Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Transnet-kontrak van R265 m. ‘onregmatig toegeken’, hoor Zondo

Anoj Singh, voormalige finansiële hoof van Transnet, het nie die mag gehad om ’n ooreenkoms met ’n kontrakteur aan te gaan wat Transnet uiteindelik R265 miljoen gekos het nie.

Dít is die mening van Tshiamo Sedumedi van die prokureursfirma MNS, wat Woensdag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping in Johannesburg getuig het.

MNS is in 2018 aangestel om bewerings van korrupsie rakende die toekenning van tenders by Transnet te ondersoek.

Sedumedi het getuig oor ’n ooreenkoms wat Singh op 12 November 2013 met die konsultasiemaatskappy Regiments onderteken het. Die ooreenkoms sou vir 12 maande geld vir bepaalde dienste wat Regiments moes verrig.

Sedumedi het verwys na ’n dokument wat by die Zondo-kommissie ingedien is met Singh se handtekening daarop.

Selfs al het McKinsey sy kontrakregte aan Regiments oorgedra, was daar nie meer enige sodanige regte wat gegeld het nie; dit was reeds buite die kontraktydperk.

Hy het getuig dat Regiments deel geword het van die McKinsey-konsortium deur die maatskappy Letsema te vervang. Dit was sonder dat daar enige ondersoek was deur Transnet na die standvastigheid van Regiments as onderneming.

Sedumedi het getuig daar was geen kontrak tussen Regiments en Transnet nie en Singh het nie die mag gehad om ’n kontrak met Regiments aan te gaan nie.

Daar is ook geen dokumentasie dat Niven Pillay, voorheen uitvoerende hoof van Regiments, Singh se nuwe kontrak aanvaar het nie.

Volgens Sedumedi is dit baie vreemd dat Singh die dokument en ooreenkoms met Regiments onderteken het, omdat daar geen aanduiding is van ’n tenderproses wat gevolg is nie.

Hy het ook getuig daar is later aanpassings gemaak aan die kontrak tussen Regiments en Transnet. Die kontrakwaarde van die Regiments-kontrak is verhoog vanaf R35,2 miljoen tot R41,2 miljoen.

Die kontrak is later verleng tot 20 Mei 2016 (of totdat Regiments die werk voltooi het wat vir Transnet gedoen moes word) en met dié verdere aanpassing is die kontrakwaarde verhoog tot R265 miljoen.

Sedumedi het getuig Regiments was nie eens deel van die oorspronklike ooreenkoms tussen Transnet en McKinsey nie, so die veranderde kontrak was nie geldig nie.

Selfs al het McKinsey sy kontrakregte aan Regiments oorgedra, was daar nie meer enige sodanige regte wat gegeld het nie; dit was reeds buite die kontraktydperk.

Verder was daar ’n brief van Singh aan Brian Molefe, voormalige Transnet-hoof, waarin Singh versoek het dat R78,4 miljoen aan Regiments betaal word as ’n “suksesfooi” omdat Regiments met sy betrokkenheid by die kontrak om lokomotiewe aan te koop, glo besparings vir Transnet meegebring het.

Sedumedi sê dié betaling was onwettig, want daar is reeds ’n bedrag van R13,5 miljoen aan McKinsey betaal juis vir dié doel. Hy sê dit was werk waarvoor McKinsey gekontrakteer is, maar Regiments eis toe die betaling van die R78,4 miljoen.

Singh was die verteenwoordiger van Transnet wat al die kontrakte en addendums met Regiments onderteken het, het Sedumedi getuig.

Die sitting van die kommissie duur Donderdag voort.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.