Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Cele plaas politieke druk op parlement’

Bheki Cele, minister van polisie, wou met die brief waarin hy Robert McBride inlig dat hy nie sy termyn as uitvoerende direkteur van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) sal verleng nie, die parlement dreig en politieke druk toepas om sy besluit te ondersteun.

Robert McBride. Foto: Cornél van Heerden

Só het Dianne Kohler Barnard, DA-LP, Maandag gesê toe LP’s in die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie die skriftelike voorleggings bespreek het wat Cele, McBride, die Helen Suzman-stigting (HSS) en Corruption Watch vroeër oor McBride se lot ingedien het.

ANC-LP’s meen egter daar is duidelik ’n vertrouensbreuk tussen Cele en McBride en dat die twee nie gedwing kan word om verder saam te werk nie.

Die komitee moet oor McBride se toekoms besluit nadat die hooggeregshof in Pretoria vroeër ’n skikkingsbevel tussen Cele en McBride bekragtig het wat die komitee tot 28 Februarie tyd gee om daaroor te besluit.

Die HSS en Corruption Watch is as vriende van die hof toegelaat in daardie dringende aansoek wat McBride teen Cele ingedien het omdat McBride glo net die portefeuljekomitee kan sy termyn beëindig of verleng.

Die HSS wil egter die skikkingsbevel deur ’n hof laat hersien omdat dit glo die onafhanklikheid van Opod daardeur ondermyn.

Kohler Barnard het in haar spreekbeurt Maandag gesê Cele se brief kom neer op politieke druk op die komitee.

“Die brief is amper soos ’n dreigement aan die portefeuljekomitee om te doen wat hy (Cele) sê.

“Dit irriteer my, want dit lyk of ons weer hier ’n ‘vuurpoel’-rolprent het (soos dié van Nathi Nhleko, voormalige minister van polisie, wat die swembad by oudpres. Jacob Zuma se Nkandla ’n vuurpoel genoem het). Ons is daarby verby en sulke onsin moet eindig.”

Volgens Kohler Barnard het die Staatsdienskommissie die beweringe wat Cele teen McBride gebruik, teruggetrek.

Kohler Barnard sê dit is fopnuus, soos die beweringe wat destyds teen genl.maj. Johan Booysen en Anwa Dramat, destydse Valkehoofde, gemaak is.

Sy meen McBride word geteiken omdat hy multimiljoene rande se korrupsie in die polisie oopvlek.

As iemand beter as hy bevind word, moet hy ander werk soek. Hy is nie die eerste Opod-hoof nie. Hulle kom en gaan.

Jerome Maake, ANC-LP, sê daar is duidelik ’n vertrouensbreuk tussen McBride en Cele en dat hulle nie langer kan saamwerk nie.

Hy meen die portefeuljekomitee kan nie twee mense dwing om saam te werk nie.

Ahmed Emam-Shaik, NFP-LP, sê McBride se kontrak is duidelik en maak nie voorsiening vir ’n verlenging daarvan nie.

Mfakazeleni Buthelezi, IVP-LP, sê hoewel daar ’n vertrouensbreuk tussen Cele en McBride is, moet die komitee steeds ’n besluit oor McBride se toekoms neem wat op sy prestasie in die pos gegrond is.

Livhuhani Mabija, ANC-LP, sê as McBride belangstel om voort te gaan as Opod-hoof, moet hy weer vir die pos aansoek doen.

“As iemand beter as hy bevind word, moet hy ander werk soek. Hy is nie die eerste Opod-hoof nie. Hulle kom en gaan.”

Sy meen egter McBride, ’n ANC-struggle-veteraan, moet deur sy party getug word oor die prosesse waardeur hy nou gaan om sy pos te behou.

Mabiya sê dit sal ’n “verkeerde en slegte” presedent skep as in McBride se guns beslis sou word omdat ander staatsamptenare, wie se kontrakte ook eindig, op soortgelyke behandeling aanspraak sal maak.

Die gesprek hieroor duur Dinsdag voort.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.