Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
‘Swakste munisipaliteit in SA’ moet nou R45 m. hoes

Die sukkelende Madibeng-munisipaliteit in Noordwes moet nou meer as R45 miljoen hoes om sy skuld by die nasionale departement van water en sanitasie te delg.

Jostina Mothibe – voormalige burgemeester van Madibeng wat tydelik uit die ANC geskors is weens ’n belegging van etlike miljoene rande by die nou omstrede VBS-bank. Foto: Facebook

Dít nadat die hooggeregshof in Pretoria vroeg vandeesmaand teen dié munisipaliteit in die Brits-omgewing beslis het.

Tumelo Tshabalala, woordvoerder van die Madibeng-munisipaliteit, het Woensdag gesê die munisipaliteit het nou ’n ooreenkoms met die departement bereik om die R45 miljoen te betaal. Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement van water en sanitasie, het die ooreenkoms bevestig.

Die hof het beslis Madibeng moet die departement R45,9 miljoen betaal weens agterstallige watergebruik- en waternavorsingsbetalings, en sy regskoste dek. Ratau sê sy departement hou aan om met sy skuldenaars, veral munisipaliteite, te onderhandel en dat dit ’n laaste uitweg is om hof toe te gaan.

“Getroue betalings verseker dat onder meer sowat 350 damme en waterskemas wat aan die departement behoort, asook meer as 35 000 km se waterpypleiding, tot voordeel van gemeenskappe bestuur kan word.”

Noordwes se provinsiale regering het Madibeng vandeesmaand onder administrasie geplaas weens ernstige geld-, dienslewering- en bestuursprobleme. Die agentskap Ratings Afrika het die munisipaliteit in 2018 as die swakste munisipaliteit in die land aangewys.

Die ANC het Jostina Mothibe, voormalige burgemeester van Madibeng, vroeg in Mei tydelik uit die party geskors weens die munisipaliteit se belegging van etlike miljoene rande in die nou omstrede VBS-bank. Haar verweer was dat sy eers van dié belegging gehoor het toe die geld later vir dienslewering benodig is.

Die administrasieproses by Madibeng word ingevolge art. 139 (1) (b) van die Grondwet gedoen, wat beteken ’n administrateur word in ’n raadgewende hoedanigheid na die munisipaliteit gestuur om in te gryp, maar die bestaande bestuurskorps bly steeds aan.

Van die probleme by Madibeng wat tot die ingrepe gelei het, sluit in die ineenstorting van dienslewering, onder meer watervoorsiening, en die instandhouding van infrastruktuur. Swak administrasie en beroerde geldsake is nog kwelpunte. Madibeng se skuld was in Februarie vanjaar altesame R222 miljoen. Dit het grootmaatwaterskuld van R121 miljoen ingesluit.

Van die probleme by Madibeng wat tot die ingrepe gelei het, sluit in die ineenstorting van dienslewering, onder meer watervoorsiening, en die instandhouding van infrastruktuur.

Intussen het DA-raadslede in Madibeng vandeesweek ’n raadsvergadering verlaat uit protes teen die goedkeuring van die munisipaliteit se begroting omdat die regte prosedures glo nie gevolg is nie. Die munisipaliteit ontken enige onreëlmatighede en sê die begroting is ingevolge toepaslike wetgewing goedgekeur.

Jan van Rhyn, ’n DA-raadslid daar, sê Madibeng “voldoen nie eens aan die minimum standaarde” om dienste te lewer nie en dat wanbestuur en korrupsie aan die orde van die dag is. “Onverwerkte rioolvuil word in die Hartbeespoortdam gepomp. Die Brits-rioolaanleg funksioneer net op 40% van sy vermoë.”

Volgens Van Rhyn het die ouditeur-generaal bevind R561,9 miljoen is onreëlmatig in die 2016-’17-boekjaar bestee. “Bedrieglike kredietkaarte is in die munisipaliteit se naam oopgemaak en daar was ongemagtigde maandelikse aftrekkings van die munisipaliteit se rekening.”

Meer oor:  Noordwes  |  Munisipaliteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.