Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
KYK: Skok en woede nadat EFF-LP glo polisieman klap

Lede van die EFF se skynbaar goeie gedrag tydens pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede Donderdagaand was klaarblyklik van korte duur.

’n Video-opname van ’n voorval waarin ’n EFF-LP ’n man ná die staatsrede geklap het, het Vrydag die ronde gedoen op sosiale media.

Die video wys hoe Marshall Dlamini, ’n EFF-LP, en ander EFF-LP’s, insluitend Julius Malema, die partyleier, koppe stamp met beamptes wat hulle wou keer om die voorportaal van die Nasionale Vergadering te verlaat.

’n Mens sien hoe Malema sy vinger in die man se rigting swaai voordat Dlamini hom slaan.

’n Vrou stoot Dlamini dan weg voordat ’n ander man tussenbeide tree.

Dié drama het ontstaan kort ná die president se staatsrede toe EFF-lede die parlementsgebou wou verlaat.

Die bebloede polisieman nadat hy aangerand is. Foto: Verskaf

Dlamini en ander EFF-lede het nie Vrydag oproepe beantwoord nie, maar die party het ’n verklaring uitgereik.

Die EFF sê ter verdediging sy leier het doodsdreigemente ontvang waarin elite-lede van die veiligheidsdienste glo betrek is, en hulle het geglo hul leier word bedreig.

“Toe Malema en die EFF-leierskap onredelik deur die wit hemde in die parlement gestuit is nadat die huis verdaag het, het ons almal gedink dit is die oomblik en het met die nodige selfverdediging gereageer,” lui die verklaring.

Volgens inligting is die slagoffer ’n adjudant-offisier in die polisie.

Die polisielid se bril het glo op sy gesig aan skerwe gespat en die kant van sy kop is oopgesny.

 

Lees ook: Malema beweer daar is 'n sluipmoord op hom beplan

 

Aanvanklik was daar twyfel oor die beeldmateriaal toe sommige mense gesê het dit kom uit die Zuma-era, maar die polisie het die voorval bevestig.

Brig. Vish Naidoo het gesê twee klagte van aanranding word deur die polisie ondersoek. Sodra die ondersoek afgehandel is, sal die dossier na die NVG verwys word vir moontlike vervolging.”

Naidoo het gevra dat mense met inligting oor die voorval, na vore moet kom.

Sommige mense het op Twitter uitgevaar, terwyl ander die gek geskeer het dat die klap seker in Afrikaans was.

Dean Macpherson, DA-LP, het in ’n twiet gewonder hoekom Dlamini nie in boeie is nie en sê die EFF se jongste daad van geweld behoort nie ’n verrassing te wees nie, want die EFF en Malema bedryf geweld met die afvuur van vuurwapens in die lug, die aanranding van joernaliste en ’n gedreig met volksmoord.

Macpherson sê hy het die drama aanskou.

Ander het gevra dat die slagoffer ’n saak moet open.

Moloto Mothapo, parlementêre woordvoerder, het Vrydag gesê hulle ondersoek die voorval en is nog besig om inligting in te win oor wat gebeur het.

Die presidensiële beamptes van die parlement, onder leiding van Baleka Mbete, speaker van die Nasionale Vergadering, en Thandi Modise, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, het die beweerde aanranding van ’n polisiebeampte by die parlement deur ’n parlementslid van die EFF ten sterkste veroordeel.

“ ’n Aanvanklike verslag beweer die betrokke polisieman, Johan Carstens, wat verantwoordelik was vir die afsperring van die uitgange, is skielik gekonfronteer en aangeval deur die EFF-LP. Dit het tot die besering aan sy gesig gelei.”

Volgens die parlement se verklaring het Carstens ’n saak van aanranding ingedien.

“Die voorsittende beamptes is woedend en teleurgesteld oor die skandelike optrede deur die LP, van wie verwag word om as openbare verteenwoordiger voorbeeldige gedrag aan die res van die samelewing te toon.”

Die parlement wag nou op ’n volledige verslag oor die kwessie om geskikte stappe te bepaal.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.