Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skole in Gauteng: ‘Groot ontevredenheid kom’

Hoewel die stof oor aanlyn aansoeke vir plekke in skole in Gauteng vir eers gaan lê het, is daar nou nóg ’n probleem op die horison – skole wat duisende meer aansoeke ontvang as waarvoor hulle plek het.

Die Gautengse onderwysdepartement het vandeesweek ’n lys met die name van 35 skole uitgereik wat reeds meer as 1 000 aansoeke ontvang het vir voornemende gr. 1- en gr. 8-leerlinge.

Kenners en onderwysers voorspel daar gaan binnekort groot ontevredenheid onder ouers wees indien hulle nie ’n plek vir hul kinders kry in ’n skool van hul voorkeur nie.

By ’n skool met te veel aansoeke is die eerste kriterium die leerling se huisadres, en die tweede kriterium wie eerste aansoek gedoen het.

As ’n skool dus te min plek vir sy voergebied het, gaan daar gevolglik leerlinge wees wat naby die skool bly, maar nie plek gaan kry nie omdat die ouers nie vroeg genoeg aansoek gedoen het nie, sê Riaan van der Bergh, onderwystegnologiebestuurder van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas).

By ’n skool met te veel aansoeke is die eerste kriterium die leerling se huisadres, en die tweede kriterium wie eerste aansoek gedoen het.

Hy sê die probleem is dat daar te min skole in Gauteng is.

“En daar is nie slegs ’n tekort aan skole in die provinsie nie, maar ook skole waar mense hul kinders wíl inskryf. Daar is ’n tekort aan skole wat onderwys van goeie gehalte aanbied.”

Martin Botha is die hoof van die Hoërskool Gerrit Maritz in die noorde van Pretoria. Dit is een van die skole wat sowat 1 000 meer aansoeke ontvang het as waarvoor hulle plek het.

“Ons het sowat 1 488 aansoeke ontvang waarvan die ouers reeds stawende dokumente ingedien het. Ons het slegs 215 plekke vir gr. 8-leerlinge volgende jaar. Dit beteken dat ons meer as 1 200 aansoeke te veel ontvang het,” sê Botha.

Hy stem saam daar is ’n groot tekort aan skole in die provinsie.

“In die Pretoria-Noord-omgewing het ons die Hoërskool Gerrit Maritz, die Hoërskool Akasia, die Laerskool Akasia en die Laerskool Theresapark, wat almal 5 km van mekaar geleë is. Al vier dié skole is op die lys wat meer as 1 000 aansoeke ontvang het.”

Erge implikasies vir ouers

Botha voorspel ouers gaan ontevrede wees oor waar hul kinders geplaas word.

Van der Bergh beaam dit en sê daar sal teen Oktober, wanneer ouers weet in watter skole hul kinders geplaas is, groot ontevredenheid by die onderwysdepartement se kantore, asook by skole se toonbanke, wees.

“Daar is reeds skole wat bekommerd is oor ouers wat die skool regstreeks nader omdat hulle ontevrede is oor hul kind se plasing. Ouers moet egter die onderwysdepartement hieroor nader,” sê Van der Bergh.

Hy sê veral ouers wat ontevrede is met die tweede of derde opsie vir ’n skool, sal ’n bohaai opskop.

Petro Pienaar, ’n ouer van ’n voornemende gr. 1-leerling, sê dit sal reuse-implikasies vir haar hê as haar dogter nie in die skool van hul keuse geplaas word nie.

Pienaar het aansoek gedoen vir ’n plek by die Laerskool Stephanus Roos in die noorde van Pretoria.

“My ouer kind, wat in gr. 4 is, is in dieselfde skool. Dit sal finansiële implikasies vir my hê as hulle nie albei in dieselfde skool is nie. Ek sal hulle soggens by twee skole moet gaan aflaai, ek sal nie afslag kan kry omdat ek twee kinders in dieselfde skool het nie, en ek sal nie my oudste dogter se ou skoolklere vir my jongste kan gee nie, so ek gaan weer moet betaal vir skoolklere.”

Pienaar sê sy sal selfs tuisonderrig oorweeg as haar jongste kind nie ’n plek in dié laerskool kry nie.

Ciska Jansen het aansoek gedoen vir ’n plek vir haar gr. 1-dogter in die Laerskool Van Riebeeckpark.

“My grootste kommernis is dat al haar kleuterskoolmaats saam met haar in gr. R is in die Laerskool Van Riebeeckpark. As sy nie ’n plek hier kry nie, moet sy al haar maats hier agterlaat.”

Juanita Schultz sê die Hoërskool Zwartkop in Centurion is die eerste keuse vir hul dogter, wat volgende jaar na gr. 8 gaan.

“Ons bly in Eldoraigne en daar is twee goeie skole naby ons. As sy nie ’n plek kry by die Hoërskool Zwartkop nie, sal ons nie te gespanne wees daaroor nie.”

Luidens ’n verklaring van die provinsie se onderwysdepartement het ouers nog tot 22 Julie 2019 om aansoek te doen vir ’n plek vir gr. 1- en gr. 8-leerlinge in ’n skool vir volgende jaar.

“Ouers word daaraan herinner om die nodige dokumente by alle skole in te handig, binne sewe dae nadat hulle aansoek gedoen het.”

Meer oor:  Gauteng  |  Onderrig  |  Gautengse Onderwysdepartement  |  Onderwys  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.