’n TV-held kan in verskillende vorms voorkom: Die visserman met ’n gebroke hart, die skrywer met ’n hartseer verlede, die dokter wat ’n rockster is en ’n wetenskaplike wat die wêreld probeer red.
Oor die jare het talle Afrikaanse reekse helde bevat wat kykers se knieë behoorlik lamgemaak het.
Hier is ’n paar van hulle uit TV-land:
Arende (1989 – 1992)
Die held? Sloet Steenkamp (Ian Roberts)
Waaroor gaan dit? Die Paul C. Venter-reeks speel af in die Anglo-Boereoorlog. Die boer Sloet rebeleer teen die Engelse en is getroud met Annette Steenkamp (Libby Daniels, Susan Beyers). In dieselfde asem word die liefdesdrama tussen die Engelsman kaptein James Kerwin (Gavin van den Bergh) en die pragtige rooikop Jo-Ann Wilks (Jocelyn Broderick) vertel.
Meeulanders (1996)
Die held? Jacob Langhans (André Roothman)
Waaroor gaan dit? Die gebroke Ryna van Rensburg (Michele Burgers) vlug na die eiland van Meeuland aan die Weskus. Haar pad kruis met die visserman Jacob Langhans (André Roothman). Stadig begin die twee karakters vir mekaar lief raak.
Erfsondes (2007 – 2017)
Die held? Chris Spencer (Emmaneul Castis)
Waaroor gaan dit? In seisoen 1 is Kate Ferreira (Jana Strydom) op die spoor van haar biologiese ouers. Haar pad kruis met die van ryk sakeman Chris. Hulle raak verlief, maar verskeie stokkies word voor hul liefdespad gesteek.
Song vir Katryn (2003 – 2004)
Die held? Jinx (Valiant Swart)
Waaroor gaan dit? ’n Moderne Aspoestertjie, die pragtige Katryn Bekker (Therese Bam) probeer die trauma van haar kinderdae ontduik. Sy vang die oog van die mediese dokter Jinx wat saam met sy band by dieselfde restaurant speel waar sy as kelnerin werk. Dieselfde aand verloor Katryn haar werk. Jinx probeer haar hart wen, maar sy is huiwerig om iemand naby haar toe te laat.
Die Boekklub (2016-2019)
Die held? Tom Niemandt (Armand Aucamp)
Waaroor gaan dit? Tom is ’n aspirante skrywer wat na die Karoodorp Merweville reis. Daar ontmoet hy interessante mense wie ’n boekklub het. Een van hulle is die kunstenaar en fotograaf Lillie (Christia Visser).
Ballade vir ’n Enkelling (1987 – 1993)
Die held? Jacques Rynhard (Gavin van den Berg)
Waaroor gaan dit? Jacques, ’n bekende skrywer, daag nie op om sy letterkundigeprys te ontvang nie. Die joernalis Carina Human (Karin Fourie) begin sy verlede oopkrap, wat sy vriendskap met Lena Aucamp (Selma van der Vyver) en Jan-Paul Otto (Alwyn van der Merwe) insluit.
Die Sonkring (1991)
Die held? Neil MacDonald (Philip Moolman)
Waaroor gaan dit? Drie skoolvriendinne, Maryna du Plessis (Anna-Mart van der Merwe), Karen Hattingh (Henriette Gryffenberg) en Dina Delport (Chantelle Stander) besoek ’n fortuinverteller. Maryna ontvang die nuus dat sy alleenlik die oorsaak gaan wees vir tragedie in al drie se lewens. Jare later herenig die vriendinne en Maryna ontmoet vir die politikus Neill.
Een Skoenlapper (2002)
Die held? Braam Steenberg (Chris Vorster)
Waaroor gaan dit? Die oliegroep Alpha Petrolium boor onwettig vir olie in Antartika. ’n Die fossiel van ’n prehistories skoenlapper word gevind wat ’n dodelike virus huisves en versprei. Dr. Svetlana Bloem-Coetzee (Anriëtte van Rooyen) en die mikrobioloog Braam moet nou die mensdom red.
Die Mannheim-Sage (1986)
Die held? Kit Malloy (Hans Strydom)
Waaroor gaan dit? Deborah von Albein (Sandra Prinsloo) verlaat haar familieplaas en verhuis na die stad van goud. Daar ontmoet sy twee mans die ryk Karel Mannheim (Richard van der Westhuizen) en die ’n ambisieuse dobbelsaloneienaar Kit, wie arm grootgeword.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET