Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Bloem se lugbesoedeling nou erger as Beijing s’n

Bloemfontein se lugbesoedeling-telling is nou hoër as dié van Beijing, China. Dit is veral die laaste maand ver bo die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se vereiste standaard.

Stofreën in Bloemfontein aan die einde van Januarie 2018. Foto: Ruan Bruwer

Volgens data van die Suid-Afrikaanse Luggehalte-inligtingstelsel (SAAQIS) was Bloemfontein se luggehalte in Mei 2,4 keer bó die daaglikse veilige vlakke en 5,9 keer bo die jaarlikse veilige vlakke soos vasgestel deur die WGO.

Dit is gemeet vir fyn deeltjies met ’n deursnee van 2,5 mikron of minder (= PM2,5).

In die hartjie van Beijing is die gemiddeld sowat twee keer hoër as die daaglikse veilige vlak. Bloemfontein s’n is 2,4 keer hoër.

Die vlak in die Rosestad was op 25 Mei tussen 20:00 en 21:00 selfs 12 keer hoër as die WGO se vereiste perk.

Apps soos Air Visual en BreezoMeter kry inligting van SAAQIS, wat deur die departement omgewingsake begin is.

Die moniteringstasie op Bloemfontein is by die Pelonomi-hospitaal geleë.

Dr. Dawie van den Heever van VDH Industrial Hygiene in Bloemfontein sê dit is belangrik om die weerdata dop te hou.

“As dit bewolk raak en koud is, word steenkool, hout, enige ding, gebrand om mee vuur te maak.”

Enigiets onder ’n telling van PM5 is rook, sê hy.

As dit bewolk is, word dié partikels nie in die stratosfeer opgeneem nie.

Apps soos Air Visual, wat inligting van die Suid-Afrikaanse Luggehalte-inligtingstelsel (SAAQIS) kry, toon duidelik dat Bloemfontein se luggehalte aansienlik verswak het. Foto: Skermgreep/Air Visual
Met die Air Visual-app kan gesien word hoe Bloemfontein se lugbesoedeling met Beijing s’n vergelyk. Foto: Skermgreep/Air Visual

Hierdie partikels is 3% van die deursnee van ’n menslike haar en kan slegs onder ’n elektronmikroskoop gesien word.

Volgens die WGO is hierdie fyn deeltjies veral gevaarlik as dit in die longe beland en elemente daarvan in die bloedstroom opgeneem word.

“Net soos wat ’n persoon wat rook inasem deur elemente daarvan geraak word, kan elemente van die deeltjies opgeneem word,” sê Van den Heever.

Net soos wat ’n persoon wat rook inasem deur elemente daarvan geraak word, kan elemente van die deeltjies opgeneem word.
Dr. Dawie van den Heever

Die WGO waarsku dat chroniese blootstelling aan hierdie fyn deeltjies bydra tot ’n verhoogde risiko om kardiovaskulêre en respiratoriese siektes, asook longkanker te ontwikkel.

Volgens die WGO is hierdie fyn deeltjies jaarliks vir miljoene premature sterftes wêreldwyd verantwoordelik en volgens die Wêreldbank se beramings is lugbesoedeling jaarliks vir 20 000 sterftes in Suid-Afrika verantwoordelik.

Nomvula Mokonyane, voormalige minister van omgewingsake, het verlede Woensdag die bepaling dat swaeldioksied (SO2)-vlakke verdubbel mag word, teruggetrek.

Die verdubbeling van die vlakke is op 31 Oktober 2018 goedgekeur sonder om die publiek te raadpleeg, soos die Wet op Luggehalte vereis, wat dit onwettig gemaak het.

Bloemfontein se lugbesoedeling het in Mei die hoogte ingeskiet. Kenners meen dit het met die weerpatrone te doen en hou verband met mense wat nou meer dikwels vuurmaak. Foto: Skermgreep/BreezoMeter
Meer oor:  Bloemfontein  |  Beijing  |  Lugbesoedeling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.