’n Ikoniese voorblad, en die inspirasie vir ons twee verjaardagvoorblaaie. Die heel eerste uitgawe van Sarie Marais het ’n nuwe standaard vir tydskrifvoorblaaie in SA gestel.
Nou nog is dié voorblad ’n gesprekspunt: twee vroue, die een modern, toekomsgerig, haar voorkoms Dior-geïnspireerd; die ander ’n skimbeeld van ’n Voortrekkervrou wat sê dat die tydskrif die baanbrekerswerk sou voortsit van die eerste Afrikaanse vrouetydskrif, Die Boerevrou (1919-1931).
Dié maand se twee voorblaaie met Rolene Strauss sê saam wie die SARIE-leser is: sterk en stylvol; die skimbeeld hierdie keer die jong vrou van die 1949-voorblad wat SARIE se gesprek met derduisende Afrikaanssprekende vroue oor 70 jaar begin het.