Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Agrizzi: Dok dalk R200 000 op vir k-woord
Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van die eertydse Bosasa, saam met Andries van Tonder (links), voormalige hoof finansiële beampte van dié instansie, buite die gelykheidshof in Randburg. Foto:Werner Beukes

Angelo Agrizzi kan dalk R200 000 opdok en ’n sensitiwiteitskursus volg as deel van ’n skikkingsooreenkoms met die Menseregtekommissie (MRK) omdat hy die k-woord gebruik het.

Die haatspraak-en-diskriminasiesaak teen die voormalige bedryfshoof van Bosasa is Woensdag in die gelykheidshof in Randburg tot 27 Junie uitgestel.

Die MRK hoop dat die saak in hierdie tyd buite die hof met Agrizzi geskik sal word.

“Ek is hoopvol dat albei partye ’n ooreenkoms sal bereik,” het Buang Jones, Gautengse bestuurder van die MRK wat die klagte aanhangig gemaak het, gesê. “Ons eis ’n bedrag van R200 000 en hoop om die saak op ’n kreatiewe manier op te los.”

Volgens Jones wil die MRK ook hê dat Agrizzi ’n sensitiwiteitskursus volg en alle Suid-Afrikaners vir sy uitlatings verskoning vra.

Buang Jones, Gautengse bestuurder van die Menseregtekommissie, buite die hof. Foto: Werner Beukes

Die MRK se klag teen Agrizzi volg op getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na bewerings van staatskaping. Agrizzi het erken dat hy rassistiese skelwoorde gebruik het.

Luidens ’n verklaring deur die MRK kan op ’n klankgreep wat by die kommissie ingedien is, gehoor word hoe Agrizzi herhaaldelik die k-woord gebruik en “lag met die mense met wie hy praat”.

Met sy verskyning Woensdag, het Agrizzi, geklee in ’n donker pak en strepieshemp, buite die hof aan joernaliste buite gesê hy het die Suid-Afrikaanse publiek reeds vir sy uitlatings om verskoning gevra. “Laat die reg sy gang gaan,” het hy gesê.

Agrizzi het voor die kommissie getuig oor Bosasa se beweerde omkopery van politici. Die klankgreep is op sosiale media gedeel en later voor die kommissie gespeel. Daarop gebruik Agrizzi die k-woord om na Joe Gumede, Bosasa se voorsitter, en Papa Leshabane, ’n direkteur van die maatskappy, te verwys.

Agrizzi het in Januarie in sy getuienis voor die kommissie erken dat hy ’n rassis is. “Ek is rassisties...oordeel my daarvoor...dit is in die haak,” het Agrizzi gesê nadat die klankgreep voor die kommissie gespeel is.

Sy uitlatings in die klankgreep is as “blatant rassisties” en “hoogs aanstootlik” beskryf. Hy het later verskoning gevra en erken dat hy “verleë” en “skaam” oor sy uitlatings is.

“Indien daar nie oor ’n skikking ooreengekom word nie, het twee voormalige swart bestuurders van Bosasa aangedui dat hulle getuienis teen Agrizzi in die hof sal lewer,” het Jones gesê. Hy wou nie onmiddellik die identiteite van die bestuurders bekend maak nie.

Meer oor:  Angelo Agrizzi  |  Gelykheidshof  |  Boete  |  K-Woord  |  Menseregtekommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.