Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skool gesluit uit vrees vir bendes
Yolande le Roux (links), van die drukgroep Northern Areas Survivors and Ambassadors Against Gangsterism, en Clifton Jantjies (regs), hoof van die Strelitzia Primary School, maak Donderdagoggend die skool se hekke toe. Foto: Lulama Zenzile

’n Laerskool in Port Elizabeth wat gereeld midde-in voortslepende bendegeweld in die kruisvuur beland, het Donderdag sy deure uit vrees vir sy leerlinge se veiligheid gesluit.

Nadat ses skote Dinsdag tydens skooltyd reg agter die Strelitzia Primary School in Bethelsdorp geklap het, het ouers Woensdag na die skool opgeruk en daarop aangedring dat die skool minstens twee dae lank sluit.

Ouers wil in dié tyd met rolspelers en die departement van onderwys vergader oor planne vir ’n nuwe skool-grensheining, het Yolande le Roux van die drukgroep Northern Areas Survivors and Ambassadors Against Gangsterism, gesê.

Planne vir die opknapping van die grensheining sloer blykbaar al ’n jaar lank.

Volgens Le Roux het kommer oor die leerlinge se veiligheid aan die begin van Mei toegeneem toe 11 mense in die gebied doodgeskiet is.

“Die skool is in die middel van die skietery. Daar is al drie leerlinge van die skool dood wat in die bendegeweld (se kruisvuur) vasgevang was. Die skool het besluit om ’n beroep op ingryping aan die Menseregtekommissie te rig aangesien leerlinge se reg tot onderrig hierdeur geskend word. Ons het nog geen terugvoering van hulle ontvang nie.”

Volgens haar gaan die skool en ouers ook onverpoos voort met versoeke aan die onderwysdepartement om die grensheining te verhoog en te versterk.

“Die grensheining en mure is laag. Die bendes spring oor die heining agter die skool en kry maklik toegang tot die perseel.”

Die maklike toegang tot die skool het daartoe gelei dat leerlinge tydens af-periodes en selfs pouses in klaskamers moet deurbring.

Clifton Jantjies, hoof van die Strelitzia Primary School in Bethelsdorp, Port Elizabeth, praat Donderdagoggend met ouers buite die skool. Foto: Lulama Zenzile

Clifton Jantjies, hoof, sê dié reëling het in Mei, kort ná die rits skietvoorvalle, in werking getree.

“Dit is eenvoudig te gevaarlik om die kinders buite die skoolgebou toe te laat. Dit is ’n ongesonde situasie, maar niemand is buite veilig nie.”

Daar was reeds twee voorvalle waar werkers van die tuindiens op die skoolterrein beroof is.

’n Projek vir die herstel van ’n netbalbaan wat deur die Nasionale Lotery onderskraag was, is glo ook gestaak nadat sy verteenwoordigers twee keer beroof is en nie verder in die onveilige omgewing wou werk nie.

Jantjies sê ’n ooreenkoms tussen ouers en die departement is verlede jaar, terwyl hy ses maande lank met siekverlof was, bereik oor die opknappingswerk aan die grensheining.

“Die ouers voel dis nou al ’n jaar en ons is presies waar ons was. Hulle wil antwoorde oor die vordering hê, hulle is nie onredelik nie en hulle verwag nie dit moet môre gebeur nie, maar hulle wil ten minste net weet daar is ’n vasgestelde tyd.”

Hy sê dit is ook onmiskenbaar hoe die bendegeweld die leerlinge se lewe oorheers.

“Alles wat die kinders in die opvoedingsprogram doen, soos hul mondeling en hul gesprekke, is deurspek van bendes, want dit is hul werklikheid. En as dié situasie vir hulle normaal raak, is die gemeenskap op die verkeerde pad. Die skool is veronderstel om ’n baken van lig en veiligheid te wees.”

Een van die ouers wat Donderdagoggend voor die Strelitzia Primary School gestaan het, hou ’n plakkaat omhoog wat lui: “Ons wil ’n beter heining om die skool hê.” Foto: Lulama Zenzile

Hoewel Jantjies sê dat die skool Maandag heropen, glo ouers hulle sal die skool gesluit hou indien hulle nie met die departement se reaksie oor hul griewe tevrede is nie.

Noelene van Wyk, ’n ouer, sê haar 13-jarige seun het vroeër vanjaar ’n angsaanval gehad nadat skote rondom die skool geklap het.

“Die kinders moes plat op die grond lê. Dit het gelyk soos ’n gyseldrama. My kind se bors het toegetrek, die dokter het hom ’n week by die huis laat bly.”

Haar seun se skoolrapport van die afgelope kwartaal dui ook aan dat die voorval sy skoolwerk beïnvloed.

“My seun het sertifikate vir wiskunde gekry, nou het hy nie eens die minimum vereistes behaal nie. Hy het wiskunde gedruip en dit is ’n direkte gevolg van die vrees wat hy by die skool ervaar. Hy kan nie meer op sy werk konsentreer nie,” sê Van Wyk.

“Die departement moet intree en help. Ons sal die skool gesluit hou totdat hulle ingryp.”

Mali Mtima, provinsiale woordvoerder vir die onderwysdepartement, sê die departement is bewus van hul belofte om die heining op te knap, maar sê weens begrotingsbeperkings kon hulle nog nie die belofte nakom nie.

“Die departement sal nie teruggaan op sy woord nie en die heining sal opgeknap word. Ek kan ongelukkig nie in dié stadium sê wanneer dit sal gebeur nie.”

Hy sê die departement het slegs ’n mandaat om gehalteonderrig te lewer en dat die verantwoordelikheid vir ’n veilige leeromgewing in die hande van die departement van veiligheid en die polisie rus.

Meer oor:  Bethelsdorp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.