Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Guptas dalk in Februarie na parlement ontbied

Die nasionale vervolgingesag (NVG) het tot die gevolgtrekking gekom dat die betalings wat Eskom aan die konsultantemaatskappy McKinsey en Trillian Capital Partners gemaak het, misdade soos bedrog, diefstal, korrupsie en geldwassery insluit.

Die NVG kom ook tot die slotsom dat dié betalings doelbewus en bedrieglik Eskom se aanskaffingsbestuursprosesse omseil het.

Ons sal hulle nooi om voor die komitee te verskyn op dieselfde wyse waarop ons al die ander mense genooi het. As hulle nie reageer nie, sal ons regstappe doen.
Zukiswa Rantho

Dié inligting is volgens News24 vervat in ’n sterk bewoorde ondersteunende verklaring vir die aansoek by die hooggeregshof in Pretoria vir die uitreiking van bewaringslasbriewe vir byna R1,6 miljoen se bates van die twee maatskappye.

In nog ’n verwikkeling het die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (Cipro) gister gesê dat die registrateur van maatskappye in November en Desember reeds strafsake teen SAP, KPMG en McKinsey by die polisie aanhangig gemaak het (sien Sake).

Dit het ook gister aan die lig gekom dat twee van die omstrede Gupta-broers, vriende van pres. Jacob Zuma, so gou as Februarie reeds na die parlement ontbied kan word om uitgevra te word oor staatskaping.

Weier hulle, is die kans nie uitgesluit nie dat die parlement regstappe sal doen om hulle daar te kry, het Zukiswa Rantho, voorsitter van die portefeuljekomitee oor openbare ondernemings, gister gesê.

Verskeie dienende en voormalige bestuurslede van Eskom en ook Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, het reeds voor dié komitee verskyn wat beweerde staatskaping by drie staatsbeheerde maatskappye ondersoek.

Rantho het gesê hulle het verlede jaar ’n brief van die Gupta-familie se regsverteenwoordigers ontvang waarin hulle versoek het dat vrae van die getuienisleier, adv. Ntuthuzelo Vanara, vooraf aan hulle gestuur word.

“Ons gaan dit nie doen nie. Ons weier om die vrae vooraf aan hulle te stuur.

“Ons sal hulle nooi om voor die komitee te verskyn op dieselfde wyse waarop ons al die ander mense genooi het. As hulle nie reageer nie, sal ons regstappe doen,” het Rantho gesê.

“Dit is baie belangrik dat hulle voor die komitee verskyn omdat al die werk wat by Eskom gedoen is – elke tender wat by Eskom uitgegaan het, skynbaar om hulle draai. Ons wil vasstel wat hul betrokkenheid in die bedrywighede van Eskom en die regering was, omdat dit lyk asof hulle die regering bestuur,” het sy gesê.

Die komitee hervat Dinsdag sy werk wanneer die getuienis van Anoj Singh, die vorige finansiële hoof van Eskom, aangehoor sal word. Matshela Koko, vorige waarnemende hoof van Eskom, is geskeduleer om die Woensdag te verskyn.

’n Fluitjieblaser in die staatskapingsage, Bianca Goodson, voormalige uitvoerende hoof van Trillian Management Consulting (’n filiaal van Trillian Capital Partners) het gesê sy het gehoop dat die koppe in die staatskapingsage Dinsdag sou begin rol, “maar toe gebeur daar niks”.

Sy het op nuus gereageer dat die batebeslagleggingseenheid (BBE) van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) haar voormalige maatskappy in sy visier het in sy ondersoek na staatskaping.

City Press het Maandag berig die batebeslagleggingseenheid (BBE) het bewaringslasbriewe bekom ten opsigte van Trillian Capital Partners en Mckinsey, om sowat R1,6 miljard se bates te bevries.

Dit sou Dinsdag beteken word, maar dit kon teen druktyd nog nie vasgestel word of dit wel gebeur het nie aangesien die omdat die BBE ’n verklaring sou uitreik sodra dit gedoen is.

“Ek was effens hoopvol toe ek die City Press-berig lees en kan maar net hoop daar sal wel iets hiervan kom,” sê Goodson.

Trillian het honderde miljoen rand gemaak uit ’n ongeldige kontrak vir ’n “omkeerstrategie” wat die internasionale konsultasiemaatskappy McKinsey teen R1,6 miljard vir Eskom gelewer het.

Salim Essa, ’n noue bondgenoot van die Gupta-familie, was in dié tyd aan die stuur van Trillian.

Trillian en Mckinsey is egter slegs twee van talle firmas in die visier van die NVG se ondersoek na staatskaping.

Adv. Knorx Molelle, waarnemende hoof van operasies van die BBE, sê in ’n onderhoud met eNCA hulle hoop om minstens R50 miljard terug te kry in 17 staatskapingsake wat tans ondersoek word. - Philda Essop, Ugen Vos en Llewllyn Prince.

Meer oor:  Zukiswa Rantho  |  Guptas  |  Parlement
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.