Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Everest: ‘Ons moes oor lyke klim’

’n Ervare bergklimmer het die toneel op berg Everest beskryf as “dood, ’n slagting en ’n chaos” terwyl klimmers lyke uit die pad moes druk om die kruin te bereik.

Die dodetal staan nou op 11.

Die laaste slagoffer was ’n Amerikaanse dokter wat dood is op pad terug nadat hy die piek bereik het.

Gilian Lee, ’n Australiese klimmer van Canberra, is bewusteloos op die piek gevind en sterk tans aan in ’n hospitaal nadat ’n Nepalese span hom afgebring het.

Elia Saikaly. ’n filmmaker, het in die eerste strale van die son by die Hillary-trappe net voor die piek die lewelose liggaam van ’n klimmer gesien.

“Ek kon nie glo wat ek daarbo gesien het nie. Die dood, ’n slagting, ’n chaos, toue klimmers, dooie mense op die roete en in tente in kamp 4. Mense wat probeer terugdraai het, wat dood is. Mense wat teen die berg afgesleep word. Ek moes oor lyke klim. Alles wat jy in sensasionele opskrifte lees het hom daar in ons nag op pad na die piek afgespeel,” het hy aan The Guardian gesê.

Dit is vanjaar die vierde dodelikste klimseisoen op die berg. Klimmers blameer die slegte weer, onervare bergklimmers en die rekordgetal permitte wat die Nepalese regering uitgereik het met die voorwaarde dat ’n sjerpa elke klimmer vergesel. Die gevolg is dat meer as 820 mense die piek probeer bereik het.

“Meer as 200 mense was besig om na die piek te klim. Ek het op ’n dooie klimmer afgekom. Die lyk het vasgesit aan ’n ankerpunt tussen twee veiligheidstoue en elke enkele mens wat na die piek geklim het, moes oor die lyk klim,” het Saikaly aan The Guardian gesê.

everest
'n Bergklimmer staan met Everest in die agtergrond by Kala Patthar in die Solukhumbu-distrik. Foto: Reuters

Chad Gaston, nog ’n klimmer wat piek bereik het, het volgens The Guardian geskryf hoe moeilik dit was om verby die verswakte mense te kom.

“Daar was ’n man met toue vasgebind wat soos ’n mummie toegedraai was. Hy het op niks gereageer nie en ek het nooit gesien dat hy sy oë oopmaak nie. Verder aan was ’n man wat sy bors vasgehou en vooroor gebuig het. Ek het ’n oomblik gewag maar toe hy nie beweeg nie, het ek nader gegaan. Hy het gesê hy sukkel om asem te haal hoewel ek kon sien sy suurstofmasker was reg. Hy het sleg gelyk. Sy gesig was wit, hy het gebewe en het onsamehangend gepraat. Ek is jammer om te sê dat ek later gehoor het dat hy die nag op die berg dood is.”

Mrika Nikqa (17) van Kosovo en haar pa, Arindi, het aan CNN gesê hulle het weens al die mense besluit om te wag vir ’n dag wanneer die weer beter is.

Volgens haar was die klim ongelooflik. “Weens probleme moes ons nege dae in kamp 2 bly. En in daardie dae was daar baie mense en dinge maar toe ons die piek bereik, was dit net ons. Ons het goeie weer gehad. Dit het ons nege uur gevat om daar te kom.”

Haar pa het gesê dat hulle lyke langs die pad gekry het. “Ek het gedink dat sy dit dalk sleg sou vat, maar nee, sy is daar verby.”

Volgens Mrika weet jy wanneer jy besluit om Everest te klim dat jy dooie mense gaan sien.

“Miskien kan iets met jou gebeur of met jou pa of saam met wie jy ook al klim, so jy is voorbereid. Jy sien ’n dooie mens en dit is soos, dis oukei. Hy is weg. Ek wil nie soos hy wees nie, ek moet aanhou beweeg.”

News.com.au  berig die Ierse bergklimmer Seamus Lawless (39), wat verlede week op die berg gesterf het, het in ’n laaste teksboodskap aan sy swanger vrou geskryf: “Ek het dit gedoen . . . ek kom huis toe.”

Sowat 1 000 mense het sy begrafnis bygewoon. Hy was ’n hoogleraar in kunsmatige intelligensie aan die Trinity College in Dublin.

Hy het op ’n deel van die berg wat as die “balkon” bekend staan sowat 500 m na sy dood geval.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.