Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Lesufi fokus te veel op taal, te min op skole bou’

Panyaza Lesufi het in sy termyn as LUR vir onderwys in Gauteng Afrikaanse skole as sondebok voorgehou om die aandag af te lei van sy grootste enkele mislukking.

Dít was sy versuim om genoeg skole te bou om in die groeiende aanvraag vir onderrig in Gauteng te voorsien, sê Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS) en die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas).

Panyaza Lesufi Foto: Gallo Images

David Makhura, premier van Gauteng, het Woensdag aangekondig Lesufi sal sy pos verlaat om as LUR vir finansies in die provinsie te dien. Nomantu Nkomo-Ralehoko, voormalige adjunk-sekretaris van die ANC in die provinsie, is in Lesufi se plek aangewys.

Elaine Krige, SOS-woordvoerder, en Paul Colditz, hoof van Fedsas, meen Lesufi het aan die stuur van onderwys in Gauteng in die meeste opsigte misluk. Die vakbond Cosatu het Lesufi egter Woensdag in ’n verklaring geloof vir sy werk om die onderwysstelsel in die provinsie te transformeer.

Lesufi is uit talle oorde gekritiseer nadat hy vroeër vandeesmaand op ’n mediakonferensie gesê het dit gaan sy verstand te bowe hoekom ouers nog vir Afrikaanse onderrig by skole baklei aangesien daar “nie meer Afrikaanse universiteite is nie”.

Lesufi het in sy termyn gepoog om weg te doen met Afrikaans as onderrigtaal by enkelmediumskole wat onderbenut word. Hy hou vol deur die taalbeleid by dié skole te verander, sal daar meer plek beskikbaar wees vir veral swart leerlinge wat andersins nie toegang tot gehalte-onderwys sou kry nie.

Krige sê as Lesufi egter sy belofte nagekom het deur 1 000 nuwe skole in sy termyn te bou, sou die druk op Afrikaanse skole nie so groot gewees het om in die groeiende aanvraag te voorsien nie. Boonop het Lesufi misluk om die gehalte van onderrig in townshipskole te verbeter, sê sy.

Volgens haar het die onderwysdepartement net 50 nuwe skole onder Lesufi gebou. Die SOS het bepaal daar moet jaarliks 50 tot 70 nuwe skole gebou word weens die toestroming van mense na Gauteng.

Volgens Krige kan Lesufi se mislukking eerder toegeskryf word aan onbevoegdheid en wanbestuur as ’n tekort aan geld. Naas die gesondheidsdepartement het die onderwysdepartement die afgelope boekjaar die grootste begroting van alle departemente in Gauteng gehad.

Die konstitusionele hof het in 2018 beslis die onderwysdepartement het kwaadwillig opgetree deur aan te dring dat 55 Engelse leerlinge plek kry by die Hoërskool Overvaal, ’n Afrikaans-enkelmediumskool in Vereeniging.

Die hof het bepaal daar was twee nabygeleë Engelse skole wat wel vir die leerlinge plek kon gee.

Onder Lesufi is die aanlyn registrasiestelsel vir voornemende leerlinge ingestel. Ook hiermee het Lesufi misluk omdat die stelsel baie tegniese probleme het, wat veroorsaak dat ouers in sommige gevalle sukkel om hul kinders te registreer, sê Colditz.

Colditz sê daar was wel sekere kwessies waarvoor Lesufi applous verdien, onder meer sy hantering van die Hoërskool Driehoek-tragedie in Vanderbijlpark vroeër vanjaar. Vier leerlinge is dood en meer as 20 is beseer nadat ’n loopbrug op die skoolterrein ineengestort het.

Luidens die boek The A-Z of South African Politics het Lesufi se administrasie die rasse-skeidslyne in Gauteng ontbloot. Hy het sukses behaal om ’n groter klem op rekenaargeletterdheid in die skoolkurrikulum te plaas, luidens die boek.

Meer oor:  Panyaza Lesufi  |  Paul Colditz  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.