Boer soek ’n vrou-aanhangers is in vervoering sedert Maandag toe boer Niel en Chereze se verlowing bekend gemaak is. 

Hul liefdesverhaal is sowaar ’n bewys ... om ’n kans op liefde te waag is beslis nie ’n slegte idee is nie, selfs al is dit op TV. Ja, dit was Chereze se vriendin wat haar aangemoedig het. Met die bekendstelling van seisoen 13 se boere het Niel dadelik haar oog gevang. So óók was haar brief aan Niel die begin van ’n besonderse liefdesverhaal.

Chereze se ingesteldheid was van dag 1 af in die kol en hul onlangse verlowing getuig hiervan:

“Ek was bitter opgewonde, maar ook baie bang omrede jy jou hart en jou emosies oopmaak. Ek het net besluit ek gaan dit doen, as dit nie meant to be is nie, gaan ek nie verder as die top 10 gaan nie. If it’s meant to be gaan dit wat moet gebeur, gebeur.”

Die groot oomblik

FOTO Inecke Photography

“Toe ek omdraai en Niel op sy knie sien staan, het ek geweet wat kom. Ek was net uit die veld geslaan! Hoewel Niel so ’n paar maande terug al random vrae oor ringe gevra het, het ek nie gedink ’n ring is al gemaak nie. Ek het gedink die vraag sou een of ander tyd opduik, maar ek het dit nie op daardie tyd en plek verwag nie.”

Sewende hemel!

Dis ’n ongelooflike gevoel om verloof te wees, verklap Chereze. Maar dis baie meer as daai diamant wat blink op jou ringvinger. “Vir my is dit ’n teken van sekerheid oor die toekoms, wat ons nou saam gaan bou en aanpak. Die feit dat ek aan so ’n ongelooflike man verloof is, is ook baie oorweldigend, aangesien ek weet dat my beste vriend ’n ongelooflike man gaan wees!”

FOTO Inecke Photography

Verloofdes wil nie lank wag

As grimeerkunstenaar en haarstilis is die trouseisoen altyd vir Chereze ’n besige tyd. Maar hulle wil graag nie te lank wag voordat hulle trou nie. “Daar moet natuurlik baie beplan en gespaar word, maar so gou as wat ons kan. Ek dink die ideale tyd is gedurende die lente of herfs,” sê Chereze.

En haar droom troubestemming? “Ons land het ongelooflike mooi venues, so vir my sal dit so moeilik wees om op een te besluit! Ek hou nogal van ’n bos of berg area - dit maak die mooiste foto’s. Die venue moet natuurlik rolstoel-vriendelik vir my pa wees en ’n groot dansbaan hê!”

Om ’n ongelooflike dag saam met haar naastes te geniet en om lekker te kan eet en dans, is heelbo aan Chereze se lys.

FOTO Inecke Photography

Die ring

Haar ring pas haar perfek. Niel het beslis mooi gekies. “Dis presies waarvan ek hou. Niel het baie mooi geluister wanneer ek per toeval oor ’n ring gepraat het. Ek is mal oor roosgoud en dan enige, pienkerige, perskekleur, geel of bruin steen. En dis presies wat dit is. Dis eenvoudig, maar mooi! En ek is nogal ’n less is more mens en dié ring pas perfek by my persoonlikheid - eenvoudig, anders en uniek!”

FOTO Verskaf

En wat sê Marciel?

Die Boer soek ’n vrou-aanbieder Marciel Hopkins is oorstelp van vreugde.

“Ek wens vir hulle ’n leeftyd se liefde en geluk toe. Hulle het ’n ongelooflike mooi en spesiale liefdesverhaal wat mense weer hoop gee vir ’n tweede kans op liefde en dat jy wel jou sielsgenoot kan ontmoet nadat jy hartseer ervaar het. Hulle is vir my ’n simbool van mense wat ’n tweede kans gevat het en wel geluk gevind het. Ek is net ongelooflik dankbaar om ’n klein deeltjie van hulle journey te kon sien en daarvan te kon deel wees. Ons deel ook ’n verlowingsdatum! Ons het presies ’n jaar voor hulle verloof geraak, die 24ste Julie.”

* Ons het vroeër vanjaar met Chereze gesels. Lees meer hier.

Soek jy ook liefde?

Die 10 boere vir die 14 de seisoen van Boer soek ’n vrou is onlangs bekendgemaak. Pasmaats het nog kans om tot Donderdag 29 Julie voor middernag vir hulle te skryf. Kliek hier vir meer inligting.