Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Vrystaatse beurs-fiasko kring wyd, studente gestrand

Die Vrystaatse beurs-fiasko waarin R284 miljoen se beursgeld ter sprake is, kring wyd. Dit is reeds einde Julie en niemand kan nog sê presies hoeveel beurse al uitbetaal is aan die 10 200 studente wat met dié beurse aan Suid-Afrikaanse universiteite studeer nie.

Kopung Ralikontsane, direkteur-generaal van die Vrystaatse provinsiale regering, praat oor die fiasko met beurse in die provinsie. Foto: Mlungisi Louw

Talle ontevrede ouers kla ook by Netwerk24 oor hul kinders wat in die buiteland in lande soos Belarus, China, Turkye, Rusland, Bulgarye, Portugal en Duitsland, gestrand sit omdat die Vrystaatse regering nie geld het om hulle almal gelyk vir die huidige vakansie van twee maande in die buiteland huis toe te bring nie.

In dié stadium lyk dit asof die meeste studente se beursgeld deur probleme geraak word.

Kopung Ralikontsane, direkteur-generaal van die Vrystaatse provinsiale regering in Bloemfontein, sê volgens die begroting, wat onlangs in die wetgewer goedgekeur is, het die premierskantoor van Sisi Ntombela R284 miljoen gekry vir staatsbeurse in Suid-Afrika en in die buiteland.

“Ons sal eers ’n rekonsiliasie moet gaan doen en sal teen Dinsdag kan sê hoeveel van die beurse sover uitbetaal kon word.”

Volgens hom is daar sowat 10 200 studente wat aan universiteite in Suid-Afrika met dié beurse studeer en nog 1 180 studeer aan buitelandse universiteite.

Ralikontsane erken dit is moeilik om al die oorsese studente gelyk huis toe te bring omdat dit R11 miljoen kos. “Ons bring in dié stadium bietjies-bietjies van die oorsese studente huis toe.”

Ons mag nie meer as 45% van die begroting bestee voordat die toepaslike finansiële wetsontwerp eers goedgekeur is nie.

Hy sê die probleem het ingekom met die begin van die sesde administrasie van die regering wat nou begin het.

“Ons mag nie meer as 45% van die begroting bestee voordat die toepaslike finansiële wetsontwerp eers goedgekeur is nie. Dit is verlede week gedoen en ons kan nou begin bestee.”

Ralikontsane sê nog ’n probleem kom voor by Suid-Afrikaanse universiteite waar beursgeld reeds aan universiteite oorbetaal is. Van die geld moet in die rekenings van die studente terugbetaal word vir verblyf as hulle nie in die koshuise van die universiteite is nie, vir die aankoop van boeke, kos en brandstof vir motors.

“Dié terugbetalings moet elke keer deur die Vrystaatse regering goedgekeur word. Baie van die terugbetalings is nog nie gedoen nie.”

Kapung Ralikontsane, direkteur-generaal van die Vrystaatse provinsiale regering, sê hulle gee aandag aan die probleme met beurse. Foto: Mlungisi Louw

Hy sê hulle is vandeesweek besig om die studente van die Universiteit van die Vrystaat se beursgeld uit te pluis. “Daar was 800 wat nog nie beurse gekry het nie, waarvan 500 dit onlangs gekry het. Nog meer as 300 studente het nog nie geld gekry nie.”

Hy sê volgende week sal die studente aan die Sentrale Universiteit vir Tegnologie se beurse afgehandel word, en dan volg dié in die res van die land.

Ouers meen dit is een van die grootste beurs-fiasko’s tot nog toe.

’n Pa van Bloemfontein sê van die kinders wat medies in dié stad studeer, loop tussen die staatshospitale omdat hulle nie geld vir brandstof het nie.

Van die ouers sê hul kinders se beurse is wel oorbetaal in Suid-Afrika, maar daar is ’n embargo geplaas op die onttrekking van geld. Dit is glo gedoen sodat ’n ondersoek na ’n beweerde korrupsiesaak met uitbetalings van die beursgeld eers afgehandel kan word.

Ralikontsane sê egter daar is geen ondersoek na korrupsie nie, maar twee amptenare wat met die beurse werk, is geskors hangende ’n tugverhoor omdat hulle moontlik te veel geld voortydig uitbetaal het.

Ralikontsane sê studente wat oorsee studeer, se geld word direk aan die departement van internasionale betrekkinge en samewerking betaal. Dié departement betaal dit weer aan die verskillende ambassades oor. Van daar af word dit na die verskeie universiteite oorbetaal.

Buitelandse studente wat nou twee maande vakansie het, se akademiese jaar begin September.

Meer oor:  Sisi Ntombela  |  Vrystaat  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.