Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nuwe Onteieningswet kry groen lig by komitee
Die pad tussen Phalaborwa en Hoedspruit in Limpopo. Foto: Sarel van der Walt

Die voorgestelde nuwe Onteieningswet is nóg ’n stap nader daaraan om ’n werklikheid te word.

Dit volg nadat die parlementêre portefeuljekomitee vir openbare werke en infrastruktuur Dinsdag ’n voorlegging van die departement van openbare werke en infrastruktuur daaroor goedgekeur het.

Dié wet het niks te doen met die planne om art. 25 van die Grondwet te verander om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak nie. Dit is ’n afsonderlike proses.

Die voorgestelde wet is deel van die werk van die regering om te verseker dat ’n omvangryke herverspreidingsprogram vir landboudoeleindes, menslike nedersettings en nywerheidsontwikkeling in werking gestel word, sê die departement.

Daar is vroeër besluit die Wet op Onteiening van 1975, wat die Grondwet van 1996 voorafgegaan het, is nie in ooreenstemming met die transformasiemandaat van die Grondwet nie. Die paneel het voorgestel dat die wet van 1975 vervang word.

Noudat die portefeuljekomitee die groen lig vir die wysigingswet gegee het, sal dit vir openbare kommentaar gepubliseer word.

Annelize Crosby, grondhoof van Agri SA, sê die aanduiding is dit sal op 10 Desember gepubliseer word. Die publiek sal dan 60 dae tyd gegun word om kommentaar te lewer en voorleggings te doen.

Daarna sal daar tyd wees vir mondelinge voorleggings aan die parlement voordat openbare sittings in die nege provinsies aangebied sal word.

Die voorgestelde wet is ook reeds na die huis van tradisionele leiers gestuur vir kommentaar.

“Agri SA sal beslis deelneem aan die proses van openbare deelname. Ons sal vra om ’n mondelinge voorlegging te doen,” het Crosby gesê.

“Die vernaamste kwelpunte wat nog oorbly in die voorgestelde wetsontwerp (waarop daar ná lang onderhandelinge in Nedlac ooreengekom is) is die definisie van onteiening.

“Die huidige definisie is baie eng. Dit beteken dat die deur oopgelaat word vir allerlei regulerende maatreëls wat die staat kan neem om iemand se eiendomsreg en die gebruik van jou eiendom te beperk sonder om jou te vergoed.

“Daar is ook die moontlikheid dat eiendom na derde partye oorgedra kan word. Dit is waar die staat nie die eiendom vir homself verkry nie.

“Daarmee saam is daar die artikels wat te make het met die ‘nul-vergoeding’ wat pla.”

Die huidige definisie is baie eng. Dit beteken dat die deur oopgelaat word vir allerlei regulerende maatreëls wat die staat kan neem om iemand se eiendomsreg en die gebruik van jou eiendom te beperk sonder om jou te vergoed.

Crosby sê Thami Mdontswa, waarnemende hoofdirekteur vir die hervorming van die besitregstelsel in die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het Dinsdag aan die portefeuljekomitee aangedui dié departement wil grond waarop daar eise van huurarbeiders is, teen nul-vergoeding afneem.

Agri SA erken die noodsaaklikheid van ’n nuwe onteieningswet, maar meen onteiening moet altyd ’n laaste uitweg wees. Internasionale beste praktyk behoort altyd te geld.

Dit sluit in dat prosesse deursigtig en billik moet wees en dat individue nie die las van ’n maatskaplike koste behoort te dra nie, sê Crosby.

Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur, het verlede maand gesê die nuwe Onteieningswet sal sekerheid aan Suid-Afrikaners en beleggers bring omdat dit onteiening duidelik uitstippel.

“Die Grondwet maak daarvoor voorsiening dat vergoeding vir onteiening ‘billik en regverdig’ moet wees en dat alle toepaslike omstandighede in aanmerking geneem word.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.