Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Nog net 1 oor nadat waarskynlik laaste renosterbul vrek
’n Sumatra-renosterFoto: WWF

Die laaste Sumatraanse renosterbul is dood en daarmee saam is die lot van totale uitsterwing van dié renostersoort naby daaraan om verseël te word.

Tam, ’n bul, is Maandag in ’n beskermde natuurreservaat in Sabah, die Maleisiese deel van die eiland Borneo, aan natuurlike oorsake dood. Hy het vermoedelik nier- en lewerprobleme gehad.

Nou is net Iman oor, die laaste lewende Sumatraanse renosterkoei, sover bekend. Haar liggaam bring nog eierselle voort, maar sy het probleme met haar baarmoeder en kan nie teel nie.

Amptenare van Maleisië en van Indonesië, wat die ander helfte van Borneo besit, vermoed daar is dalk nog van die renosters wat in digte bosse in die Indonesiese deel van Borneo woon en nooit gesien word nie, asook miskien nog enkeles op die eiland Sumatra.

Maleisië het in 2015 amptelik verklaar dat die Sumatraanse renoster in Maleisië in die natuur uitgesterf het.

Die renosters se habitat het eens ook deur Thailand en Mianmar gestrek tot so ver as die oostelike Himalaja-berge. Hul grootste bedreiging was en is stroping, asook die verlies aan habitat, want bosse word landbouplantasies en paaie word oral gebou.

“Ons harte is gevul met hartseer terwyl ons rou oor die verlies aan ’n spesie,” het die Wêreldnatuurfonds (WWF) in Maleisië getwiet.

“Met Tam weg, het ons nou net Imam oor. Laat Tam se dood ons wakker maak. Ons natuur en wild moet opgepas word.”

Xavier Jayakumar, Maleisië se minister van water, grond en natuurlike bronne, het getwiet dat pogings om ander inheemse diere te red, verdriedubbel moet word. Hy het verwys na die orangoetang, die Asiese olifant en Maleisiese tier wat almal in gevaar is weens stroping en ’n verlies aan habitat. – Reuters

Meer oor:  Borneo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.