Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Plunderaars ‘het g’n keuse gehad nie,’ sê Duduzane

Duduzane Zuma, ‘vriend van die armes’, wil deel wees van verandering – ook eendag as president, berig Dawie Boonzaaier.

Duduzane Zuma en sy pa, oudpres. Jacob Zuma, in 2019 met ’n verskyning van Duduzane voor die handelsmisdaadhof. Foto: Themba Makofane

Dit is nou te laat om sy pa te vra om oproeriges in KwaZulu-Natal tot orde te roep, want ná ’n jaar van inperking is mense brandarm en woedend, sê Duduzane Zuma, oudpres. Jacob Zuma se pierewaaier-seun.

En al sê hy dat hy nou help om gemeenskappe teen plunderaars te beskerm, het baie van die plunderaars “geen ander keuse” gehad nie.

“Ek sou seker presies dieselfde gedoen het as ek in hul skoene was,” sê Zuma jr.

In ’n uur lange onderhoud met Rapport in Durban Donderdag het Duduzane Zuma gesê die polisie is besig om doodgewone, arm mense in die nasleep van die anargie te teiken eerder as die stokers van die geweld, wat miljarde rande se skade aangerig het, meer as 100 000 mense hul werk kan kos en tot meer as 300 sterftes gelei het.

Sy eie suster, Duduzile, was juis een van dié wat uitgewys is as ’n aanhitser van die geweld in klagte wat die DA by die polisie ingedien het teen haar, Duduzane, hul broer Edward en die EFF-leier Julius Malema.

Die idee dat die Zumas nie net verantwoordelik is vir ’n dekade se agteruitgang in Suid-Afrika nie, maar ook die onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng, is egter vir Duduzane Zuma (37), ’n man met presidensiële ambisies, verwerplik.

Wanneer iemand agterkom dat ek my pa se seun is, dan maak hulle ’n outomatiese gevolgtrekking dat ek deel was van iets duister.

In die onderhoud met Rapport kleur hy homself in as ’n vredemaker en vriend van die armes – dié jong man wat ’n woonstel van R18 miljoen in ’n Dubaise wolkekrabber met Gupta-hulp gekoop het, ’n direkteur van minstens 11 Gupta-verwante maatskappye was, en meer as een keer geïnkrimineer is voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping op die wagbeurt van sy veroordeelde pa.

Die jong Zuma is nou ’n gewone, besorgde lid van die gemeenskap wat die stukke probeer optel in Newlands-Oos, waar sy vrou, Shanice Stork, en haar familie woon.

Hy wil egter nie spog nie.

“Ek wil nie daaroor uitwei nie, want ek wil nie voorkom asof ek krediet soek nie, maar ek is op die grond. Ek probeer ’n verskil maak, ’n aktiewe een, in gemeenskappe.

“Net omdat mense my nie sien of hoor nie, beteken nie dat ek nie werk nie. Ek is al na meeste van die benadeelde areas in Durban, waar ek praat met die gemeenskapsleiers. Nie net ná die plundery nie, maar ook daartydens.”

Is dit nie nou te laat om ’n verskil te probeer maak aan geweld wat juis uitgebars het ná sy pa se inhegtenisneming op 7 Julie nie?

Zuma skerm: “Dit moes nooit tot hier gekom het nie. Die mense wat vir die geweld verantwoordelik is, moet verantwoordbaar gehou word.

“Of dit nou mense is wat op die grond gesteel het, en of dit nou mense is wat hulle skuldig gemaak het daaraan om die geweld en anargie aan te hits, daardie mense moet vervolg word.

“Diegene wat nie skuldig is nie se name moet in ere herstel word, want daar is sekere beskuldigings wat mense se lewens in gevaar stel.”

Hy verwys na die DA-klagte, wat hom bygesleep het nadat ’n Twitter-profiel genaamd @Duduzane__Zuma die geweld goedgepraat het.

Zuma sê egter hy bedryf geen sosialemedia-profiele nie, en die polisie stel nie belang om sy kant van die saak aan te hoor nie.

“Op hierdie oomblik het nog nie een enkele wetstoepassingsoffisier of een polisie-offisier met my gepraat of na my uitgereik nie. Hulle weet wie my regspan is.”

Sy tweelingsuster, Duduzile, het die geweld tot so ’n mate goedgepraat dat sy Vrydag tydelik deur Twitter geskors is.

“Ek is nie seker hoe sy die situasie persoonlik of uit ’n regsoogpunt hanteer nie. Ek wil nie eintlik daarop ingaan nie, want ek kan net vir myself praat. So sy sal self aanspreeklik gehou moet word vir die dinge wat sy plaas.”

En as dit blyk ondersteuners van sy pa sit agter die geweld?

“Enigiemand wat hulle skuldig maak aan die aanhitsing van geweld, of skade aan iemand se eiendom, of verwoesting en vandalisme, dit maak nie saak wie hy of sy ondersteun nie . . . daardie persoon moet aanspreeklik gehou word.”

As ek in sy skoene was, sou ek maar die tronkstraf uitdien – hy gaan maar 15 maande sit.

Zuma self het aandag getrek toe hy in ’n video gevra het mense moet “verantwoordelik plunder”.

Hy sê nou die video is buite konteks geneem: “Mense is doodgeskiet, en ek wou bloedvergieting keer. Nou kom dit voor asof ek die plunderaars ondersteun het.”

Hy het egter simpatie met plunderaars wat al meer as ’n jaar in ’n inperking sit en nie ’n salaris kan verdien nie.

“Ons stem saam dat mense goed gevat het wat nie aan hulle behoort nie, maar hulle is met geen ander keuse gelos nie, en ek sou seker presies dieselfde gedoen het as ek in hul skoene was.”

Hy voorspel dat geweld weer sal opvlam indien wetstoepassers aanhou om gewone plunderaars te teiken eerder as om die “ware aanhitsers” van die geweld in hegtenis te neem.

“In Newlands-Oos, byvoorbeeld, het die polisie kom fietse haal by kinders. Jong kinders, wat nog nooit ’n fiets besit het nie, en nie verstaan wat gebeur nie.

“Nou sien ander inwoners dit en wonder waar de hel kom die polisie nou vandaan? Waar was julle toe die plek gebrand het?”

Oor of sy pa, wat in die jare 90 vrede help beklink het tussen die ANC en Inkatha, nou weer kan help om vrede te bewaar in KZN, is die jong Zuma skepties.

“Iets wat begin het uit hongerte en desperaatheid het gulsigheid geword, en toe mense wat kwaad word. Toe dit dag vier en vyf word, toe is ons reeds in die fase van woede.

“Vir enigiemand om die kwessie te takel, is dan moeilik, ek glo selfs dit sou vir my pa moeilik wees om nou vir kalmte te vra, want daardie punt vir die plunderaars is klaar verbygesteek.”

Zuma het sy pa verlede Donderdag laas gesien toe hy vir ’n dag uit die gevangenis by Estcourt vrygelaat is om die begrafnis van Michael, sy jonger broer, by te woon.

“Hy’s ’n ou man, so daar’s ook net soveel wat hy kan hanteer, maar hy’s ’n bakleier. Dit het gelyk of dit goed gaan met hom.”

Analiste vrees dat geweld weer kan losbars as die konstitusionele hof sy pa se aansoek van die hand wys om sy vonnis van 15 maande tronkstraf ongedaan te maak.

Zuma jr. glo egter sy pa moet sy tronkstraf uitdien as die hof so sou besluit.

“As ek in sy skoene was, sou ek maar die tronkstraf uitdien – hy gaan maar 15 maande sit.”

Hy verwag intussen glad nie dat sy pa ’n moontlike presidensiële kwytskelding sal aanvaar nie, “want dan erken jy dat jy skuldig is”.

“Ons almal het die reg om onsself te verdedig, en dit is al waarvoor ons vra, moenie van hierdie stappe oorslaan nie.

“Ek stem saam met die sentiment dat die konstitusionele hof my pa se regte aangetas het. Die howe het al my regte ook aangetas,” het hy aan Rapport gesê.

Namate sy pa se politieke loopbaan eindig, glo Zuma jr. daar is vir hom geleenthede om self ’n leier te word en die land te verander.

Kort nadat hy in Maart aan Rapport gesê het hy wil eendag president word, het Duduzane onlangs in wyk 11 in eThekwini by ’n ANC-tak aangesluit.

Hy wil volgende jaar die ANC-establishment by die party se nasionale konferensie aandurf en het ambisies om tot president van die party verkies te word.

Hy is nie bekommerd dat die Zuma-naam hom gaan pootjie nie.

“Enigiets wat die laaste paar jaar verkeerd geloop het, of dit waar is of nie, word aan my pa toegeskryf, en ons moet die gevolge daarvan dra.

“Wanneer iemand my van sien, of agterkom dat ek my pa se seun is, dan maak hulle ’n outomatiese gevolgtrekking dat ek deel was van iets duister, of mislukkings, of wat ook al.

“Al wat ek wil sê, is dat die van ’n voorvoegsel het, en dit is my eie naam. Ek is my eie man, wat my eie besluite neem.

“Ek was nog nie voorheen deel van die plaaslike politiek nie, en die rede waarom ek nou wil deel vorm van die politieke stelsel is omdat ek, soos baie ander mense, voel dat dinge moet verander.

“Ek wil deel wees van daardie verandering.”

Meer oor:  Duduzane Zuma  |  Jacob Zuma  |  Plundery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.