Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Merkel en Macron sit vas oor wie EU moet lei

Leiers in die Europese Unie (EU) het mekaar Dinsdag vir die eerste keer gepak oor wie die nuwe hoof van die belangrike Europese Kommissie moet wees.

Hulle het ’n kort spertyd gestel om ooreen te kom oor die topposte en ’n teiken om die helfte van die poste aan vroue toe te ken.

Angela Merkel, Duitse kanselier, was ontsteld omdat pres. Emmanuel Macron van Frankryk nie Duitsland se keuse – die sentraalregse parlementslid Manfred Weber – wou aanvaar nie. Die 28 EU-leiers probeer agter geslote deure tot ’n vergelyk oor die leierskap vir die volgende vyf jaar kom.

“Die belangrikste vir my is dat die leiers in die sensitiefste poste ons planne moet deel en die mees charismatiese, kreatiewe en bevoegde mense moet wees,” het Macron ná die beraad aan verslaggewers gesê.

“Genderbalans is ook vir my belangrik, so ons moet twee vroue en twee mans kies.”

Die verkiesing vir die Europese parlement verlede week het gelei tot ’n verbrokkelde sentrum en oorwinnings vir die meer pro-EU-liberale en Groenes, sowel as euroskeptiese nasionaliste en verregses, wat ooreenkomste oor ’n gesamentlike agenda sal bemoeilik, berig Reuters.

Xavier Bettel, premier van Luxemburg, het die samesprekings as “die soeke na ’n nuwe Mnr. of Mej. Europa" beskryf.

angela merkel
Angela Merkel, Duitse Bondskanselier, met haar aankoms Dinsdag in Brussel. Foto: Reuters
emmanuel macron, angela merkel
Angela Merkel, Duitse Bondskanselier, en pres. Emmanuel Macron van Frankryk, Dinsdag by die EU-beraad Brussel, België. Foto: Reuters

Die middelregse European People’s Party (EPP) en die middellinkse Socialists & Democrats (S&D) het hul meerderheid verloor en kan nie oor die nuwe hoof van die kommissie besluit nie.

Die leiers het ooreengekom om hul nominasies op die volgende vergadering in Junie af te handel sodat dit betyds vir die EU se eerste sitting op 2 Julie is.

“Ons het ooreengekom dat ons moet bewys dat ons aktief kan wees, so ons wil teen Junie ons kandidaat vir die presidentskap van die kommissie voorstel,” het Merkel op ’n nuuskonferensie gesê.

Volgens haar moet Macron realisties wees en onthou dat die EPP, wat Weber voorgestel het, die grootste groep in die parlement is.

Die huidige president, Jean-Claude Juncker van Luxemburg, tree einde Oktober uit.

Die kommissie is die EU se mededingingswaghond, wat lede se begrotings monitor en beleid – van klimaatsverandering tot tegniese regulering – voorstel.

Ander belangrike poste wat later in die jaar vakant sal raak, is die hoof van die Europese parlement, die Europese Sentrale Bank (ECB), buitelandse beleid en van die Europese Raad wat die nasionale regeringsleiers verteenwoordig.

Frankryk en Duitsland wil albei hê dat hul land se kandidaat die nuwe hoof van die ECB word, maar amptenare sê dit is onwaarskynlik dat enige van die twee die hoof van die bank én die kommissie sal kan aanstel.

Macron is teen Weber, tans die EU se mededingingskommissaris, asook teen Margrethe Vestager van Denemarke, die EU se huidige Brexit-onderhandelaar, die middelregse Michel Barnier van Frankryk, en die Nederlandse sosiale demokraat Frans Timmermans gekant.

Spanje en Swede steun Timmermans, terwyl Ierland en Kroasië Weber steun. Luxemburg en Slowenië staan agter Vestager, een van die min vroue in die stryd.

Timmermans is tans adjunkpresident van die EU-kommissie Reuters

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.