Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Water-, kragtariewe styg tot 9% in Kaapstad

Inwoners van Kaapstad kan hulle gereedmaak om van 1 Julie af rondom 9% meer te betaal vir krag, water en sanitasie met die begroting vir 2019-2020 wat die metroraad ter tafel gelê het.

Vir die meeste inwoners wat nie deernisverligting ontvang nie, styg die tarief vir water en sanitasie met 9% en die tarief vir elektrisiteit met 8,8%. Die tarief vir vullisverwydering styg ook met 5%.

Dan Plato, burgemeester, het Woensdag aan die raad gesê ’n inklusiewe begroting word voorgelê nadat meer as 4 000 kommentare van die publiek ontvang is.

“Ek is vol vertroue dat dié begroting die stad weer op dreef gaan kry in die nadraai van die ongekende droogte oor die afgelope twee jaar.”

Die begroting vir die boekjaar 2019-2020 bestaan uit ’n bedryfsbegroting van R40,709 miljard (83%) en ’n kapitaalbegroting van R8,313 miljard (16,96%).

Onder die bedryfsbegroting is die besteding op werknemers die grootste kategorie van R13,5 miljard en is grootmaataankope die naashoogste op R10,1 miljard.

Die Kaapstad-stadion in Groenpunt met Tafelberg in die agtergrond. Foto: Bruce Sutherland

Daarby word R6,5 miljard vir gekontrakteerde dienste begroot.

Die afdeling vir energie en klimaatsverandering ontvang die grootste gedeelte van die bedryfsbegroting op R11,9 miljard en R8,6 miljard word vir water en afval begroot.

Gemeenskapsdienste en gesondheid ontvang R3,7 miljard, vervoer R3,6 miljard en veiligheid R3,4 miljard.

Net meer as helfte van die kapitaalbegroting gaan ook aan die afdeling vir water en afval op R4,4 miljard.

Verder is R1 miljard vir vervoer begroot, R862 miljoen vir energie en klimaatsverandering en R829 miljoen vir menslike nedersettings.

Plato sê een van die doelwitte wat die begroting gaan behaal waarop hy die trotsste is, is die aanwys van een toegewyde wetstoepassingsbeampte vir elke wyk in die metro.

Die kapitaalbegroting vir veiligheid van R535 miljoen moet ook sorg vir ’n “massiewe toename” in die aankoop van voertuie, toerusting en bykomende kringtelevisiekameras vir wetstoepassing.

Dan Plato, burgemeester van Kaapstad.Foto: Adrian de Kock

Plato het uitgevaar teen aantygings en berigte dat die metroraad wins maak uit sy inkomste vir waterdienste.

“Daar was egter ’n onderverhaling van ons waterinkomste, wat daarop neerkom dat die metro nie sy koste kon dek nie. So, wees versigtig wat jy op sosiale media lees.”

Die metroraad het ook byna R3 miljard begroot vir sy maatskaplike pakket aan die kwesbaarste inwoners, wat deernisverligting, gratis basiese dienste en kortings op eiendomsbelasting insluit.

Vir die ontwikkeling van behuising word R869 miljoen begroot en R148,8 miljoen vir die opknapping van informele nedersettings.

Volgens Plato het talle inwoners ook hul kommer uitgespreek oor die uitwerking van die droogte op die stad se parke en word daar beplan om dié ruimtes op te knap met nuwe bome en plante, heinings en ligte.

Ian Neilson, burgemeesterskomiteelid vir finansies, het

bekend gemaak die drempel vir pensioenarisse en mense met spesiale behoeftes om vir afslag op belasting te kwalifiseer gaan met R2 500 styg tot ’n inkomste van R17 500 per maand.

Ian Neilson, burgemeesterskomiteelid vir finansies.Foto: Malherbe Nienaber

Die drempel vir die inkomste van behoeftige huishoudings wat tot ’n 100%-korting op eiendomsbelasting en vullisverwydering kan ontvang is ook van R4 000 per maand tot R4 500 per maand verhoog.

Die maandelikse inkomste waarop deernisverligting vir huurders en huiseienaars van toepassing is, word ook van R3 400 tot R4 500 verhoog.

Só lyk Kaapstad se nuwe tariewe

Water en sanitasie

Die waterbeperkings word gewysig met die vlak 3- beperkings wat tans van krag is, wat nou na vlak 1 verander.

Die vaste heffing gegrond op die grootte van die pypverbinding aan die watermeter op ’n eiendom word in die komende boekjaar nie verhoog nie, nadat dit in 2018-2019 ingestel is.

Behoeftige huishoudings ontvang maandeliks 10,5 kiloliter water en 7,35 kiloliter sanitasie gratis.

• Vir huishoudings wat nie behoeftig is nie gaan die watertarief per kiloliter (kl) só toeneem (BTW uitgesluit):

Vlak 1 (0 tot 6 kl) – Van R13,68 tot R14,91 (8,9%);

Vlak 2 (6 tot 10,5 kl) – Van R19,46 tot 21,21 (8,9%);

Vlak 3 (10,5 tot 35 kl) – Van R27,63 tot R30,12 (9%);

Vlak 4 (meer as 35 kl) – Van R60,66 tot R66,12 (9%).

Vir kommersiële eiendomme en nywerhede neem die tarief toe van R22,78 tot R24,54.

• Vir huishoudings wat nie behoeftig is nie gaan die sanitasietarief per kiloliter só toeneem (BTW uitgesluit):

Vlak 1 (0 tot 4,2 kl) – Van R12,02 tot R13,1 (8,9%);

Vlak 2 (4,2 tot 7,35 kl) – Van R17,1 tot R18,64 (9%);

Vlak 3 (7,35 tot 24,5 kl) – Van R25,59 tot R27,89 (8,9%);

Vlak 4 (24,5 tot 35 kl) – Van R46,05 tot R50,19 (8,9%).

Krag

Huishoudings op eiendomme met ’n waarde van minder as R400 000 en ’n voorafbetaalde kragmeter ontvang maandeliks 60 kWh gratis as hulle minder as 250 kWh per maand gebruik of 25 kWh gratis as hulle gewoonlik tussen 250 kWh en 450 kWh per maand gebruik.

Gebruikers met ’n eiendom van meer as R1 miljoen se maandelikse diensheffing neem toe van R130,44 tot R142,02 (8,8%).

• Hul kragtarief in sent per kilowattuur (kWh) neem toe as volg (BTW uitgesluit):

Blok 1 (0 tot 600 kWh) – Van 1,61c tot 1,75c (8,8%);

Blok 2 (Meer as 600 kWh) – Van 2,22c tot 2,42c (8,8%).

• Gebruikers met ’n eiendom van tussen R400 000 en R1 miljoen se kragtariewe neem toe soos volg:

Blok 1 (0 tot 600 kWh) – Van 1,8c tot 1,99c (8,8%);

Blok 2 (Meer as 600 kWh) – Van 2,22c tot 2,42c (8,8%).

• Huishoudings met eiendomme van minder as R400 000 se tariewe styg soos volg:

0 tot 350 kWh – Van 1,10c tot 1,20c (8,8%);

Meer as 350 kWh – Van 2,2c tot 2,4c (8,8%).

Vullis

Die tarief vir weeklikse vullisverwydering van ’n 240-liter-drom neem toe van R126,26 tot R231,61 (5%).

Inwoners met ’n eiendom van minder as R500 000 of wat behoeftig is kan kortings van 0% tot 100% ontvang op die eerste drom wat verwyder word.

Eiendomsbelasting

Geen eiendomsbelasting gaan bereken word op die eerste R300 000 van ’n wooneiendom se waarde nie, waar dit tans R200 000 is.

Die belasting word gegrond op die eiendom se waardasie van 2 Julie 2018 en word uitgewerk deur die koers in die rand met die waarde te vermenigvuldig.

Die koers in die rand vir eiendomsbelasting sal soos volg verander:

Woongebiede – Van 0,00715 tot 0,00555 (-22,42%);

Landbou – Van 0,00143 tot 0,00111 (-22,43%);

Kommersieel – Van 0,01430 tot 0,0111 (-22,42%).

• Besoek die Kaapstad-metro se webwerf vir meer inligting.

Meer oor:  Kaapstad  |  Kragtariewe  |  Watertariewe  |  Dienslewering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.