Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Tabakgroepe sal nie pyp kan rook met al dié eise
Foto ter illustrasie.

British American Tobacco (BAT) se filiaal in Kanada, Imperial Tobacco, het aansoek gedoen om sakeredding onder Kanadese wetgewing om sy sake te beskerm nadat ’n groot hofgeding onlangs geslaag het wat hom miljarde dollar gaan kos.

Imperial het ’n voorlopige hofbevel van die hooggeregshof in Ontario, Kanada, gekry om beskerming te kry ingevolge die wet wat ’n insolvente maatskappy se reëlings met krediteure beheer.

Volgens BAT is dit nodig om alle regsgedinge in Kanada teen Imperial en ander maatskappye in die groep op ys te plaas.

Imperial het die aansoek om beskerming gebring nadat die appèlhof in Quebec op 1 Maart die bedryf gesamentlik vir altesaam K$13,6 miljard aanspreeklik gehou het.

Die appèlhof het die uitspraak van die hooggeregshof van Mei 2015 bekragtig.

Die uitspraak kom ná ’n regsgeding teen Imperial en die Kanadese filiale van die tabakreuse Philip Morris International en Japan Tobacco International wat byna 20 jaar voortgesleep het.

Die eis teen hulle is namens twee groepe eisers gebring – mense wat jare gerook het en voor 12 Maart 2012 met long-, keel- en larinkskanker of emfiseem gediagnoseer is, asook rokers wat verslaaf is aan nikotien toe die regsgeding in September 1998 begin het en steeds tot Februarie 2005 verslaaf was.

Imperial se gedeelte van die eis beloop sowat K$9,2 miljard. Imperial het reeds $758 miljoen in bewaring geplaas. Sowat $436 miljoen daarvan gaan ’n koste op die BAT-groep se inkomstestaat vir 2019 wees.

’n Woordvoerder van BAT het twee weke gelede gesê hulle is “uiters teleurgesteld” in die hofuitspraak.

“Ons glo steeds die uitspraak is verkeerd en ignoreer die werklikheid dat volwasse verbruikers en die regering al dekades reeds weet wat die gevare van rook is. Ons het dus geglo dat die uitspraak tersyde gestel gaan word.”

Ons glo steeds die uitspraak is verkeerd en ignoreer die werklikheid dat volwasse verbruikers en die regering al dekades reeds weet wat die gevare van rook is.

Imperial se aansoek kom nadat Japan Tobacco International se filiaal JTI-Macdonald ook ’n aansoek om sakeredding gebring het, en dit toegestaan is.

Indien Imperial nie beskerming gekry het nie, sou hy vir alles of ’n deel van JTI-Macdonald se skuld in die Quebec-bevel moes opdok, het BAT in ’n verklaring op die JSE se Sens-nuusdiens gesê.

Volgens BAT is die aansoek om beskerming gebring omdat daar provinsiale regerings en ander eisers is wat gesamentlik meer skadevergoeding eis as wat Imperial se totale bates beloop.

Deur beskerming onder die wet te kry, sal Imperial probeer om ’n skikking te bewerkstellig in die Quebec-saak, asook al die ander regsgedinge in Kanada, in ’n ordelike proses waaroor die hof toesig hou terwyl hy soos gewoonlik met sy bedrywighede voortgaan.

BAT sê hy sal voortgaan om Imperial se resultate in syne te konsolideer, en dit sal nie sy skuldverhouding negatief raak nie.

Die klandisiewaarde van £2,3 miljard van Imperial op BAT se balansstaat sal gereeld hersien word.

BAT ontvang reeds sedert 2014 geen dividende van Imperial nie en die situasie gaan voortduur terwyl die hofbevel die beskerming aan die Kanadese filiaal verleen.

BAT sê dit sal egter nie ’n uitwerking op sy dividend-betalings of -beleid hê nie.

BAT se aandeelprys het Woensdag met meer as 1% gedaal.

Dit was begin Maart onveranderd toe dié nuus aan die lig gekom het.

Meer oor:  British American Tobacco  |  Dagvaarding  |  Rook  |  Sigarette  |  Tabak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.