Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Swartland: ‘Sandmyn nodig vir ekonomie’
Die gebied waar sand gemyn sal word op die plaas Lammershoek 841/12, volgens die permit wat toegestaan is. Grafika: Morné Schaap

Verskeie stukke wetgewing is in ag geneem tydens die oorweging van aansoeke om sand op gedeeltes van die plaas Lammershoek 841/12 en die restant van die plaas La Rhine in die Paardeberg-gebied te myn, volgens die munisipale bestuurder van die Swartland, Joggie Scholtz.

Albei aansoeke is op 1 Februarie goedgekeur en verskeie wynboere en belanghebbendes in die gesogte wingerdstreek van die Wes-Kaap was hewig ontsteld toe hulle op 10 Februarie van die besluit bewus gemaak is.

Die Swartland-munisipaliteit het Maandag ’n verklaring uitgereik oor die toekenning van die permitte om sand op die twee wynplase te myn nadat die Protect the Paardeberg Coalition (PPC) en die wynliggaam Vinpro hulle verlede week sterk teen die besluit uitgespreek het.

Die koalisie, waarvan die bekroonde wynmakers Eben Sadie en Adi Badenhorst lede is, beoog om die toekenning van die twee sandmyn-permitte teen te staan en ’n aanlyn petisie teen die besluit het teen druktyd reeds 2 416 handtekeninge ingesamel.

Die koalisie is bekommerd oor die impak wat sandmynbedrywighede op die rare fynbos van die Paardeberg-bewarea sal hê, asook die impak wat sandmynery op die gewilde wyn- en toerismebedryf van die Swartland sal hê.

Volgens Sadie is die gebied op Lammershoek 841/12 wat goedgekeur is om sand op te myn sowat 800 m van die proelokaal van Sadie Family Wines en 700 m van die wynlandgoed Lammershoek.

Mynwerk en wingerde kan nie gelukkig saam bestaan nie.

“Mynwerk en wingerde kan nie gelukkig saam bestaan nie,” lui die PPC se verklaring. Badenhorst het gesê plaaslike boere in finansiële nood word ’n gat in die kop gepraat deur maatskappye wat sand wil myn, en dat landbougrond dikwels nie voldoende gerehabiliteer word nadat daar gemyn is nie.

Volgens Bridget Johnson van die plaas Vondeling en die Paardeberg-volhoubaarheidsinisiatief is daar tekortkominge in die omgewingsimpakstudies wat gedoen is voordat die mynpermitte goedgekeur is.

Volgens Kobus Groenewald, eienaar van BKL Sandmines wie se aansoek goedgekeur is om sand op Lammershoek 841/12 te myn, is al die relevante impakstudies egter gedoen.

“Die kenners sê as ons klaar gemyn het, sal die grond meer geskik vir landbou wees as voor die mynbouaktiwiteite,” het hy gesê. “Namate ’n mens myn, word dit onmiddellik gerehabiliteer en sal dit onmiddellik weer vir landbou beskikbaar wees.”

Volgens Scholtz se verklaring is die goedkeuring van die permitte onderhewig aan verskeie voorwaardes, ingesluit ’n volledige rehabilitasieprogram.

“As die aansoekers nie die voorwaardes eerbiedig nie, stel hulle hulself bloot aan die strafbepalings wat statutêr bepaal word,” lui die verklaring.

Volgens die verklaring het die minister van minerale hulpbronne ook reeds ’n mynpermit vir die plaas Lammershoek 841/12 vir sandmyndoeleindes goedgekeur.

Volgens Francois Lochner van Dirk Lochner Transport, wie se aansoek om op La Rhine te myn ook goedgekeur is, is sandhulpbronne in die Malmesbury-gebied aan’t kwyn.

“Die Provinsiale Ruimtelike Ontwikkelingsraamwerk meld dat die myn van sand vir konstruksiemateriale ’n belangrike aspek vir ekonomiese ontwikkeling in die Wes-Kaap is,” lui die Swartland-munisipaliteit se verklaring. “Die dokument verwys spesifiek na die voorkoms van minerale vir konstruksiedoeleindes aan die Weskus en die rol wat dit kan speel ten opsigte van ekonomiese ontwikkeling. Dit verwys ook spesifiek na die mededinging tussen grond vir landboudoeleindes en grond vir konstruksiemateriale.”

Daan Stofberg van Lammershoek 841/12 het Maandag gesê hy wil eerder nie kommentaar lewer nie en die proses moet sy beloop neem.

Volgens die Swartland-munisipaliteit het enige persoon wie se regte deur die besluit geaffekteer word, tot 3 Maart tyd om daarteen te appelleer.

Indien die PPC teen die besluit appelleer, sal dit na die munisipale appèlowerheid verwys word, wat die uitvoerende burgemeester in oorleg met die burgemeesterskomitee sal wees.

Meer oor:  Ekonomie  |  Myn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.