Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Dié Steinhoff verklaar ’n vet dividend

Dit kan gewone beleggers dalk stomslaan, maar daar is ’n Steinhoff-maatskappy wat nog dividende verklaar.

Steinhoff Investments, volfiliaal van Steinhoff International, het 'n dividend aan aandeelhouers verklaar.

Dié maatskappy is Steinhoff Investments, wat ’n volfiliaal van die Nederlands-opgerigte Steinhoff International Holdings is.

Steinhoff Investments se notering op die JSE is ’n jaar gelede opgeskort omdat hy nie sy jaarstate vir die boekjaar tot einde September 2017 betyds uitgereik het nie.

Steinhoff Investments het Woensdag aangekondig ’n dividend van 418c per aandeel word aan die voorkeuraandeelhouers betaal wat sy 15 miljoen voorkeuraandele hou. Dit beteken R62,7 miljoen word uitbetaal aan die houers van die voorkeuraandele. Dit is beleggers by wie die maatskappy geld ingesamel het.

Dit is die derde keer sedert die bom in Desember 2017 by Steinhoff International gebars het, dat dié maatskappy ’n dividend verklaar.

Heather Sonn, ’n nie-uitvoerende direkteur, en Louis du Preez, ’n direkteur van Steinhoff Investments, wat onderskeidelik ook die voorsitter en waarnemende uitvoerende hoof van die moedermaatskappy is, het die verklaring uitgereik.

steinhoff
Heather Sonn, voorsitter van Steinhoff.

Steinhoff Investments het terselfdertyd aangekondig sy jaarstate vir die boekjaar tot einde September 2017 gaan na verwagting nou einde Mei uitgereik word.

Dit is nog onseker wanneer sy resultate gaan uitkom.

In Desember het die moedermaatskappy gesê sy jaarresultate gaan na verwagting middel April uitgereik word en Steinhoff Investment s’n kort daarna.

Die datum wat Steinhoff nou toon vir die uitreiking van sy resultate vir die 2017- en 2018-boekjare is 18 April.

Ook op Steinhoff Investments se jaarstate vir die boekjaar September 2016 kan nie meer staatgemaak word nie.

Begin Januarie 2018, nadat die bom by Steinhoff gebars en sy aandeelprys oor ’n afgrond getuimel het, het die maatskappy in ’n verklaring beleggers ingelig die ongerymdhede met sy boeke raak ook die gekonsolideerde finansiële state van Steinhoff Investments op grond van sy eienaarskap van sekere Europese filiale tot 1 April 2016. “Daarom gaan die 2016- en 2015- finansiële state van Steinhoff Investments ook hersaamgestel word.”

Die maatskappy het toe gesê hoewel die ondersoek oor die ongerymdhede met sy boeke nog nie afgehandel is nie, gaan die finansiële state van Steinhoff Investments vir die jare voor 2015 waarskynlik ook hersaamgestel moet word.

In die 2016-jaarstate is gesê Steinhoff Investments het sy aandele in Steinhoff Finance Holdings GmbH aan sy moedermaatskappy Steinhoff International Holdings N.V. as ’n dividend in spesie versprei. ’n Wins van R178 miljard is daaruit gerealiseer.

In die maatskappystruktuur besit Steinhoff Investments 100% van Steinhoff Africa Holdings, wat weer 100% van Ainsley Holdings besit, wat die regstreekse beheermaatskappy van Pepkor is.

Pepkor het op 21 Januarie ’n dividend aan sy aandeelhouers betaal.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.