Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Staatsrede goed én sleg, sê landbou

Dit is jammer pres. Cyril Ramaphosa in sy staatsrede nie aandag gegee het aan die beleidsonsekerheid oor grond, landelike veiligheid en die droogtekrisis in die land nie.

Só sê Dan Kriek, president van Agri SA, die grootste landbou-organisasie in die land..

“Hy het ook geen melding gemaak van die toenemende geweldsmisdaad in landelike gebiede nie,” sê Kriek.

Dr. Dan Kriek, president van Agri SA.Foto: DEAAN VIVIER

“Boere is onder druk weens beleidsonsekerheid en die effek van misdaad en -droogte. Die president moet aan die sektor die ondersteuning gee om volhoubaar te kan wees.”

Kriek sê andersins verwelkom Agri SA die staatsrede.

“Agri SA benadruk en verbind hom tot pres. Ramaphosa se stelling dat dit elke Suid-Afrikaner se verantwoordelikheid is om vooruitgang te verseker.

“Die president se verbintenis om die Suid-Afrikaanse skip uit moeilike waters te stuur kan geprys word.

“Dié staatsrede moet gesien word teen die agtergrond van grootskaalse korrupsie, ’n verswakte ekonomie, die aftakeling van instellings en die haglike toestand van semi-staatsinstellings soos Eskom wat vir jare lank Suid-Afrika gekenmerk het.

“Dit is nou tyd om hande te vat en saam te werk,” sê Kriek in ’n verklaring van Agri SA.

Pres. Cyril Ramaphosa lewer Donderdag se staatsrede in die parlement. Foto: Jaco Marais

Ramaphosa het wel erkenning aan die landbousektor gegee en die waardevolle bydrae wat dié tot die ekonomie lewer. Ramaphosa het gesê dié sektor is goed ontwikkel, veerkragtig en gediversifiseerd – en dat landbou as grondslag kan dien om die ekonomie te help groei.

“Die opbou en herstel van die ekonomie moet nóú op die voorgrond geplaas word. Ons moet beleidsekerheid hê om sodoende beleggers na ons sektor en Suid-Afrika te lok.”

Die landbousakekamer Agbiz het dit verwelkom dat Ramaphosa dié sektor vir spesiale ondersteuning vir ontwikkeling uitgesonder het.

“Dit is ’n arbeidsintensiewe bedryf en daar is groot gebiede van ongebruikte landbougrond in veral kommunale gebiede, waar produksie kan begin,” het dr. John Purchase, uitvoerende hoof, in ’n verklaring gesê.

Ramaphosa het gesê die regering gaan fokus op ’n beleid en programme vir belangrike dele van die ekonomie wat arbeidsintensief is.

“Die potensiaal van landbou om werk te skep en vir ekonomiese groei is steeds baie onderontwikkel. Suid-Afrika het groot gebiede onderbenutte of onproduktiewe grond.

“Daar is omtrent 250 000 klein opkomende boere wat ondersteuning benodig om hul ondernemings ten volle te ontwikkel.”

Hy het gesê landbou-uitvoer is ’n belangrike bron van inkomste vir die ekonomie. “Die ontwikkeling van die landbousektor is belangrik om voedselsekerheid te verbeter en beleggings te lok.”

Ramaphosa het gesê deur die versnelde program van grondhervorming gaan die uitset uit die landbousektor uitgebrei word en ekonomiese insluiting bewerkstellig word.

Hy het gesê as deel van die stimuluspakket vir landbou is aansienlik belê in uitgebreide ondersteuning vir die ontwikkeling van boere om te verseker dat grond wat teruggegee is en kommunale grond produktief aangewend word.

“Ons sal voortgaan om spesifieke vaardighede te prioritiseer vir ontwikkeling en met die kapasiteitsbouprogramme vir klein boere en opkomende swart boere.

“In die komende jaar sal ons voortgaan om te fokus op landbouprodukte met hoë waarde, met uitvoerpotensiaal soos ons vrugte, wyn, groente, sowel as pluimvee en rooivleis.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.