Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
KYK: Studente wat hoof aanrand gou verhoor

’n Tugverhoor van Kovsie-studente wat verlede week betrokke was by die voorval op die Bloemfontein-kampus waarin die finansiële hoof rondgestamp en klasse ontwrig is, kan al binne die volgende twee weke begin.

Prof. Francis PetersenFoto: Deon Raath

So sê prof. Francis Petersen, die Universiteit van die Vrystaat (UV) se rektor. Volgens Petersen is die ondersoek na die voorvalle al ver gevorder en word die inligting verwerk.

Chris Liebenberg, finansiële hoof, is rondgestamp te midde van ’n protes deur studente onder die vaandel van die EFF se studentebeweging (EFFSC).

Studente het betoog omdat hulle ontevrede is oor die beursgeld wat die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) aan hulle uitbetaal het. Klasse en toetse is ook ontwrig. Die toetse sal herskryf word.

Petersen sê hy het die ondersoekspan, wat sover moontlik onafhanklik is, gevra om baie vinnig te werk, sodat ’n uitkoms so gou moontlik bereik kan word.

Verlede Dinsdag se gebeure is “totaal onaanvaarbaar”, sê hy.

“Die regte van die personeel en studente is geskend. Daar was ook voorvalle van intimidasie, van gedwonge verwydering van studente uit klasse, en dit kan ons absoluut nie toelaat nie.”

Petersen sê hy het ná die gebeure onder meer vergaderings met die personeel en die studenteraad gehad. Hy het verskeie gesprekke met Liebenberg gehad en die instansie se ondersteuning aangebied, vertel hy.

Dit is vir hom belangrik om te verseker die personeel en studente ervaar die UV as ’n plek waar hulle welkom en veilig kan voel.

Hy het in kommunikasie aan studente, personeel en alumni as leier van die instansie vir die gebeure om verskoning gevra.

“Die studenteraad en lede wat betrokke was by die protes het ons en ook die hoof van finansies om verskoning gevra. Ek dink hulle besef wat hulle gedoen het is totaal onaanvaarbaar en hoort nie op universiteit nie.”

Petersen sê protes is ’n aanvaarbare manier om frustrasie te wys, mits dit vreedsaam is.

Hy gee die waarborg dat hy en die bestuur hul bes sal doen om te verseker dat gewelddadige protes nie weer plaasvind nie.

Hy sê die studente was onredelik. Die 44 studente wie se toelae deur NSFAS gestaak is, is omdat dié skema nie die nagraadse diploma in rekeningkunde finansier nie. Hy sê die universiteit sou nie die studente huis toe gestuur het nie.

“Ons sal saam met hulle iets uitwerk. Ons het nooit daardie geleentheid vir gesprek gekry nie.”

Hy verwys ook na klagte dat toelae tekort geskiet het.

“Jy gaan slegs die toelaag kry indien al jou inligting op die stelsel is.”

Die UV het ’n bedrag voorgeskiet terwyl die verifikasieproses plaasvind en sou dan die verskil inbetaal sodra dit goedgekeur is.

Hy sê daar is studente wat nie hul inligting op die stelsel invoer nie. Die UV het wel ná die protes geld aan die studente uitbetaal.

Die UV beplan verskeie stappe om sulke voorvalle in die toekoms so spoedig moontlik te hanteer en te ondersoek.

* Khusela Afrika, adjunksekretaris van die EFFSC by die UV, het vroeër aan Netwerk24 gesê dit is onregverdig dat mense nie praat oor die 44 studente wie se toelae gekanselleer is nie, maar oor “die aanranding van die finansiële hoof, terwyl dit (aanranding) nie eens die geval is nie”.

Afrika het gesê niemand is aangeval nie en dat Liebenberg en die student met mekaar gestoei het.

Hy sê studente het hulself verdedig toe Liebenberg deur hulle gebeur het toe hulle hom wou keer. Hulle wou hê hy moet hulle toespreek.

“Dit was nie ’n aanval nie. Die finansiële hoof het hulle uitgelok.”

Hy het gesê die protes was vir ’n regverdige saak en nie boewery nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.