Die voormalige Binnelanders-aktrise Pascal Pienaar het die afgelope naweek verloof geraak aan haar beminde, Ryno Olivier.

Die paartjie, wat al meer as ’n jaar saam is, het die goeie nuus op Instagram gedeel. “My gebede is verhoor,” het Ryno van hom laat hoor. “Nooit gedink dit sal my beurt wees nie. Dankie vir al jou liefde my Ryno Olivier en my adelike saffier,” het ’n opgewonde Pascal geskryf.

View this post on Instagram

A post shared by ? ???????? ?????????????? ? (@rynoolivier_)

Die ring laat ons onmiddellik aan die hertogin van Cambridge, Kate Middleton, se verloofring laat dink. Die einste ring wat eens aan ontslape prinses Diana se vinger gepronk het. 

12 diamante omring ’n indrukwekkende saffier van 3.4-karaat, verklap Pascal op haar Instagram-stories.

Kyk net hoe mooi lyk haar ring:

Sy is nie al bekende wat in die 7de hemel is nie. Die Afrikaanse sanger Demi Lee Moore het verloof geraak aan haar jarelange kêrel en toerbestuurder, Barthlo Visagie. Sy skryf op Instagram: “Jy het my hele hart oorwin met jou gawe natuur, jou sagte menswees en jou oorvloed van liefde vir my. Ek is onbeskryflik lief vir jou my engel. Gister was die beste dag van my lewe, ek kan nie wag om met jou te trou nie.”

Só het die groot vraag afgespeel:

In haar voorblad-onderhoud van SARIE se April 2020-uitgawe vertel sy hoe haar en Barthlo se paaie gekruis het. Hier volg die uittreksel:

Die sewende oudisie was toe nie net suksesvol nie, maar sou haar boonop laat paaie kruis met die liefde van haar lewe, Barthlo Visagie. “Vir daardie laaste oudisie het ek besluit ek moet iets anders probeer om uit te staan en gaan koop toe ’n kitaar om myself te begelei. Ek kon glad nie speel nie, maar het myself twee liedjies geleer voor die oudisie net sodat ek ’n bietjie anders sou klink as al die ander deelnemers.”

Barthlo het in die musiekwinkel gewerk waar sy die kitaar gekoop het. “Ek het nogal vir my sussie gesê hy’s so oulik, as hy maar net ouer was – hy was toe 18 en ek 23. En vir die volgende twee jaar het ek hom net in die musiekwinkel gesien as ek ’n snaar gebreek het. Toe sien ek op ’n dag hy en sy nuwe musiekgroep het hul eerste optrede en besluit om te gaan kyk. Ons het die aand omgesels en is van toe af al saam – vyf jaar.”

En natúúrlik gaan hulle trou, sê sy sonder ’n oomblik se twyfel. “Barthlo is ’n ou siel, baie volwasse, en so koelkop. Ons bring al ons tyd saam deur en hy is absoluut my beste vriend – ons gaan nie eens 7-Eleven toe sonder mekaar nie. Ons toy pom, Pumpkin, is ons kind. Kyk, ons is liewer vir daardie hondjie as enigiets anders.”

Barthlo is deesdae ook haar toerbestuurder en hulle woon saam in Pretoria. Hy is ’n suksesvolle kitaarspeler en het al vir kunstenaars soos Elvis Blue en Jack Parow gespeel. “Hy’s ook al jare in die bedryf en verstaan wat dit verg. Ek sou nie oorleef het sonder hom nie. Al woon en werk ons saam, baklei ons nooit nie, want ons is al deur soveel saam. Dinge soos my suster se ongeluk, sy ma se stryd met skleroderma en toe haar dood drie jaar gelede. Ons is so dankbaar vir mekaar.”