Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
US gee hof kennis dat hy taal-aansoek teenstaan

Die Universiteit Stellenbosch (US) het Dinsdagmiddag ’n kennisgewing by die hooggeregshof in Kaapstad ingedien teen die aansoek dat hy sy taalbeleid moet hersien.

Die aansoek spruit uit die veldtog Gelyke Kanse wat op 30 September ’n aansoek by die hooggeregshof ingedien het om die US se Taalbeleid te laat hersien.

Die US moes op 7 Oktober sy kennisgewing indien, maar het om uitstel gevra en op 14 Oktober vir ’n tweede keer uitstel gevra. Dinsdag het hy sy kennisgewing ingedien.

Martin Viljoen, woordvoerder van die US, sê sedert Gelyke Kanse sy aansoek ingedien het, het die uitvoerende komitees van die US se raad en senaat vergader om formele besluite oor die aansoek te neem.

Die res van die hofstukke sal in ’n latere stadium by die hof ingedien word.

Luidens die kennisgewing staan die eerste drie respondente, die voorsitter van die senaat, die voorsitter van die raad en die universiteit, die aansoek teen.

Luidens Gelyke Kanse se hofstukke het verskeie bekende skrywers en dosente – onder andere Breyten Breytenbach, R.W. Johnson, prof. Anne-Marie Beukes, dr. Marie Heese, prof. Hermann Giliomee, prof. Johann Rossouw, dr. Francis Galloway en Abraham Phillips – reeds eedsverklarings afgelê. Dit vorm deel van die aansoek.

Gelyke Kanse versoek die hof om:

* Die US se nuwe taalbeleid, wat op 22 Junie deur die senaat en die raad aanvaar is, te hersien en tersyde te stel;

* Die US te gelas om die taalbeleid en taalplan wat op 22 November 2014 deur die raad goedgekeur is, toe te pas; en

* Te verklaar dat Afrikaans “nie meer ’n gelyke plaats” aan die US het nie.

Danie Rossouw, regsverteenwoordiger van Gelyke Kanse, sê die aanvaarding van die beleid is teenstrydig met die Grondwet en spesifiek art. 27(2) van die Wet op Hoër Onderwys en die ministeriële beleid.

Die punt van belang in die beleid is die aandrang op die behoud en beskerming van Afrikaans as wetenskapstaal en akademiese taal, asook die aandrang op die ontwikkeling van ander inheemse tale.

Hy sê die raad het aanvaar dat daar afgewyk word van sy beleidsuitgangspunte wat op ’n raadsvergadering geformuleer is, ten spyte van ’n verslag van sy uitvoerende komitee.

Die een afwyking is dat die Afrikaanse aanbod nie verminder mag word nie.

Die beleid wend ook geen daadwerklike poging aan om Xhosa of ander inheemse tale te ontwikkel nie.

Intussen het Gelyke Kanse ’n fondsinsamelingsveldtog begin. Hy het ook vandeesweek sy grondwet aanvaar.

Rossouw sê die eerste mikpunt is om R1 miljoen in te samel om met ’n hofbevel die US te dwing om gelyke behandeling aan Afrikaans en Engels as voertaal en kommunikasietaal te gee.

“Ons werf ook geld vir die groter taak om die opleiding van onderwysers wat doeltreffend in Afrikaans-medium kan skoolhou, te verseker, en om behoeftige kinders te help wat in Afrikaans wil studeer.”

Vir meer inligting besoek hul webwerf: www.gelykekanse.com

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.