Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zondo: Brown was ‘vlieg in die salf’

Lynne Brown het toe sy minister van openbare ondernemings word beheer oorgeneem om die direksies van Denel en ander staatsentiteite (SOE’s) aan te stel.

Kgathatso Tlhakudi, adjunk-direkteur-generaal in die departement van openbare ondernemings, het dít Maandag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig.

Brown se regsverteenwoordiger het tydens Maandag se verrigtinge aan adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, gesê dat sy later haar weergawe oor Tlhakudi se beweringe aan die kommissie sal voorlê.

Lynne BrownFoto: Daily Sun

Volgens Tlhlakudi het Brown dit met haar intrapslag as politieke hoof van die departement aan senior staatsamptenare duidelik gemaak dat sy die aandeelhouer-verteenwoordiger is.

“Dat ons as amptenare letterlik ons plek moes ken. Dat niks sonder haar opdragte gedoen word nie. Dit het ook nie goed afgegaan as ons dikwels met SOE’s vergader het soos ons werk vereis het nie.”

Hy sê dat hy vir die eerste keer van die woord “kaap” gehoor het toe Brown dit in haar eerste vergadering met alle senior bestuurders gebruik het. “Sy het daarna verwys deur te sê ons as senior bestuurders in die departement was gekaap.”

Volgens Tlhakudi wens hy hy was dapperder as sy kollegas wie se loopbaan beëindig is omdat hulle opgestaan het en die regte ding wou doen.

Hy het bygevoeg dat die negatiewe politieke atmosfeer in die departement ook na ’n nuwe vlak verhoog het toe Richard Seleke as direkteur-generaal aangestel is. Seleke is in 2018 afgedank.

Die kommissie het gehoor hoe Tlhakudi en sy departement met Brown se koms ook reeds besig was met interne prosesse om ’n nuwe direksie vir Denel aan te stel en dat advertensies daarvoor reeds uitgestuur was.

Hy het egter op ’n dag almal net ingelig dat die minister die proses verder sou hanteer. “Dit was baie vreemd”.

Die kommissie het ook gehoor hoe die Guptas destyds verdere voorkeurbehandeling van Denel gekry het met metaalkontrakte van miljoene rande wat intern aan ’n Denel-filiaal toegeken kon word.

’n Lys name is kort daarna aan hom voorgelê wat hy huiwerig onderteken het omdat hy vir sy werk gevrees het.

Daarop was die naam van Dan Mantsha, huidige prokureur van oudpres. Jacob Zuma, en iemand wat belange by die omstrede Gupta-familie se mynmaatskappy gehad het.

“Ek het net verstaan dat die lys van die minister gekom het.”

Volgens hom was die nuwe Denel-direksie wat weens die lys aangestel is se kwalifikasies en ervaring baie swakker as sy voorganger. Dit het glo daartoe gelei dat Denel al swakker presteer het.

Tlhakudi het gesê soortgelyke lyste het daarna ook vir die nuwe direksies van Alexkor en Safcol opgeduik.

“Die minister (Brown) het die prosesse om nuwe direksielede aan te stel, verander. Die departement moes dit net rubberstempel.

Volgens hom het Brown “letterlik beheer oor die proses geneem” om nuwe direksies aan te stel.

Sy het volgens Tlhakudi nie soos haar voorganger, Malusi Gigaba, en opvolger, Pravin Gordhan, as ’n kollektief met senior bestuurders gewerk om nuwe direksies vir SOE’s aan te stel nie.

Tlhakudi het ook getuig hoe Mantsha en Seleke in Desember 2015 ook die Denel Asia-transaksie haastig wou deurvoer wat hoofsaaklik vir Salim Essa, ’n Gupta-vennoot, ten koste van Denel sou bevoordeel het.

Die kommissie het ook gehoor hoe die Guptas destyds verdere voorkeurbehandeling van Denel gekry het met metaalkontrakte van miljoene rande wat intern aan ’n Denel-filiaal toegeken kon word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.