Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Kies só jou finansiële adviseur met omsig

Daar is tog ’n hemelsbreë verskil tussen iemand wat ’n doktorsgraad in filosofie het en iemand wat ’n doktersgraad in breinchirurgie het. Net so is die konsep van “finansiële adviseur” ’n baie breë een. Maak dus seker waarmee jy te doen het om teleurstelling te voorkom.

     

Finansiële behoeftebepaling

  

In sy mees basiese vorm is finansiële beplanning ’n behoeftebepalingsproses gevolg deur ’n produk-aanbeveling.

Andró Griessel

Hierdie proses is gewoonlik stelselgedrewe. Daar word ’n paar vrae gevra en dit word in ’n program ingevoer wat dan ’n verslag uitskop wat aantoon waar jy potensieel probleme kan kry in jou beplanning.

Die terugvoering gaan dan gewoonlik met ’n produk-aanbeveling gepaard en normaalweg moet ’n mate van prioritisering plaasvind, aangesien die behoefte dikwels groter is as wat die kliënt se begroting toelaat.

Is daar noodwendig fout met hierdie benadering, of doen die finansiële adviseur in hierdie geval skade? Waarskynlik nie, maar as dit is waar die adviesproses eindig, vermoed ek ’n robot gaan oor ’n paar jaar – indien nie reeds nie – hierdie funksie beter kan verrig as die betrokke adviseur.

  

Welvaartbestuur

  

Wanneer jy egter ’n professionele finansiële adviseur kontrakteer om ’n langtermynbydraer tot jou welvaartskeppingsproses te word, is dit ’n gans van ’n geheel en al ander dam.

As ek aanvaar die gemiddelde professionele beplanner vra sy kliënt iewers tussen 0,5% en 0,85% (BTW ingesluit) per jaar op die waarde van die beleg­gings­bates onder bestuur, raak die gesprek oor “wat doen jy nou eintlik vir dié geld” nie ’n moeilike een nie.

Ingesluit by bogenoemde doen die professionele finansiële beplanner onder meer die volgende vir sy/haar kliënte:

Maak seker die kliënt loop genoeg risiko: Uit ervaring weet ek mense wat hul “eie ding” doen, belê dikwels te konserwatief of, nog erger, spring rond tussen aggressiewe en konserwatiewe beleggings of neem geweldige konsentrasie-risiko (soos mense onlangs op die harde manier met Steinhoff geleer het). Net hierdie ingryping alleen vergoed waarskynlik oor tyd reeds die totale gelde wat die adviseur hef.

  • Adviseer oor strategiese en taktiese batetoewysing: Die meeste kliënte het nie die vaagste benul wat die doel van bate-toewysing is nie, al is dit die grootste bewese bydraer tot langtermynprestasie en risikobestuur.
  • Testament-oudit en -hersiening: Ten opsigte van uitvoerbaarheid, regverdigheid, kostedoeltreffendheid en belastinggunstigheid.)
  • Optimalisering van finansiële struktuur (dikwels in oorleg met die ouditeur) ten opsigte van inkomste-, dividend-, kapitaalwins- en boedelbelasting.
  • Jaarlikse hersiening en optimalisering van risikodekking: Wat dít betref, vind grootskaalse vermorsing in die later stadiums van mense se lewe plaas, dikwels tot nadeel van die bereiking van aftree-doelwitte.
  • Prestasie-beoordeling van beleggings: Om te meet is om te weet.
  • Algemene bate-advies – van die aanskaf van ’n voertuig (kontant vs. finansiering) tot die koop of verkoop van ’n primêre woning en watter aanbod aanvaar of gemaak behoort te word.
  • Raad oor vroeë aftrede of die aanvaar van ’n pakket of om ’n onderneming te koop. Dit is soms ’n finansiële adviseur se groot-ste waardetoevoeging tot ’n kliënt se welvaartskepping om hulle af te raai om dié stappe te doen. (Dit geld natuurlik nie almal nie.)
  • Aftreeraad: Raad oor pensioen neem vs. ’n enkelbedrag-uitbetaling of ’n lewende annuïteit vs. ’n gewaarborgde annuïteit. Mense neem hierdie besluite sonder veel oordenking, dikwels met katastrofiese gevolge. 
  • Bywoning van trustee/familie- vergaderings, dikwels nauurs tot laat in die nag.
  • Onderhandelings met produkverskaffers wanneer eise onder risiko-dekking afgekeur of verminder word of wanneer die premie vir voordele belaai word.
  • Skakeling met ouditeure wanneer belastingopgawes ingevul moet word.
  • Om soos die “ouer” in die verhouding op te tree wanneer gulsigheid mense die vrugte van jare se harde werk wil laat waag op ’n “onteenseglike wenner”.
  • Inkomstebestuur ná aftrede om seker te maak jou geld hou langer as jy.
  • Hulp met begrotingsbestuur waar die voorafgaande (dat jou geld langer gaan hou as jy) nie ’n uitgemaakte saak is nie.
  • Verlaging van die koste van gedragsprobleme (koop hoog, verkoop laag) wanneer markte op ekstreme vlakke begin beweeg. 
  • Die kies van fondsbestuurders van goeie gehalte uit ’n legio van gemiddeldes.

Dit sal nie baie dinkwerk verg om hierdie lys uit te brei nie, maar jy behoort die prentjie te kry.

As jou adviseur bestuursgelde op beleggings onder bestuur verhaal en hy/sy is ’n kundige op die gebied van beleggings en veral die bestuur van emosies ten opsigte van beleggings, kry jy met ’n baie groot mate van sekerheid reeds sy/haar waarde in die vorm van hoër langtermynopbrengste (teenoor wat jy op jou eie sou gegenereer het).

’n Finansiële adviseur help jou om op lang termyn welvaart te skep. Dit sluit in om te keer dat jy deur ondeurdagte besluite jare se harde werk ongedaan maak. Foto: istock

Die res van die lang lys van dienste en waardetoevoeging kry jy dus gratis. Hierdie stelling is waarskynlik waar vir 95% van mense wat ek daagliks teëkom.

Die 5% wat so finansieel geletterd en emosioneel sterk is dat hulle nie die hulp van ’n finan­siële “afrigter” nodig het nie, hoef mos nie een te gebruik nie.

Ek wonder egter altyd wat word van die gade, wat nie noodwendig dieselfde eienskappe het nie, wanneer hierdie persoon sy/haar kop neerlê en die gade op ’n rype ouderdom vir die eerste keer ’n wildvreemde persoon in haar/sy vertroue moet neem oor geldsake.

Einstein het gesê saamgestelde rente is die agtste wonder van die wêreld en dat diegene wat dít verstaan, dit verdien, en diegene wat dit nie verstaan nie, dit betaal.

Die langtermynuitwerking van onder meer klein verbeterings in jou algemene besluitneming, besparing in koste, verkryging van beter opbrengste, besparing in belasting, kan oor tyd ’n astronomiese verskil in jou welvaartskeppingsproses teweegbring.

Ten slotte ’n paar wenke oor hoe om die breinchirurg (in alle gevalle verwys “hy” ook na “haar”) in plaas van die filosoof by die operasietafel te kry:

  • Jy sal hom moet gaan vind. Hy gaan jou nie uit die bloute bel vir ’n “gratis” konsultasie nie.
  • Jy sal heelwaarskynlik by sy kantoor met hom moet gaan praat. Daar hang waarskynlik ’n CFP-sertifikaat (gesertifiseerde finansiële beplanner) teen die muur. Die persoon het ’n bewysbare geskiedenis van goeie beleggingsbesluite.
  • Die persoon sal nie ’n probleem daarmee hê om te verduidelik presies hoe en hoeveel hy betaal word nie. (90% van probleme in die finansiëledienstebedryf begin by ongesonde vergoedingsmodelle.)
  • As jy nie ná die eerste afspraak wegstap met die wete dat hy ’n kundige op sy gebied is en nie ’n verkoopsagent nie, verander jou stap in ’n draffie!

Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Kontak hom by info@proverte.co.za. Hy skryf gereeld vir Sake.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.