Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
39 uit elke 100 kinders wat skool begin, slaag matriek

Vir elke 100 kinders wat in 2009 in gr. 1 was en verlede jaar matriek geskryf het, het 39 geslaag.

Matriekuitslae by die Elswood Sekondêre Skool in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Maandag aangekondig 76,2% van die matriekgroep van 2020 het geslaag.

Dit is 5,1 persentasiepunte minder as 2019 se 81,3% en selfs nóg laer as 2018 se 78,2%.

Die meeste kenners is dit eens dat die 76,2% nie te sleg is as mens die ontwrigting van die Covid-19-pandemie op die skooljaar in ag neem nie.

Dr. Nic Spaull, ’n onderwyskundige aan die Universiteit Stellenbosch, sê op Twitter vir elke 100 leerlinge wat in 2010 in gr. 2 was (994 410), het 58 matriek geskryf en 44 deurgekom.

In 2009 was daar volgens die departement van basiese onderwys se “School Realities”-verslag 1 105 186 gr. 1’s.

Wiskunde dien as hekwag tot baie studierigtings wat benodig word in die vierde nywerheidsrevolusie.

Uit elke 100 van hulle het 52 verlede jaar matriek geskryf en 39 geslaag.

Die grootste kommer is steeds dat ál hoe minder kinders wiskunde en fisiese wetenskappe as vak neem.

“In 2016 het 192 618 leerlinge die fisiese-wetenskappe-eksamen afgelê teenoor 174 310 in 2020.

“Dit is 'n afname van 18 308 leerlinge in vier jaar,” sê Celéste Labuschagne, dosent in fisiese wetenskap by die Skoleondersteuningsentrum (SOS) se Wolkskool-onderwysplatform.

Volgens haar gebeur dit ook met wiskunde.

“In wiskunde het die getalle afgeneem van 265 810 in 2016 tot 233 315 in 2020 – ’n afname van 32 495 leerlinge.”

Celéste Labuschagne, dosent in fisiese wetenskap by die Skoleondersteuningsentrum se Wolkskool-onderwysplatform.

Labuschagne sê meer leerlinge het swakker punte in wiskunde behaal.

“Die persentasie leerlinge wat ’n punt van 30% en meer in wiskunde behaal, het afgeneem van 58% in 2018 tot 53,8% in 2020.”

Luidens die departement se vakverslag van 2020 se Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen het 51,1% leerlinge in 2016 meer as 30% vir wiskunde behaal.

In 2017 was dit 51,9%; in 2018 58%; in 2019 54,6%; en verlede jaar het dit verder gesak tot 53,8%.

Labuschagne sê baie leerlinge wat die vermoë het om wiskunde te slaag, kies wiskundige geletterdheid ter wille van beter uitslae.

“Wiskunde dien as hekwag tot baie studierigtings wat benodig word in die vierde industriële revolusie. Al hoe minder leerlinge gaan kwalifiseer om in te skryf vir beroepe waar wiskunde en fisiese wetenskappe ’n vereiste is.

“In ’n land waar werkloosheid ’n probleem is, het ons nodig dat meer leerlinge hierdie vakke neem!”

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) het in ’n verklaring ook sy kommer daaroor uitgespreek.

Meer oor:  Slaagsyfer  |  Wiskunde  |  Matrikulante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.