Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Deel van Indiana se aborsiewet ongeldig verklaar

Die hooggeregshof in Amerika het ’n laer hof gelyk gegee in sy uitspraak wat ’n deel van ’n aborsiewet van die deelstaat Indiana ongeldig verklaar het.

Dit maak dit nou vir Indiana onwettig om aborsies te verbied alleenlik op grond van die ras, geslag of die gestremdheid van die fetus.

In dieselfde ongetekende mening het die hooggeregshof wel Indiana se bepaling dat alle oorskot van fetusse begrawe of veras moet word, of dit nou die oorskot weens ’n miskraam of aborsie is, bevestig.

Dit is die eerste poging om wetgewing oor aborsies strenger te maak, wat by die hooggeregshof uitgekom het. Talle deelstate is hiermee besig en daar word verwag dat nog vele sake in die hooggeregshof se skoot gaan beland, berig CNN.

Aktiviste teen aborsie betoog op 18 Januarie vanjaar buite die hooggeregshof in Washington DC. Foto: Saul Loeb/AFP/Getty Images

Regter Clarence Thomas, deur talle beskou as die konserwatiefste regter in die hooggeregshof, het sy kollegas gewaarsku dat hulle binnekort beslissings sal moet maak rakende die hele debat oor aborsie.

“Dié wet (van Indiana) en ander soortgelyke wette bevorder ’n staat se belange om te voorkom dat aborsie ’n manier word vir ’n moderne verbetering van gene/rasverbetering,” skryf Thomas.

Hy het gesê dit is miskien goed as die saak ’n bietjie in die laer howe gedebatteer word, maar het in besonderhede geskryf hoekom hy glo dat so ’n wet dalk nodig is.

Hy het gesê die feit dat die hooggeregshof die laer hof se uitspraak ondersteun het, “beteken nie dat daar met die argumente saamgestem is nie”.

Die BBC berig anti-aborsiegroepe beskou die uitspraak as ’n stap nader daaraan om die oorskot van fetusse as menslike oorblyfsels te beskou en nie as mediese afval nie, terwyl pro-aborsiegroepe sê die hof het nie in sy uitspraak ’n fetus as ’n mens beskou nie.

Byna ’n dosyn state is besig om hul aborsiewette te hersien en neig om aborsies as ’n geheel te verbied, selfs in gevalle van verkragting en bloedskande.

Die hooggeregshof sal dus gou moet besluit of ’n aborsie ’n grondwetlike reg is, of nie.

Daar word geglo die hooggeregshof neig na die konserwatiewe kant nadat pres. Donald Trump twee konserwatiewe regters vir dié hof aangestel het.

Meer oor:  Indiana  |  Aborsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.