Die hertogin van Cambridge, Kate Middleton, het nie net ’n jonger suster, Pippa, nie, maar ook ’n jonger broer, James. Die 32-jarige James is ’n kranige sakeman en groot diereliefhebber.

Hy besit sy eie maatskappy, Boomf, wat spesialiseer in verpersoonlikte geskenke, en lei ook toere by die Glen Affric-lodge naby Skotland. Hy word gereeld in die natuur en tussen diere afgeneem.

En een van die dae is hy ook ’n getroude man! Hy het Sondag op sy Instagram-blad met ’n selfie die nuus gedeel dat hy en sy Franse meisie, Alizee Thevenet, gaan trou.

Alizee se pragtige verloofring kan duidelik op die foto gesien word. Dit lyk baie soos haar toekomstige skoonsuster Kate Middleton se ikoniese verloofring, eens wyle prinses Diana se verloofring. Dit bestaan uit ’n groot blou saffier omring deur 14 kleiner diamante.

verloofring
FOTO Getty Images / Gallo Images

James en Alizee is glo al langer as ’n jaar in ’n verhouding. Volgens die Daily Mail het die twee ontmoet toe Alizee James se hond by die South Kensington-klub gegroet het. James het later vir ’n kelnerin gevra om vir haar ’n briefie te gee waarin hy haar nooi vir ’n drankie. Hulle het dadelik gekliek danksy hul groot liefde vir diere en die natuur.

Volgens Town and Country Magazine is Alizee ’n wêreldreisiger wat al in ses verskillende lande gewoon het – Chili, Indonesië, Frankryk, België, Duitsland en Engeland. Sy het ’n meestersgraad in finansiële bestuur en werk die afgelope ses jaar in die Londense bedryf. 

Loer hier na foto’s van die verliefde paartjie: