noord-Kaap, het destyds gesê die departement dra R30 000 per maand by vir koste wat verband hou met die bedryf van die huis.

Die geld word aan ’n diensverskaffer betaal wat al die dienste lewer.

Sy het destyds gesê ’n konsulterende vergadering is vooraf met die gemeenskap in die buurt en ander vennote soos die polisie, departement van maatskaplike ontwikkeling se verteenwoordigers, verkeerslui en raadslede oor die huis gehou.

Nie hul gemeenskap om in te herintegreer nie

Odendaal sê van die ses mense wat in die halfweghuis gewoon het, was vier geweldsmisdadigers, ’n verkragter en een mens wat sy paroolvoorwaardes verbreek het.

“Ek het nie ’n probleem dat gevangenes weer in die gemeenskap herintegreer te word nie, maar die mense was nie eens van Senekal nie. Dit is nie hul gemeenskap nie.

“Wie gaan vir hulle werk gee? Hier is nie eens werk vir ons eie mense nie. As dit gevangenes is van ons omgewing, kan ons nie kla nie, want dit is ons mense,” sê hy.

Meer as 1 600 inwoners van die woonbuurt en omliggende gebied het ’n petisie geteken wat teen die vestiging is van ’n halfweghuis.

Meer oor:  Senekal  |  Bloemfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.