Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
De Lille die grootste verrassing in kabinet

Patricia de Lille, Good-leier, se insluiting in pres. Cyril Ramaphosa se nuwe kabinet was Woensdagaand die grootste verrassing nadat die kabinet uiteindelik ná ’n lang gewag Woensdagaand aangekondig is.

Nóg ’n verrassing was die aanwys van ’n minister van werkskepping en arbeid.

Soos belowe het Ramaphosa die kabinet verklein. Hy het te midde van groot afwagting en ná ’n effense vertraging bekend gemaak dat die kabinet van 36 ministers tot 28 verminder is.

cyril
Pres. Cyri Ramaphosa maak sy nuwe kabinet bekend. Foto: Felix Dlangamandla

Verskeie departemente is saamgevoeg. Handel en nywerheid is met ekonomiese ontwikkeling gekombineer; hoër onderwys met wetenskap en tegnologie; omgewingsake met bosbou en visserye; landelike ontwikkeling en grondhervorming met landbou; minerale hulpbronne met energie; menslike nedersettings met water en sanitasie en sport met kuns en kultuur.

Ramaphosa het belowe dat prestasie-ooreenkomste met vasgestelde teikens met elke minister onderteken sal word en dat hulle daaraan gemeet sal word.

Ná druk bespiegeling en drama die afgelope week het adj.pres. David Mabuza – nadat hy Dinsdag as LP beëdig is – sy portefeulje in die kabinet behou.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma en dr. Naledi Pandor is albei vroeër voorgehou is as moontlike kandidate wat Ramaphosa as adjunkpresident kon aanstel.

Dlamini-Zuma is aangewys as die nuwe minister van samewerkende regering en tradisionele sake terwyl Pandor die nuwe minister van internasionale betrekkinge en samewerking is.

Pravin Gordhan is ten spyte van ’n hofgeding waarin hy tans met adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer, gewikkel is, ook weer aangestel as minister van openbare ondernemings waar hy steeds politieke beheer oor van die land se sukkelende staatsinstellings soos Eskom en die Suid-Afrikaanse Lugdiens sal hê.

Skok-weglatings uit Ramaphosa se kabinet was Jeff Radebe, sy swaer, wat sedert 1994 in elke kabinet gedien het. Derek Hanekom, dr. Rob Davies, Gugile Nkwinti, Senzeni Zokwana, Susan Shabangu, Mildred Olifant, Thokozile Xasa, Bathabile Dlamini en Nomvula Mokonyane het ook nie die paal gehaal nie.

Tito Mboweni bly egter aan as minister van finansies met die nuweling dr. David Masondo as die adjunkminister van finansies.

Thoko Didiza is aangestel as die minister van landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming. Die departement sal aan die voorpunt van grondhervorming in die land wees. Haar adjunkte is S’dumo Dlamini en Mcebisi Skwatsha.

Intussen het Brett Herron, sekretaris-generaal van De Lille se Good-party, haar aanstelling in die kabinet Woensdagaand verwelkom.

“Ons Good-leier is versoek om ons land te dien en ons kan net reageer deur te sê dat ’n goeie persoon versoek is om iets te doen. Die president het die verbintenis en prestasierekord van ’n groot Suid-Afrikaner erken en ons ondersteun haar aanstelling en die bydrae wat sy versoek is om te maak.

“Good sal ’n opposisieparty in die nasionale vergadering en die provinsiale wetgewer bly. Ons sal aanhou om ons ondersteuning te bied waar ons regering die regte ding doen, oplossings bied waar nodig en enigiets wat verkeerd, korrup en onregverdig is, ontbloot,” het Herron gesê.

Mmusi Maimane, DA-leier, het oor De Lille se aanstelling gesê: “Sy het beslis ’n rol gespeel in die ANC se (verkiesings-)veldtog en haar aanstelling is deel van ’n beloning wat op die tafel was.”

“Ek wens die hele kabinet voorspoed toe. Hulle sal as partye saamwerk en ons moet haar nie beskerm van enige verantwoordbaarheid nie om seker te maak sy en die hele kabinet doen wat van hulle verwag word.”

Hier is volledige lys van die nuwe kabinet:

Adjunkpresident: David Mabuza

Minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling: Thoko Didiza. Haar adjunkte is S’dumo Dlamini en Mcebisi Skwatsha.

Minister van basiese onderwys: Angie Motshekga. Haar adjunk is dr. Reginah Mhaule.

Minister van kommunikasie: Stella Ndabeni-Abrahams. Die adunk is Pinky Kekana.

Minister van samewerkende regering en tradisionele sake: Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma. Die adjunkte is Parks Tau en Obed Bapela.

Minister van verdediging en militêre veterane: Nosiviwe Mapisa-Nqakula. Die adjunk is Thabang Makwetla.

Minister van omgewingsake, bosbou en visserye: Barbara Creecy. Die adjunk is Maggie Sotyu.

Minister van werkskepping en arbeid: Thulas Nxesi. Die adjunk is Boitumelo Moloi.

Minister van finansies: Tito Mboweni. Die adjunk is dr. David Masondo.

Minister van gesondheid: Dr. Zweli Mkhize. Die adjunk is dr. Joe Phaahla.

Minister van hoër onderwys en opleiding, wetenskap en tegnologie: Dr. Blade Nzimande. Die adjunk is Buti Manamela.

Minister van binnelandse sake: Dr. Aaron Motsoaledi. Die adjunk is Njabulo Nzuza.

Minister van menslike nedersettings, water en sanitasie: Lindiwe Sisulu. Die adjunkte is Pam Tshwete en David Mahlobo.

Minister van internasionale betrekkinge en samewerking: Dr. Naledi Pandor. Die adjunkministers is Alvin Botes en Candith Mashego-Dlamini.

Minister van justisie en korrektiewe dienste: Ronald Lamola. Die adjunkte is John Jeffries en Inkosi Phathekile Holomisa.

Minister van minerale bronne en energie: Gwede Mantashe. Die adjunk is Bavelile Hlongwa.

Minister van polisie: Bheki Cele. Die adjunk is Cassel Mathale.

Minister in die presidensie: Jackson Mthembu. Die adjunk is Thembi Siweya.

Minister in die presidensie belas met vroue, jeug en persone met gestremdhede: Maite Nkoana-Mashabane. Die adjunk is prof. Hlengiwe Mkhize.

Minister van openbare ondernemings: Pravin Gordhan. Die adjunk is Phumulo Masualle

Minister van staatsdiens en administrasie: Senzo Mchunu. Die adjunk is Sindy Chikunga.

Minister van openbare werke en infrastruktuur: Patricia de Lille. Die adjunk is Noxolo Kiviet

Minister van kleinsake-ontwikkeling: Khumbudzo Ntshavheni. Die adjunk is Rosemary Capa.

Minister van maatskaplike ontwikkeling: Lindiwe Zulu. Die adjunk is Henrietta Bogopane-Zulu.

Minister van sport, kuns en kultuur: Nathi Mthethwa. Die adjunk is Nocawe Mafu.

Minister van staatsveiligheid: Ayanda Dlodlo. Die adjunk is Zizi Kodwa.

Minister van toerisme: Mmamoloko Nkhensani Kubayi-Ngubane. Die adjunk is Fish Mahlalela.

Minister van handel en nywerheid: Ebrahim Patel. Die adjunkte is Fikile Majola en Nomalungelo Gina.

Minister van vervoer: Fikile Mbalula. Die adjunk is Dikeledi Magadzi.

kabinet
Grafika: Kabinet

Meer oor:  Patricia De Lille  |  Cyril Ramaphosa  |  Kabinet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.