Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Huwelike: ‘Dis ’n stap in die regte rigting’

Huweliksbevestigers wat gewetensbesware het, sal moontlik binnekort nié mag weier om paartjies van dieselfde geslag in die huwelik te bevestig nie.

Die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) het Woensdag die Wysigingswetsontwerp op die Wet op Burgerlike Verbintenisse goedgekeur.

Luidens ’n verklaring van die drukgroep Cause for Justice (CFJ), wat hom vir die reg op godsdiensvryheid beywer, is hierdie verwikkeling kommerwekkend omdat daar nou regsimplikasies ontstaan en huweliksbevestigers se keuse van hulle af weggeneem word indien hulle ’n gewetensbeswaar sou hê om twee mense van dieselfde geslag in die eg te verbind.

CFJ is al geruime tyd besig om die regering bewus te maak van die probleem met die wetswysiging en eis dat huweliksbevestigers van die staat steeds mag weier om mense van dieselfde geslag in die huwelik te bevestig.

Die parlement se portefeuljekomitee oor justisie het twee weke gelede besluit art. 6 van die Wet op Burgerlike Verbintenisse moet herroep word. Dié wet het bepaal ’n huweliksbevestiger van die staat moet die minister van binnelandse sake in kennis stel indien hy op grond van sy gewete of godsdiens beswaar het om selfdegeslagpaartjies in die eg te verbind. Die wysigingswetsontwerp neem hierdie reg nou weg.

Die kwessie is sedert 2017 reeds in die parlement deur Deidre Carter, toe nog ’n Cope-LP, aangeroer toe sy aangevoer het dat sy talle klagtes van gay paartjies ontvang dat hulle beledig is toe hulle wou trou, en hulle na ander dorpe of stede moes gaan waar amptenare wel gewillig was om hulle in die huwelik te bevestig.

Wysigingswet goedgekeur

Die NRP het die wysigingswetsontwerp Woensdag goedgekeur en dit word nou na die president gestuur vir sy aanvaarding, en indien wel, sal dit as wet gepromulgeer word. Die klousule oor gewetensbesware is dan uit die wet verwyder.

CFJ meen dié klousule is juis daar om die regte van huweliksbevestigers te beskerm sodat hulle nie gedwing word om paartjies van dieselfde geslag in die eg te verbind nie as dit sal inbreuk maak op hul geloofsoortuiging.

CFJ sê hy het herhaaldelik aangevoer ’n wettige raamwerk – wat die regte van huweliksbevestigers én paartjies van dieselfde geslag beskerm – moet bo enige regsregime aanvaar word, eerder as een wat teen een van die partye diskrimineer.

Luidens die verklaring het net ’n derde van die LP’s in die NRP ten gunste van die wysigingsontwerp gestem. Dit was egter genoeg.

Verskeie organisasies wat hulle beywer vir die regte van gay mense meen dat die wetsontwerp ’n stap in die regte rigting is.

'Geen ruimte vir diskriminasie'

Hennie Pienaar, stigter van Queers Without Borders, het gesê indien die wet gepromulgeer word, sal daar nie meer ruimte wees vir mense om te diskrimineer nie.

Ook Jabulani Pereira, direkteur van die gayregte-organisasie Iranti van Johannesburg, sê ’n huweliksbeampte moet die wet gehoorsaam.

“Ons het die afgryslike impak gesien en die trauma wat veroorsaak is toe paartjies van dieselfde geslag geweier is om te trou.”

Pereira sê die regering moet die klousule oor geloofsoortuiging uit die wet verwyder, asook in ander wette waarin dit dieselfde impak het (soos die reg op aborsie).

Dit gaan oor die fundamentele menslike reg om nie teen gediskrimineer te word weens jou seksuele oriëntasie nie.

Die Regshulpbronsentrum (LRC) het die goedkeuring van die wysigingswetsontwerp in die NRP verwelkom.

Die LRC meen die klousule maak dat daar steeds teen paartjies van dieselfde geslag gediskrimineer kan word, en daarom steun hy die wetswysiging.

Estian Smit van die Triangle Project steun ook die poging om die klousule te verwyder.

“Dit gaan oor die fundamentele menslike reg om nie teen gediskrimineer te word weens jou seksuele oriëntasie nie.”

Die Triangle Project is sedert 2018 besig om saam met die Women’s Legal Centre en Lawyers for Human Rights voorleggings te doen ter ondersteuning van die wysiging van die wet.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.