Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC swyg oor voorstel vir verdaging van parlement

Die ANC in die parlement kon nie bevestig of dié party Woensdag ’n voorstel ter tafel sal lê om die parlement later vanjaar vir tot twee en ’n half maande te laat verdaag sodat LP’s kan help met die voorbereiding vir die beweerde vervroegde nasionale verkiesing nie.

Dit volg nadat die Daily Maverick Dinsdag berig het dat dié publikasie vertroulik verneem het dat die ANC sy voorstel daaroor Woensdag in ’n sitting van die gesamentlike programkomitee van die parlement sal indien.

Die Daily Maverick het berig dat die voorstel onder meer sal lui dat die parlement van einde Mei tot Augustus vanjaar in reses sal gaan om politieke partye kans te gee om voor te berei vir die beweerde vroeë verkiesing.

Intussen het die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) egter tydens sy verskyning in die parlement Dinsdag niks van vervroegde verkiesings gesê nie.

Glen Mashinini, voorsitter van die OVK, het aan die portefeuljekomitee oor binnelandse sake gesê dat die 2018-’19-boekjaar na verwagting een van die besigste jare in die OVK se bestaan sal wees.

John Steenhuisen, DA-hoofsweep. Foto: Nasief Manie

Hy het ook gemeld dat die 2019- algemene verkiesing egter een van die mees “betwiste en robuuste” in die demokratiese Suid-Afrika sal wees en dat dit soos wetgewing vereis na alle verwagting tussen Mei en Augustus 2019 sal plaasvind.

Nonceba Mhlauli, woordvoerder vir die ANC-koukus, het Dinsdag gesê sy kan nie die Daily Maverick se bewerings bevestig nie. “As ’n besluit hieroor eers geneem is, sal ons dit kan bevestig.”

Die ANC se nasionale uitvoerende komitee het ná sy vergadering die afgelope naweek in Kaapstad egter gesê dat die party “sy strukture voorberei om ten volle deel te neem in alle aspekte wat tot sukses in die volgende algemene verkiesings kan lei”.

Cedrick Frolick, komiteevoorsitter in die Nasionale Vergadering, het Dinsdag gesê daar is ’n vergadering met die programkomitee vir Woensdag belê. “Ek weet egter nie wat daartydens bespreek sal word nie.”

John Steenhuisen, DA-hoofsweep, het gesê daar sal baie goeie redes moet wees vir die parlement om vir so lank te verdaag.

“Daar is tans 33 uitstaande wetsontwerpe wat die parlement moet deurvoer, veral omdat sommige daarvan al sedert 2015 sloer.

“Ons sal baie graag wil weet wat agter so ’n besluit sal wees. Dit kan net vir vervroegde verkiesings wees of vir die ANC om sy lysprosesse vir die verkiesings af te handel.”

Hy meen die ANC moet oop kaarte speel omdat die parlement nie tot stilstand gebring kan word weens ANC-planne nie.

Intussen het Sy Mamabolo, OVK-hoofverkiesingsbeampte, ook Dinsdag aan die portefeuljekomitee gesê dat die verkiesings ten spyte van die OVK se finansiële tekort van sowat R230 miljoen, nie vertraag sal word nie.

Hy het bygevoeg die OVK is tans ook druk besig om sy tegnologiese stelsels op te knap omdat dit noodsaaklik is om suksesvolle verkiesings te verseker.

Volgens hom is een van die kommissie se grootste uitdagings steeds om alle kiesers se adresse op die nasionale kiesersrol te kry, veral in informele nedersettings.

Mamabolo het gesê meer as 500 politieke partye is by die OVK geregistreer. “Ons verwag dat meer partye in aanloop tot die verkiesings sal registreer,” het hy gesê.

Meer oor:  John Steenhuisen  |  Parlement
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.