
Patricia De Lille, leier van Good. Foto: Lindile Mbontsi
Patricia de Lille, voormalige burgemeester van Kaapstad, is die Good-party se premierskandidaat vir die Wes-Kaap.
Die party, wat sy verkiesingsmanifes verlede week uitgereik het, het dié aankondiging Sondag gemaak.
Die party sê hy is opgewonde oor Suid-Afrikaners “van regoor die land” se reaksie op sy verkiesingsmanifes en dat daar vrywilligers is wat in ál nege provinsies vir die party werk.
Brett Herron, die party se woordvoerder, sê die manifes is gegrond op drie beleidsdokumente wat nog gefinaliseer moet word, wat volg op Good se beleidskonferensie drie weke gelede.
De Lille was die enigste benoeming in die Wes-Kaap.
Herron sê die party het die laaste paar weke gekyk na geskikte kandidate vir premiers in al die provinsies.
Provinsiale komitees in elke provinsie is gevra om benoemings aan die nasionale leierskap te stuur.
Die benoemings vir premiers in vier provinsies – die Wes-Kaap, Noord-Kaap, Gauteng en Noordwes – is gefinaliseer.
De Lille was die enigste benoeming in die Wes-Kaap.
Noordwes se kandidaat is Vivien Law, ’n sakevrou en filantroop. die Noord-Kaap se kandidaat is Leonard McKay, ’n voormlaige raadslid wat deesdae sy eie nieregeringsorganisasie bedryf en Gauteng het Lehlonolo Mtshali benoem. Mtshali is medestigter van die Township Business Association wat jong sakelui oplei en befonds.
Herron sê die proses om premierskandidate vir die ander vyf provinsies te kies is steeds onderweg.