Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff-beleggers kan teen April weet wat fout was

Steinhoff gaan eers middel Maart die finale verslag oor die forensiese ondersoek na ongerymdhede met sy boeke kry, en beloof om voor 18 April aan beleggers inligting daaroor te verskaf.

steinhoff
Steinhoff was altyd die hoofborg van die Maties-rugbyspan. Foto: Getty Images

Dít hang egter af van ’n hofgeding wat tans oorsee aan die gang is en of dit ’n vertraging gaan meebring, sê Louis du Preez, nuwe uitvoerende hoof, in die kwartaalverslag van Steinhoff.

PwC is in Desember 2017 aangestel om ’n ondersoek oor die ongerymdhede met Steinhoff se boeke te doen.

Die forensiese ondersoek sou einde 2018 afgehandel word, maar is in Desember uitgestel tot einde Februarie.

Vandag is in die kwartaalverslag van die groep tot einde Desember gesê die direksie sal die verslag eers middel Maart kry.

“Die maatskappy verwag om die mark met ’n oorsig van die verslag te verskaf vóór die groep sy 2017- en 2018-jaarstate uitreik,” het Du Preez belowe.

Hy het gesê die proses om die jaarstate vir 2017 en 2018 te voltooi (wat al onderskeidelik in Desember 2017 en Desember 2018 uitgereik moes word), is kompleks en veeleisend.

“Ongelukkig het dit tot ’n verdere vertraging in die uitreiking van die jaarstate gelei, maar ons glo vas die spanne vorder goed om albei op 18 April uit te reik...”

Dit is egter onderhewig aan ’n regsgeding oorsee en of dit ’n oponthoud gaan skep.

Dit is ’n verwysing na ’n maatskappy van die Oostenryker Andreas Seifert wat ’n regsgeding begin het wat dalk ’n ooreenkoms van ’n belangrike filiaal van Steinhoff met sy skuldeisers kan pootjie. Seifert is verlede jaar deur Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, daarvan beskuldig dat hy tot al die probleme by die maatskappy aanleiding gegee het.

Die hooggeregshof in Engeland het ingewillig om die aansoek vinnig aan te hoor en dit gaan voor einde Maart aangehoor word.

Meer as ’n jaar sedert die ineenstorting van Steinhoff se aandeelprys ná aantygings oor ongerymdhede met sy boeke is beleggers steeds in die duister oor die gebeure.

Volgens Du Preez gaan die oorsig oor die forensiese verslag wat beleggers gaan kry, beperk wees sodat “die geprivilegieerde aard van die verslag nie ondermyn word nie en sodat die maatskappy se posisie in verskeie regsgedinge, insluitende stappe wat geneem gaan word om geld terug te kry, nie in gevaar gestel word nie.”

Volgens Du Preez gaan Steinhoff na gelang van die forensiese ondersoek regstappe teen derde partye begin.

“Die forensiese ondersoek is omvattend en kompleks en het onder meer interaksie benodig met Deloitte, wat die groep se ouditeursfirma is, wetstoepassers, Steinhoff-entiteite, asook huidige en voormalige personeellede.”

Die groep gaan nog voort om met wetstoepassers te skakel en hulle in te lig oor die vordering wat gemaak word.

Meer oor:  Markus Jooste  |  Steinhoff-Skandaal  |  Bedrog  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.