Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
'Wit mense: Hoekom moet Zindzi Mandela vergeet'?
Zindzi Mandela-HlongwaneFoto: Getty Images

“Ons kan net ’n nie-rassige samelewing bereik as ons ophou voorgee en reguit praat oor wat moet verander. Sedert 1994 word verwag dat ons net moet vergeet waardeur geslagte volwassenes en kinders gedurende apartheid gegaan het.”

So sê Jessie Duarte, adjunksekretaris-generaal van die ANC, oor die herrie wat om die kop van Zindzi Mandela-Hlongwane, dogter van oudpres. Nelson Mandela en Winnie Madikizela-Mandela, losgebars het.

Duarte sê daar is ’n “onredelike verwagting” dat “Zindzi moet vergeet dat haar pa 27 jaar lank van sy gesin weggeskeur is”.

“Die verwagting dat sy moet vergeet dat haar ma jare lank geteister is, is net so onrealisties. Dit is negatiewe herinneringe in die lewe en uit haar kinderjare wat deur wit Suid-Afrikaners gepleeg is.”

Duarte sê Mandela-Hlongwane is ’n toegewyde Suid-Afrikaner wat haar beste as ambassadeur lewer.

Mandela-Hlongwane is Suid-Afrika se ambassadeur in Denemarke en het in Junie ’n storm ontketen toe sy getwiet het dat wit Suid-Afrikaners “gronddiewe”, “apartheidsapologete” en “ongenooide gaste” is wat “weier om te loop”.

Sy het ook bygevoeg dat wit mense ’n fout maak deur vas te klou aan “fantasieë van die goeie inboorling” en dat dit tyd is dat swart Suid-Afrikaners “hul grond terugvat”.

Ja, haar woorde was ’n bietjie skerp, maar die konteks van wat haar woorde beteken, het die mense wat maak asof die grondkwessie net sal verdwyn, ’n bietjie geruk.

Duarte meen egter Mandela-Hlongwane behoort nie verkwalik te word omdat sy haar mening oor die grondkwessie lug nie.

“Ja, haar woorde was ’n bietjie skerp, maar die konteks van wat haar woorde beteken, het die mense wat maak asof die grondkwessie net sal verdwyn, ’n bietjie geruk.”

Duarte sê Mandela-Hlongwane het nou uitgepraat oor die grondkwessie, al het dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge, haar op die vingers getik en gesê het sy moet haar soos ’n diplomaat gedra.

“Maar ’n mens kan nie verwag dat Zindzi moet aansluit by die koor van liberale wat bloot wil hê dat ons moet vergeet nie.”

Duarte sê ’n nie-rassige samelewing kan net bereik word as daar openlik gepraat word oor wat alles moet verander.

“Ons stemme kan kwaad wees, want ons kan nie net voorgee dat alles oukei is nie,” het Duarte gesê.

Sy meen ook die burgerregteorganisasie AfriForum is “aktief” besig om ’n “rassistiese agenda” te dryf en sê AfriForum is bekend daarvoor dat hy swartsmeer en misdadig is, terwyl die media hom steun.

AfriForum het Maandag aangekondig dat hy ’n klag van haatspraak teen Mandela-Hlongwane by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) ná haar twiets oor wit mense ingedien het.

Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van internasionale skakeling, het in ’n verklaring gesê hulle ervaar Mandela-Hlongwane se twiets as “uiters rassisties en verdelend”.

AfriForum is ontevrede dat Mandela-Hlongwane se dienstermyn voorlopig tot Desember 2019 verleng is en meen dit is duidelik dat haar werkgewer haar nie gaan vervolg nie.

Jesse Duarte

Dit nadat ’n Sondagkoerant berig het dat Mandela-Hlongwane se termyn sou einde Junie verstryk, maar dat dit tot einde Desember verleng is sodat pres. Cyril Ramaphosa kan besluit wat om met haar en verskeie ander ambassadeurs te doen wie se termyne einde Junie verstryk het.

“Alle termyne wat einde Junie ten einde geloop het, is nou tot einde Desember verleng omdat daar weens die verkiesing nie in die voorafgaande maande aandag daaraan gegee kon word nie,” het Clayson Monyela, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, gesê.

Bailey het gesê dat AfriForum dus besluit het om ’n klag by die MRK in te dien omdat Mandela-Hlongwane in haar twiets ’n “haatdraende houding jeens wit inwoners van die land” getoon en sodoende in die “openbaar tot die verdeeldheid van plaaslike gemeenskappe bydra”.

“Haar verweer – dat sy geregtig is op haar persoonlike mening – toon ’n algehele gebrek aan insig oor haar verantwoordelikheid om in haar pos die beeld van Suid-Afrika te bevorder en alle Suid-Afrikaners sonder vooroordeel te dien. Dit strook ook glad nie met die Suid-Afrikaanse Grondwet wat onomwonde verklaar dat die land aan almal behoort nie. Sy moet verantwoordbaar gehou word en AfriForum versoek die MRK om in hierdie verband ondersoek in te stel en op te tree,” het Bailey gesê.

Duarte meen egter swart mense, maar veral swart vroue, kry swaar omdat mense nie praat oor wat apartheid regtig was nie.

“Dit was ’n stelsel wat geïnspireer is deur slawerny, om goedkoop arbeid te beheer en af te dwing, en om alles te beheer wat van waarde vir die minderheidsgroepe was.”

Duarte sê die verwagting is dat die stelsel nou sonder verhindering moet voortgaan omdat daar gesê word dat die stroping van eienaarskap van die minderheid die sukkelende ekonomie morsdood sal maak.

Sy glo egter dat insluiting en kreatiwiteit groei sal aanmoedig omdat meer mense werkgewers kan word en sodoende meer werk sal kan skep.

“Los Zindzi Mandela uit. Sy is nie die vyand van ons land nie, nog minder is sy die argitek van grondhervorming en sy belemmer ook nie ekonomiese groei nie,” het Duarte gesê.

Duarte sê Mandela-Hlongwane is nie die probleem nie.“Zindzi is nie die probleem nie. AfriForum is ’n bedreiging op enige hoop wat ons het om regtig ’n nie-rassige, nie-seksistiese, verenigde en demokratiese Suid-Afrika te skep.”

Los Zindzi Mandela uit. Sy is nie die vyand van ons land nie, nog minder is sy die argitek van grondhervorming en sy belemmer ook nie ekonomiese groei nie.

Meer oor:  Zindzi Mandela  |  Jesse Duarte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.