Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘ANC misluk met werkskepping in O-Kaap’
Yazini Tetyana, voorsitter van die EFF in die Oos-Kaap.

Voordat Phumulo Masualle, Oos-Kaapse premier, Vrydag sy provinsiale rede in Bhisho lewer, sal hy deur ’n plakkaatbetoging begroet word.

Dié optrede van die DA Jeug (DAY) is om die “werkloosheidskrisis” van die Suid-Afrikaanse jeug aan die premier voor te hou.

Die DA in die Oos-Kaap sê die ANC-regering het misluk in sy pogings om werkgeleenthede te skep.

Nqaba Bhanga, die DA se premierskandidaat in die provinsie, het Woensdag op die DA se weergawe van die provinsiale rede gesê die Oos-Kaap is ’n gebroke provinsie wat gebreek is deur die ANC-regering wat die afgelope 25 jaar sy eie belange bo dié van die provinsie se mense plaas.

Volgens Bhanga dui die jongste statistieke daarop dat werkloosheid in die provisie steeds styg en is die syfer in die vierde kwartaal van 35,6% op tot 36,1%.

“Werkloosheid veroorsaak verwoesting onder families wat sukkel om vir skoolgeld, kos en medies te betaal.

Max Mhlati, UDM-leier in die Oos-Kaap.

“Diegene in magsposisies misbruik dit deur seks vir werk te eis. Dit kan nie toegelaat word nie.”

Masualle het verlede jaar in sy provinsiale rede gesê dat daar slegs 1,7% ekonomiese groei vir 2019 voorspel word en hy het erken die werkloosheidsyfer klim steeds.

Hy het toe gespog met die afgelope vier jaar se meer as 508 000 werkgeleenthede wat deur sy uitgebreide openbarewerkeprogram geskep is, maar biskop Lievie Sharpley, Cope-leier in die wetgewer, meen werkgeleenthede en ontwikkeling moet ook in die landelike dele van die provinsie gesien word.

“Daar is te veel klem gelê op die stede terwyl die landelike gebiede geen ontwikkeling geniet nie en die jeug in die tavernes opeindig.”

Sharpley het verder gesê hy sal graag wil hoor dat Masualle Vrydag ook aandag sal gee aan die verbetering van die gesondheidsdepartement.

“Dié departement is besig om ineen te stort. Die ontsettende groot finansiële eise (vir nalatigheid) teen die departement, wat 70% van sy begroting is, is ’n bewys daarvan.”

Hy sê die premier moet duidelike planne aankondig oor hoe die regering die personeeltekorte in hospitale en klinieke gaan takel. “Meer moet ook gedoen word om te sorg dat daar mediese voorraad by gesondheidsgeriewe is, aangesien pasiënte wat van chroniese medikasie soos teenvigsmiddels en bloeddrukpille afhanklik is, nie sonder hierdie middels oor die weg kan kom nie.”

Lievie Sharpley, Cope-leier in die Oos-Kaapse wetgewer.

Sharpley sê daarby moet die departemente van gesondheid en paaie ook nouer saamwerk om die toegang na en van landelike gebiede vir noodvoertuie te verbeter.

Dié punt is deur Max Mhlati, UDM-leier in die Oos-Kaap, beaam.

Mhlati sê die provinsie moet sy kop in skaamte laat sak oor die toestand van die paaie en infrastruktuur, veral in die landelike gebiede. “As dit reën, kan onderwysers en kinders nie by die skole uitkom nie. Dan is daar die kwessie van modderskole wat aan die verkrummel is en die gevaarlike puttoilette by skole wat net nie uitgeroei kan word nie. Ons wil hoor wat die premier hieraan gaan doen.”

Tog glo Mhlati dat Masualle se toespraak nie een van dié punte sal bevat nie, aangesien dit ’n verkiesingsjaar is.

“Die premier sal net op die goeie fokus, soos die matriekresultate en die vordering wat Sanral met die hoofpaaie gemaak het. Hy sal die probleme eenvoudig systap.”

Nqaba Bhanga, die DA se premierskandidaat in die Oos-Kaap.

Yazini Tetyana, voorsitter van die EFF in die Oos-Kaap, voel weer die provinsiale rede is ’n doellose oefening, aangesien Masualle net drie maande in sy amp oor het.

“Daar is niks wat hy sal kan sê wat ons mening oor hom en sy party sal kan verander nie. Hulle het misluk in soveel aspekte.

“Ná die verkiesing sal die EFF in beheer wees, want die dinamiek van die politiek stuur af op ’n koalisieregering en ons is gereed daarvoor.”

Tetyana sê ook een van Masualle se grootste struikelblokke was sy pogings tot werkskepping en die lok van beleggings.

“Ons hoor jaar ná jaar dié planne, maar ons wil eerder hoor wat is die tydraamwerke en implementeringsplanne, veral om dienslewering en die gesondheidsdepartement te verbeter.”

Meer oor:  Phumulo Masualle  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.