Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Solidariteit kap weer na Discovery se swart-skema
Een van Solidariteit se advertensieborde langs die N1.

Solidariteit het enorme advertensieborde langs die N1 opgerig wat Suid-Afrikaners maan om “nee” te stem vir Discovery se nuwe digitale bank.

Dié bank maak aanstaande maand sy virtuele deure oop.

Die geskil tussen Discovery en Solidariteit spruit uit eersgenoemde se plan om aan swart deposante van sy nuwe bank ’n 10%-belang in die maatskappy te gee.

Volgens Solidariteit kom dit neer op diskriminasie teen wit mense.

Die vakbond betwis reeds sedert November Discovery se plan vir ’n swart-aandeleskema, maar het nou sy taktiek opgeskerp om hoofsaaklik wit Suid-Afrikaners af te raai om verder sake met Discovery te doen.

Solidariteit, tesame met die burgerregteorganisasie AfriForum, het aangedui hulle is bereid om lede by te staan wat van mediese fonds wil verander as Discovery nie sy planne laat vaar nie.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, en Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het in November met Adrian Gore, uitvoerende hoof van Discovery, vergader om die saak te bespreek. Hoewel die vergadering “reguit en eerlik” was, kon die partye nie tot ’n vergelyk kom nie.

Lees ook: Solidariteit, AfriForum hoor Discovery hou by plan

Aan die vooraand van die bank se bekendstelling het Solidariteit sy veldtog teen Discovery se “rasseplan” verskerp. Die advertensieborde langs die N1 vorm deel daarvan.

Dit is nie duidelik hoeveel borde Solidariteit opgerig het of wat dit die vakbond gekos het nie.

In ’n verklaring sê Hermann Discovery verander homself in ’n staatsdepartement “sonder om te blik of te bloos”.

“Discovery het dieselfde rasse-ideologie as dié van die regering – een waar jou waarde in jou velkleur gesetel is.”

Volgens Solidariteit wens “alle wit Suid-Afrikaners” net dat hulle as Discovery-kliënte as “ewe waardevol” beskou word, ongeag velkleur.

'n Woordvoerder vir Discovery het Woensdag gesê die maatskapy neem kennis van Solidariteit se petisie, maar beskryf homself as "diep patrioties" en "beginselgedrewe".

Die maatskappy herhaal dat daar sowel ’n duidelike morele verpligting as ’n wetlike vereiste is vir die maatskappy om sy bydrae tot die transformasie van die samelewing te lewer. 

Daarom gaan Discovery R13 miljard oor die volgende vyf jaar in Suid-Afrika belê en sy bank speel 'n wesenlike rol hierin. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.