Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Beurtkrag: ‘Perfekte storm’ teister SA tot Donderdag

Binne twee dae was Eskom se dieselreserwes gedaan, agt opwekkingseenhede by steenkoolkragstasies buite werking, moes water onvermydelik gepomp word om die damvlakke vir hidroëlektriese opwekkers aan te vul en het ’n sikloon kragtoevoer vanuit Mosambiek afgesny.

Hierdie “perfekte storm” gaan tot Donderdag voortduur, sê Andrew Etzinger, senior bestuurder van opwekking by Eskom. Dit het Saterdag Eskom se aanvanklike beplanning vir fase twee-beurtkrag skielik tot fase vier opgeskuif.

Eskom het laat Sondagaand bevestig die vlak 4-beurtkrag duur nog die hele Maandag voort.

Die sikloon Idai, wat Mosambiek Vrydag met ’n windsnelheid van tot 170 km/h getref het, het die twee kraglyne wat 1 150 megawatt (MW) van die Cahora Bassa- hidroëlektriese skema aan Suid-Afrika verskaf, afgesny.

Die afgesnyde lyne is diep binne Mosambiek en te midde van die humanitêre krisis weens die sikloon, met reeds meer as 100 sterftes en volgehoue oorstromings, was dit nog nie moontlik om vas te stel presies waar die probleem op die kraglyn is nie.

Al wil ons helikopters stuur om self te gaan kyk na die lyne, moet ons die land se soewereiniteit respekteer.

Eskom is nie verantwoordelik vir die herstel van die kraglyne in Mosambiek nie, maar is bereid om soos voorheen, te help.

“Ons sukkel wel om die owerhede daar te kontak weens die voortdurende krisis,” sê Etzinger. “Hulle het tans groot probleme om hul eie mense te help. Al wil ons helikopters stuur om self te gaan kyk na die lyne, moet ons die land se soewereiniteit respekteer.”

Maar die situasie in Mosambiek is nie al rede vir die ongekende deurnag-beurtkrag wat Suid-Afrikaners Saterdagaand beleef het nie.

Etzinger sê dit het gepaardgegaan met drie ander faktore: die verlies van agt opwekkingseenhede by steenkoolkragstasies; ’n herhaling van Februarie se dieseltekorte weens probleme by PetroSA wat tot 3 000 MW se noodkragopwekking buite aksie gestel het; en die noodsaaklikheid om 2 700 MW in te span om water te pomp na damme wat hidroëlektriese kragstasies van water voorsien sodat krag deur die week aan die netwerk gelewer kan word.

Etzinger sê dis nie duidelik wat die probleem met die dieselverskaffing is nie, en al wat Eskom van PetroSA gehoor het, was dat dit eers teen Donderdag opgelos sal wees.

Eskom het vier damme wat in tye van lae elektrisiteitsverbruik met pompe gevul word sodat dit in spitstye hidroëlektriese turbines kan aandryf. Dié pompe verg 2 700 MW en daar was eenvoudig nie Saterdag ’n ander keuse as om dit te midde van al die ander probleme uit die netwerk te haal om die water te pomp nie. Suid-Afrika het dié tyd van die jaar sowat 30 000 MW nodig om beurtkrag te vermy. Tydens fase vier-beurtkrag is tot 20% hiervan nie beskikbaar nie.

Oor die feit dat die stelsels wat oor die naweek die krisis veroorsaak het, juis die noodstelsels is, sê Etzinger: “Ons praat oor diesel, water en kraginvoer, maar die werklike probleem is die enorme las van die verouderde vlootkragstasies en die probleme met die nuwe steenkoolkragstasies wat daartoe lei dat ons opwekkingseenhede gedurig tot oorkapasiteit bedryf word.”

Chris Yelland, ’n energieontleder, het Sondag getwiet die probleme by Eskom se agt opwekkingseenhede wat buite werking is, is weens lekkasies in hul ketels. Nog drie eenhede met kleiner lekkasies is wel nog in bedryf.

Etzinger bevestig ketellekkasies veroorsaak probleme.

“Ons moet weens die verouderde stasies die meeste van die tyd die jonger steenkoolopwekkers tot oorkapasiteit bedryf om beurtkrag te vermy.”

Maar as gevolg hiervan sit die opwekkingseenhede met lekkasies in hoëdrukpype in die ketel. Dis nie probleme wat vinnig herstel kan word nie.

Binne sowat drie maande gaan die planne waaraan ons al lank werk, vrugte dra.

Daar is in een so ’n ketel tot 600 km se pype wat ondersoek, uitgesny, en dan herstel moet word.

“Teen Woensdag of Donderdag sal baie van dié eenhede wel weer in werking wees. Maar die feit bly staan, ons opwekkingseenhede by steenkoolkragstasies het aftyd nodig om die probleme behoorlik te herstel.”

Met dié eenhede aanlyn, asook nuwe dieselvoorraad, kan daar van Donderdag af verligting van beurtkrag wees, sê Etzinger.

Vier uit die 15 steenkoolkragstasies wat Eskom bestuur, is kwesbaar vir dié ketel-verwante probleme en dit word vererger deur swak gehalte steenkool. Volgens Etzinger is die grootskaalse werk wat nodig is om die probleme op te los, nie tans moontlik nie, maar daar is wel goeie nuus.

“Binne sowat drie maande gaan die planne waaraan ons al lank werk, vrugte dra. Ons verwag dat Medupi en Kusile teen dan baie meer krag tot die netwerk sal begin bydra.

“Ons fokus hoofsaaklik daarop om daardie kerneenhede aan die gang te kry. Dan sal ons die vermoë hê om die beleërde ou kragstasies behoorlik te herstel, want Medupi en Kusile sal meer krag verskaf as wat ons verloor deur die sukkelendes van die netwerk af te haal,” sê Etzinger.

“Ons moet dit net maak tot Junie. Ons het vertroue dat ons die situasie dan sal kan begin omkeer.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.