Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Tegeta vra weer dat Oakbay gelikwideer word

Regstelling: In ’n vorige weergawe van die berig is verkeerdelik geskryf dat aansoek om Tegeta se likwidasie gedoen word.

’n Aansoek om die likwidasie van die Guptas se Oakbay Investments is weer by die hof ingedien omdat hy nie sy skuld aan nóg ’n Gupta-maatskappy, Tegeta Exploration and Resources, kan betaal nie.

Dis die tweede keer dat ’n aansoek vir Oakbay se likwidasie ingedien word; einde verlede jaar is likwidasie tydelik afgeweer.

Die bord by die Optimum-steenkoolmyn in Mpumalanga.

Die sakeredder Kurt Knoop het Maandag namens Tegeta ’n aansoek om Oakbay te laat likwideer by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien.

Luidens die beëdigde verklaring wat dit vergesel, vra Tegeta die likwidasie omdat Oakbay nie sy agterstallige huur aan hom kan betaal nie. Tegeta hou ’n groot belang in die omstrede Optimum-steenkoolmyn wat steenkool aan Eskom lewer.

Die aansoek van 98 bladsye verduidelik dat Oakbay R3,8 miljoen se huurgeld aan Tegeta skuld, met geen vooruitsig dat hy dit sal kan delg nie.

Luidens die dokumente het Tegeta en Oakbay sedert 2013 ’n huurooreenkoms waarvolgens Oakbay teen R150 000 per maand kantoorruimte in Tegeta se kantore in Sandton, Johannesburg, huur.

Dit is egter nooit betaal nie.

Daar is geen vooruitsig dat die respondent (Oakbay) ooit weer in staat gaan wees om ’n bankrekening in Suid-Afrika oop te maak nie.
Kurt Knoop

Luidens die verklaring reageer Oakbay ook nie op aanmanings dat hy die skuld, plus rente, moet betaal nie.

Knoop sê in sy verklaring hoewel Tegeta al die regte prosesse gevolg het, het dit misluk en hy het nou geen ander keuse as om aansoek om likwidasie te doen nie.

Knoop wys ook daarop dat Oakbay geen bankrekening het waarmee hy die skuld kan betaal nie.

Dit kom nadat alle Suid-Afrikaanse banke die rekeninge van Gupta-maatskappye gesluit het.

Bank of Baroda het wel dié rekeninge oorgeneem, maar het in 2018 besluit om hom eerder aan Suid-Afrika te onttrek, wat daartoe gelei het dat die maatskappye geen bankgeriewe meer gehad het nie.

“Daar is geen vooruitsigte dat die respondent (Oakbay) ooit weer in staat gaan wees om ’n bankrekening in Suid-Afrika oop te maak nie.

“Onder dié omstandighede is daar geen vooruitsigte dat die respondent ooit weer ’n transaksies as ’n sakeonderneming in Suid-Afrika sal kan sluit nie," lui die verklaring.

Tegeta het ook op 11 September 2018 aansoek om Oakbay se likwidasie gedoen – om dieselfde rede – maar toe het Oakbay wel van die uitstaande skuld betaal.

Gupta-skuld

Luidens die verklaring skuld die onderskeie Gupta-maatskappye in sakeredding tans sowat R4 miljard.

Dit sluit die Optimum- en die Koornfontein-steenkoolmyn, die Optimum-steenkoolterminus in Richardsbaai en Shiva Uranium in.

Sowel Tegeta as Oakbay se enigste bates is hul belang in dié maatskappye. Tegeta het ’n belang in almal terwyl Oakbay net ’n belang in Shiva het.

Knoop sê met dié skuld en geen ander bron van inkomste nie, is daar geen kans dat die maatskappye volhoubaar sal wees nie.

Die sakeredders beplan om die Optimum- en die Koornfonteinmyn en die terminus aan Project Halo te verkoop.

Bouwer van Niekerk, die prokureur wat die verkoop van die bates behartig, het voorheen aan Netwerk24 gesê hulle wag net vir Eskom se goedkeuring as grootste krediteur voordat die transaksie beklink word.

Lees ook: Optimum: Sakeredders op hete kole oor Eskom sloer

Project Halo het aan die einde van 2018 ’n bod van R3,6 miljard vir die bates ingedien. Project Halo word deur die Australiese bank Macquarie gerugsteun.

Eskom het nog geen besluit oor die transaksie geneem nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.